Ken jou storie: Die krag van woorde

Woorde het die krag om mens aan dinge te laat dink, dinge te laat beleef

Woorde het die krag om mens aan dinge te laat dink, dinge te laat beleef. Dit is immers een van die redes waarom ons lees. Die woorde op papier laat ons plekke in ons verbeelding “sien”. Sonder dat jy ooit self in die Knysnabosse was, weet jy hoe dit lyk uit die woorde van Dalene Matthee se boeke.

Sonder om ooit voet op ’n seilskip te sit, ervaar mens die branders en die wapperende seile en die krakende maste van ’n 17de-eeuse skip op die deinende sinne van Dan Sleigh se Eilande. Woorde laat ons toe om “mense” soos Bennie Griessel beter as ’n beste vriend te leer ken. Woorde laat mens gedagtes kry wat jy nie self kon uitdink nie, soos as Nathan Trantraal verduidelik dat wit nie ’n kleur is nie, maar ’n religion. Woorde het die krag om pyn waarvan jy al vergeet het, skielik weer deur jou hele lyf te laat trek.

Maar soms werk dit ook andersom. Soms sien mens iets en dit laat onwillekeurig woorde by jou opkom. Woorde wat jy al gedink het jy het vergeet, daag skielik uit die bloute by jou op wanneer jy iets sien. Ek ken nie Nederland nie, maar bly tans ’n paar maande hier. Miskien is dit as gevolg van die blootstelling aan die taal wat ek daagliks om my hoor, maar opeens, toe ek die druppels teen my dakkamerruit sien, skiet woorde wat ek meer as 35 jaar gelede as voorgraadse student moes lees my te binne:

“aan die bedroefde ruiten … beeft een druppel van regen … wêreld en ruim heelal: het is bevat in dit klein trilkristal”. Die woorde was destyds vreemd vir my. Die wêreld agter die woorde byna nog vreemder vir my stof-en-son-deurtrekte verbeelding. Waar was hierdie woorde al die jare? Tot nou? Skielik onthou ek ook dat dit ’n gedig van Leopold was, uit ’n pers bloemlesing: Van Leopold tot Achterberg. Maar gelukkig het ons internet:

Regen

De bui is afgedreven;
aan de gezonken horizont trekt weg het opgestapelde,
de rondgewelfde wolken;
over is gebleven het blauw, het kille blauw, waaruit gebannen
een elke kreuk, blank en opnieuw gespannen.
En hier nog aan het vensterglas aan de bedroefde ruiten beeft in wat nu weer buiten van winderigs in opstand was een druppel van de regen,
kleeft aangedrukt er tegen,
rilt in het kille licht…
en al de blinking en het vergezicht,
van hemel en van aarde,
akkerzwart, stralende waters,
heggen, het verward beweeg van mensen,
die naar buiten komen, ploegpaarden langs de weg,
de oude bomen voor huis en hof en over hen de glans der daggeboort,
de diepe hemeltrans met schitterzon, wereld en ruim heelal: het is bevat in dit klein trilkristal.

Wat een oomblik nog reëndruppels teen die ruit was, roep die woorde van Leopold op en skielik is hulle klein trilkristalle teen bedroefde ruite en elkeen bevat die hele wêreld. ’n Paar dae later loop ek deur ’n kunsgalery. Van skilderye weet ek gevaarlik min, maar ek voel myself verplig om die galerye te besoek. Dit is mos wat mens veronderstel is om in Europa te doen. Daar is baie sale vol skilderye. Aanvanklik kyk ek na elke skildery.

Naderhand is my voete seer. Ek begin vinniger beweeg en steek net vas by dié werke wat my beïndruk. (Waarskynlik om die verkeerde redes – meestal omdat hulle besonder groot is.) Ek sien beroemde werke deur Rembrandt, Vermeer en Rubens en staan lank daar stil. My rug word seer. Ek stap al vinniger. Ineens steek ek by ’n klein skildery vas. Oombliklik stroom daar woorde in my kop. My geheue is swak en die woorde is weer gebrekkig onthou, maar dit is woorde wat by die kyk na die skilderytjie by my opkom:

In iets van die presisie waarmee jy elke fase van die vrug verbeeld … vermoed ek ’n apteker … uit verf en vrugtepulp verkry, jou farmakon as dubbelgif teen die swartgalligheid”.

Marlene van Niekerk het ’n bundel gedigte geskryf na aanleiding van die skilderye van Adriaen Coorte – ’n relatief onbekende skilder uit die tweede helfte van die 17de eeu. Twee tree verder hang nog een van Coorte se skilderye, en die slotwoorde van die gedig oor hierdie skilder wat nie soos sy tydgenote geskilder het nie, en nie aan die skildersgildes behoort het nie, kom by my op:

“Jy … gaan gildeloos jou gang – ’n affineerder van die lig, bewonderaar van vyf oranje appelkose” Weens seer voete, ’n honger maag, onkunde oor die skilderkuns en aandagafleibaarheid sou ek waarskynlik nie stilgestaan het by Coorte se skilderye nie, maar hulle roep die woorde op en skielik oorweldig die twee klein en relatief onbekende skilderye my met betekenis.  

Send this to a friend