Willie Burger kyk na ‘n paar nuwe boeke op die rak
Willie Burger kyk na ’n paar nuwe boeke op die rak
Anna is terug – vir die hofsaak! Elbie Lötter se Dis ek, Anna het in 2006 verskyn en was dadelik ’n blitsverkoper. Meer as 50 000 eksemplare is verkoop en dit is in 2011 deur die Wes-Kaapse biblioteke as een van die belangrikste 100 boeke van die dekade aangewys. Die vertelling van ’n kind wat oor jare seksueel gemolesteer word, het lesers geskok. Die hel waarin dié kind lewe en die gevolge van die trauma vir die res van haar lewe is op onthutsende manier in dié roman vertel. In 2010 het Anchien Troskie erken dat sy eintlik haar eie ervarings onder die skuilnaam Elbie Lötter beskryf het. Dis ek, Anna eindig met Anna wat juis dié woorde uitspreek voor sy die pedofiel wat haar lewe verwoes het, haar stiefpa, doodskiet. Met dié woorde neem sy haar eiewaarde terug, eien haar identiteit vir haarself op en word heel. Lesers het aan die einde van dié roman ’n gevoel van verligting, simpatie en begrip vir Anna se daad ervaar. Maar kan alles daar eindig? In DIE STAAT TEEN ANNA BRUWER (Kwela) neem Anchien Troskie/Elbie Lötter die verhaal verder. Die hofstryd, die sensasie in die media en bowenal die kwelling en vrae by Anna word op deerniswekkende manier ondersoek: Durf ’n mens wraak neem? Is vergifnis moontlik? In ’n tyd waarin kindermolestering telkens in die nuus is en niemand presies kan sê hoe omvangryk hierdie misdaad in ons samelewing voorkom nie, is hierdie roman opnuut ontstellend. Dit werp onder meer lig op die probleem om molestering ná jare in ’n hof te kan bewys en die vernederende en traumatiese hofprosesse. Uiteindelik word die idee van wraak breedvoerig in die roman ondersoek.
Op ’n ligter trant Daar verskyn kort-kort romans waarin vroulike hoofkarakters deur egskeidings werk en sukkel om talle krisisse in hul lewe en veral liefdeslewe te verwerk. Maar daar verskyn nie elke dag ’n roman waarin soortgelyke ervarings vanuit ’n man se perspektief bekyk word nie. Die bekroonde jeugliteratuurskrywer Derick B van der Walt se eerste roman vir volwassenes is presies so ’n roman waarin ’n gewone man in sy middeljare met werk, die liefde en kinders sukkel. Daan Dreyer se BLOU GERANIUM (Kwela) lê op humoristiese manier ’n man se weerloosheid bloot. Die situasies is skreeusnaaks, maar ook droewig en deerniswekkend. Dit gee ’n eerlike blik op ’n gewone middeljarige man se lewe wat vermaak en ook veel insig bring. Vrouelesers sal mans ná die lees van hierdie boek sommer heelwat beter verstaan en mans sal maklik met Daan Dreyer identifiseer. Van der Walt is ’n vaardige
Wetenskapsfiksie wat fiksie en wetenskap is Die tweede Anna Atoom-boek het pas verskyn. Dit is goeie nuus vir jong lesers wat van Anna Atoom en die seerower se dolk gehou het. Elizabeth Wasserman se ANNA ATOOM EN DIE MAGNETIESE MEERMIN (Tafelberg) bied opnuut ’n boeiende avontuur waarin Anna betrokke raak. Anna is nou ’n jaar ouer, maar steeds dapper, hardkoppig en nuuskierig. Hierdie keer voorsien Anna rampspoedige gevolge vir ’n plan van ’n wetenskaplike wat die aarde se magnetiese pole wil skuif om aardverwarming te keer. Die Anna Atoom-boeke bied veel meer as boeiende avonture wat na wetenskapsfiksie lyk. Dit is wel fiksie oor ’n kind op ’n tropiese eiland, ’n wetenskaplike ma en ’n ruimtereisiger vir ’n pa en ’n boetie wat halfmens, halfrobot is, maar die boeke is nie net fiksie nie, dit is ook wetenskap. As ’n satelliet of aantrekkingskrag byvoorbeeld ter sprake kom, word daar in ’n blokkie verduidelik wat dit presies is. Kinders kan die inligting gewoon oorslaan, maar dit word so lekker aangebied dat dit ’n byna ensiklopediese kennis vir jong lesers verskaf.