Kies ’n boek- 16 Januarie 2015

Willie Burger kyk na Kerneels Breytenbach se nuwe roman, Ester

Willie Burger

Nasionalisme, seksuele begeerte, verliefdheid, verleiding, misleiding, politiekery en spioenasie saam met ‘n skeut boeremusiek en die beste etes berei deur die Suid-Afrikaanse Spoorweë, vorm die ruggraat van Kerneels Breytenbach se nuwe roman, Ester.

Die verhaal vol stomende liefde speel hoofsaaklik af op ‘n stoomtrein wat in 1946 van Windhoek na Kaapstad onderweg is. Op die trein is die Duitse spioen, mev Thyra Denk, onder die bewaking van drie polisiemanne wat moet seker maak dat niemand met haar praat nie. Sy is op pad om voor ‘n parlementêre komitee te getuig oor haar kontak met DF Malan in Januarie 1940.

Die Nazi-regering het deur haar beloftes aan Malan gemaak dat hulle Afrikaner-nasionalisme steun en ‘n Afrikaner-oorname van Suid-Afrika sou erken en selfs beloon deur Rhodesië en Botswana ná die oorlog by Suid-Afrika in te lyf.
Maar toe verloor Duitsland die oorlog en indien Malan nou skuldig bevind word aan heuling met die Nazi’s, is sy loopbaan daarmee heen – en bes moontlik ook die opbloeiende Afrikaner-nasionalisme wat hy lei. (Malan het werklik die spioen Thyra Denk in 1940 ontmoet – maar van hier af verder, is dit fiksie.)

Die roman herinner sterk aan Philip Roth se The Plot Against America. In hierdie roman word ‘n alternatiewe geskiedenis vertel – hoe dit sou gewees het as Roosevelt nie die presidentsverkiesing gewen het nie, maar ‘n Duitsgesinde president (Lindberg), en hoe dit sou lei tot ‘n Nazi-ondersteunende Amerika. Hoe boeiend en skrikwekkend Roth se roman ook al is, weet die leser die hele tyd dat die geskiedenis nie regtig so uitgewerk het nie.

In Ester kry ‘n mens egter die onthutsende gevoel dat hierdie “alternatief”, die invloed van ‘n Duitse spioen op Malan, dalk net ‘n deurslaggewende rol in ons land se geskiedenis sou kon speel!

Baie verbande tussen Afrikaner-nasionalisme en Duitse nasionalisme word gelê, en soos die Duitse spioen opmerk, is dit nie nodig vir ‘n leier soos Malan om ‘n charismatiese sterk persoon te wees nie, hy kan maar valerig wees as hy net die regte mense om hom het en die regte dinge kwytraak.

‘n Jong advokaat van Malan se regspan is ook op die trein en sy menings, asook die optrede van die stoker en treindrywer en die adjudant-offisier wat die spioen begelei, bied uiteindelik ‘n fassinerende blik op die opbloeiende nasionalisme en hoe dit op verskillende vlakke werk.

Die roman ondersoek nasionalisme, die opsweping vir ‘n saak, die blinde geloof in volksleiers en hoe dit is “wanneer ‘n volk op sy eie siel verlief raak”. Maar dit is nie ‘n abstrakte ondersoek nie: die fokus val op individue se keusemoontlikhede ten tye van opbloeiende nasionalisme.

Ten spyte van ideologie en die dwang van groepsdenke word dit tóg duidelik dat die basiese menslike ervarings van seksuele aangetrokkenheid en van liefde ‘n selfs groter invloed op mense kan hê, wat dikwels groot spanning meebring. Die betowerende effek van een vrou op ‘n hele trein vol mans herinner aan Klaas Steytler se Somer van ’36.
Beide die adjudant-offisier wat die Duitse spioen veilig in die Kaap moet besorg sonder dat sy met Malan-mense kontak maak, en die jong Broederbond-advokaat wat haar teen elke prys wil ontmoet en ompraat om nie teen Malan te getuig nie, word heeltemal betower deur die spioen, ‘n vrou wat opgelei is om mans te manipuleer.
Die gevolge vir die advokaat is verreikend. Die enkele dae op die trein van Windhoek na Kaapstad bly die spil waarom sy hele lewe draai en waarna alles telkens terugkeer. Hy noem dit ”n pruimverhaal” – iets waaraan hy bly pruim en herkou ten einde te verstaan wat presies met hom (en die land) tydens daardie veelbewoë rit gebeur het.
Die romantitel kan nie hier verduidelik word sonder om te veel van die verrassings weg te gee nie, maar dit verwys ook na die Bybelse Ester, ‘n vrou wat haar invloed by die maghebbers gebruik het om die verbondsvolk te red (verbondsvolk slaan hier natuurlik ook op ‘n selfbeskouing van Duitsers en Afrikaners).

Dit is egter nie slegs ‘n ernstige verhaal oor die verwoestende gevolge van blinde nasionalisme en verleiding en spioenasie en dubbelrolle nie. Die krag van seksuele aangetrokkenheid, van vriendskap en wellus en liefde en die gevolge daarvan staan ook sentraal.

Breytenbach se kenmerkende ironiese, spottende styl loop die gevaar om ‘n leser ook bietjie koud te laat, sodat jy nie betrokke raak by die karakters en hul lotgevalle nie (soos in Piekniek by Hangklip). In Ester gebeur dit egter nie, juis omdat die taalgebruik en ironiese toon so goed pas by die verteller – ‘n ou man wat met verwondering en sinisme, maar ook met selfinsig na daardie paar dae op die trein terugkyk. Die pretensieuse taalgebruik van die selfingenome verteller is skreeusnaaks.

Die vermaaklike lê ook in ander verrassings – soos dat die sanger Chris Blignault, in die fleur van sy loopbaan Ou ryperd in die eetwa sing onder begeleiding van Hendrik Susan se orkes (waarvan die jong Nico Carstens een van die lede is)!
Hierdie is een van die prettigste romans wat jy hierdie jaar sal lees.

Die boek word deur Human en Rousseau uitgegee

Send this to a friend