Kies ’n boek- 23 Januarie 2015

Willie Burger kyk na die werke van PJ Schoeman

Willie Burger

Protea Boekhuis het pas PJ Schoeman se bekende Op ver paaie (wat oorspronklik in 1949 uitgegee is en vier herdukke tot in 1961 beleef het) weer uitgegee.

Schoeman (1904-1988) was ‘n bekende veldwagter, antropoloog en skrywer. Hy is veral bekend vir jag- en reisverhale wat in die wildernis van die destydse Zoeloeland en Suidwes-Afrika, Swaziland en Oos-Afrika afspeel.

Geslagte Afrikanerseuns het met sy jeugboeke, die Fanie-reeks wat oorspronklik tussen 1948 en 1960 verskyn het, grootgeword. Protea Boekhuis het in 2006 Fanie se veldskooldae (oorspronklik uit 1948) weer uitgegee en in 2008 is Fanie word groodwildjagter (1950) heruitgegee. Fanie se vuurdoop (1960) is die derde boek in dié reeks oor Fanie se grootwordjare aan die einde van die 19de eeu op ‘n plaas in die destydse Natal.

Fanie leer aanvanklik op die plaas, maar later in die woesteny van Zoeloeland die veld en die wilde diere ken. Sy oorgang van seun na man word gemerk deur die jagtogte waartydens hy sy eerste leeu, eerste luiperd, eerste buffel, ensovoorts skiet. (Die jagtogte lyk teen vandag se standaarde eerder soos strooptogte.) Hy word tydens sy "veldskooldae" veral deur wyse Zoeloemans gelei wat hom baie van die Zoeloekultuur en die van die lewe (en die liefde) leer. Uiteindelik is sy "vuurdoop" die Anglo-Boereoorlog.

Ook in sy werk vir volwassenes, soos Die swerwerjagter (1933), Op groot spore (1942) en Jagters van die woestynland (1951), skryf Schoeman telkens oor jagtogte of avonture in dele van die destyds "ongerepte" Afrika. Telkens word die gewoontes en wyshede van byvoorbeeld Zoeloes of “Boesmans” in hierdie boeke beskryf deurdat die skrywer begelei word deur ‘n spoorsnyer of wyse ou man wat geleidelik en op ‘n rustige manier talle verhale van die inheemse volke vertel en hom uiteindelik ook help om daardeur insig in sy eie probleme te kry.

Met boeke soos Rook op die horison (1949) en Jabula, die Zoeloe (1972) sluit Schoeman aan by die sogenaamde Jim-goes-to-Joburg-tema. Hierdie boeke, soos Alan Paton se beroemde Cry the Beloved Country, vertel telkens die verhaal van die stad as ‘n verderflike plek waar mense met goeie tradisies en ‘n streng morele kode van die beproefde weë afdwaal en uiteindelik verwoes word.

Lewis Nkosi het reeds in die sestigerjare van die vorige eeu daarop gewys dat hierdie soort boeke die ideologie van die "rural native" bevestig. Hierdie ideologie sluit in dat swartmense eintlik "plattelands" is en slegs daar, in stamverband en volgens tradisionele gebruike, gelukkig kan wees.

Verstedeliking en modernisering word as ongewens vir swartmense voorgehou en in hierdie opsig is Schoeman se soms paternalistiese en altyd romantiese beskrywings van die wildernis en sy inwoners uiteraard glad nie ideologies neutraal nie, maar sluit by apartheidsdenke aan. Selfs al word ‘n waarderende blik op die wysheid van die “Boesmans” of Zoeloes se kultuuur aangebied, en al openbaar sy werk ‘n ryk kennis van inheemse gebruike en wysheid, getuig dit nietemin van ‘n bepaalde romantiese beskouing van Afrika en Afrikane wat nie enige voordele van moderniteit kan insluit nie.
Schoeman is ‘n onderhoudende verteller en sy woordeskat is ryk. Op ver paaie trek die leser sommer dadelik in met die natuurbeskrywings, die verlange en die spanning wat verliefdheid meebring. Die hoofkarakter is ‘n swerwer en sy swerwersgees lok hom steeds dieper, op ver paaie, in Afrika in.

Hy volg eintlik ‘n wilde perd wat ‘n trop sebras in die ruwe Kaokoveld lei, maar erken sommer al aan die begin teenoor ‘n ander swerwer dat die perd "’n simbool van iets moois en groots" is, "’n simbool van verset … van ontvlugting". As die ouer man by hom wil weet waarteen die verset is, antwoord hy,

"verset teen en uitdaging van alles en almal wat die lewe wil inkamp en inhok en … en rou wil skaaf met tuie wat nie pas nie. Dit word vir my die ‘aaii… ai … a’ van die wilde visarend wat hoog bo uit die blouland vir ons uitnooi om uit te styg en weg te sweef van die stof, die rook en die gedreun van masjienerie, na hoër sfere waar ons nog die stem van God kan hoor …"

Hierdie romantiese blik op Afrika, op die roep van die visarend, op die idee van ‘n ongerepte wildernis waar ‘n mens op ‘n manier heelheid kan ervaar, is ‘n hunkering wat vandag steeds sterk leef – te oordeel aan die gewildheid van tydskrifte soos Weg en Getaway, al die boeke oor 4×4-roetes en winkels waar safaritoerusting ten duurste in die stede aangeskaf kan word.

Uiteindelik vertrek die swerwer weer alleen, soos ‘n cowboy aan die einde van ‘n Western, op ver paaie. Die onvervulde droom bly, want as die swerwer eers alles gekry het, sal hy nie meer kan swerf nie. Daarom bid die verteller aan die einde: "Dankie, Here, vir die ver plekke in Afrika."

Die heruitgawe sal nostalgie by sommige wek, ander se romantiese verlangens na ‘n gewaande vryheid in die ongerepte wildernis van Afrika aanblaas, maar dit bied ook die geleentheid vir ‘n kritiese terugblik op hierdie opvattings.

Send this to a friend