Kies ’n boek- 17 Oktober 2014

Willie Burger kyk na die e-boek Americanah

Willie Burger

Die afgelope tyd het ek al ‘n paar keer in hierdie rubriek geskryf oor skrywers wat hulself in ‘n "middelwêreld" bevind: skrywers wat in een land gebore is en grootgeword het maar wat later in ‘n ander land gaan woon en dan vind dat hulle nie in een van die twee (of meer) lande tuis is nie: die soort letterkunde wat getuig van ‘n geglobaliseerde wêreld.

Talle van hierdie skrywers verlaat hul lande van herkoms omdat hulle om ekonomiese of politieke redes nie meer daar kan bly woon nie. Hul verblyf in ‘n nuwe land bring uiteindelik ook geen gemaklike tuiste nie – selfs al is hulle in die nuwe land ekonomies suksesvol.

Een van die hoofkarakters in Chimamanda Ngozi Adichie se roman Americanah beleef presies hierdie probleem. Ifemelu woon en werk in Princeton. Sy is al 13 jaar in die VSA en bly gelukkig saam met ‘n jong akademikus wat baie lief vir haar is. Haar blog waarin sy skryf oor veral ras- en gendersake, is baie gewild. Ten spyte van haar sukses in die land wat haar ‘n tuiste gebied het toe sy uit haar geboorteland gevlug het om te studeer en om van die militêre diktatuur in Nigerië weg te kom, besluit sy om na Nigerië terug te keer. En natuurlik na die stad waar haar skoolliefde, Obinze, nou ‘n skatryk, getroude sakeman is.

Ifemelu beleef geen deurslaggewende oomblik waarop sy besluit om terug te keer nie en kan ook nie slegs ‘n enkele rede aanvoer wat haar familie, geliefde of ander verbaasde Nigeriërs tevrede kan stel nie: "… she had not had a bold epiphany and there was no cause; it was simply that layer after layer of discontent had settled in her, and formed a mass that now propelled her."

Haar terugkeer na Nigerië is geen gemaklike tuiskoms nie. Die liefdesband met Obinze kan ook nie sonder meer hervat word in die veranderde omstandighede nie. Daar het te veel met haar in die VSA gebeur en intussen het ook sy lewe radikaal verander.

Obinze kon nie daarin slaag om ná 9/11 toegang tot die VSA te kry om Ifemelo daar te ontmoet nie en hy het ‘n tyd in Londen deurgebring voordat hy teruggekeer het na Nigerië en ‘n baie suksesvolle en welgestelde sakeman geword het.
Obinze is nie gelukkig met sy rykdom, pragtige vrou, baie besittings en werkers nie: "He had begun, in the past months, to feel bloated from all he had aquired – the family, the houses, the cars, the bank accounts – and would, from time to time, be overcome by the urge to prick everything with a pin, to deflate it all, to be free."

Die beskrywings van Lagos en die hededaagse lewenstyl in Nigerië is boeiend. ‘n Gejaagde gevoel van opwinding, van hoop te midde van armoede, godsdiensoplewings, en ‘n desperate worsteling om uit te styg, om ryk te word, en veral om die tekens van rykdom aan te skaf, is boeiend. (Die beskrywings van Ifemelu se ma wat herhaaldelik met oorgawe van die een kerk na ‘n ander oorgaan, herinner nogal aan Jeanne Goosen se Ons is nie almal so nie.)
Obinze gee beurse aan honderde kinders uit sy oorspronklike dorpie, maar hy is onvergenoeg met sy rykdom: "It brought to him a disorienting strangeness, because his mind had not changed at the same pace as his life, and he felt a hollow space between himself and the person he was supposed to be."

Gesprekke tussen die ryk Nigeriërs wat redeneer oor watter internasionale skoolleerplan die beste vir hul kinders sal wees (in plaas van ‘n staatskool waar die Nigeriese kurrikulum gevolg word) klink selfs vir Suid-Afrikaners bekend. Obinze besef uiteindelik dat hy nie sy kind in een van die Franse of Britse skole wil sit nie: "He did not want a well-educated child enmeshed in insecurities".

Die vreemde tussenwêreld tussen Afrika en die VSA, van bewondering vir orde en verlange na chaos, van waardering vir Engels (en Engelse letterkunde) terwyl tóg verlang word na die Igbo-taal en kultuur is boeiend. Ook die manier waarop sukses aan Westerse standaarde, of aan die beskikbaarheid van Westerse verbruikersgoedere gemeet word, word krities in die roman bekyk.

Obinze, ‘n eiendomspekulant, verduidelik dat mense in die Derde Wêreld nie van gerestoureerde huise hou nie – vir hulle moet alles nuut wees: "Third Worlders are forward-looking, we like things to be new, because our best is still ahead, while in the West their best is already past, so they have to make a fetish of that past"

Met haar terugkeer na Nigerië begin Ifemelu weer ‘n blog. Sy verduidelik aan een van haar Amerikaanse vriende dat sy nie meer oor ras skryf nie: "Race doesn’t really work here. I feel like I got off the plane in Lagos and stopped being black."
Americanah is die jong Nigeriese skrywer se derde roman. Die kompleksiteit van identiteit in ‘n geglobaliseerde wêreld word fyn ondersoek in ‘n roman wat ook ‘n oorrompelende liefdesverhaal is.

Send this to a friend