Kies ’n boek- 24 September 2014

Met ‘n nuwe wêreld is nuwe denkbeelde nodig, sê Willie Burger

Willie Burger

Sewe dae by die Silbersteins deur Etienne Leroux is seker een van die mees bespreekte Afrikaanse boeke. Toe die roman in 1962 verskyn het, was die reaksie daarop uiteenlopend. Talle letterkundiges het die roman se lof besing en die Hertzogprys is daaraan toegeken, maar daar was ook baie beswaardes wat aangevoer het dat die roman goeie sedes ondermyn en "volksvreemd" is.

Intussen het Sewe dae by die Silbersteins "klassieke" status in die Afrikaanse letterkunde verwerf. Italo Calvino het eens geskryf: "Classics are books which, the more we think we know them through hearsay, the more original, unexpected, and innovative we find them when we actually read them."

Sewe dae by die Silbersteins
is só ‘n roman waarvan ‘n mens maklik kan dink dat jy dit ken, omdat daar so baie daaroor geskryf en gepraat is. As ‘n mens die roman vandag lees, in ‘n tyd van globalisering, word dit duidelik hoe oorspronklik, verrassend en innoverend die teks eintlik is. Sommige kritici het al beweer dat die sestigerskrywers soos Etienne Leroux eintlik maar net Europese of Amerikaanse modernistiese werke nageskryf het. As ‘n mens hierdie roman nou lees, is dit duidelik hoe onwaar dit is.

Die roman ondersoek menslike bestaan in die moderne wêreld.

Die term "moderne tyd" word meestal gebruik vir die manier waarop Europa sedert die 17de eeu ná die Kerkhervorming en die Verligting verander het. Hierdie veranderings sluit veral die volgende in: ‘n klem op rasionele denke en die groei van ‘n wetenskaplike bewussyn wat lei tot die verwerping van tradisie; geloof in vooruitgang; die idee dat mense deur wetenskaplike kennis en tegnologiese ontwikkeling die wêreld kan verander. Die moderne era word ook met sosiale veranderings soos demokrasie, die ontstaan van markgedrewe, industriële ekonomieë, verhoogde mobiliteit en geletterdheid van mense geassosieer.

Hierdie veranderings word meestal as iets goeds beskou. Dit lei immers tot die bevryding van bygelowe, onkunde en vrese vir bonatuurlike magte soos towery, terwyl dit ook blindelingse onderwerping aan tradisies verwerp en uiteindelik tot demokrasie lei. Maar die verandering het ook negatiewe gevolge – die wêreld word volgens sommige ‘n koue, rasionele plek wat sy betowering verloor het.

Moderniteit het deur handel en kolonialisme ook geleidelik oor die wêreld versprei. Dit is dikwels deur nasionalisme aangevuur en word deesdae deur die media, inligtingtegnologie en die verspreiding van kapitaal beheer.
Hier in Suid-Afrika het moderniteit eintlik eers teen die tweede helfte van die vorige eeu geleidelik begin om tot die Afrikaanse leefwêreld deur te dring. Toe Sewe dae by die Silbersteins dus in 1962 verskyn, was dit ‘n direkte reaksie op ‘n Suid-Afrikaanse situasie van toenemende modernisering.

Aangesien die stad meestal as die produk van die moderne wêreld, as beeld van die moderne wêreld gesien word, sou ‘n mens kon verwag dat ‘n roman oor die moderne wêreld ‘n "stadsroman" sou wees. In Sewe dae is die ruimte egter juis ‘n plaas – met ander woorde die vertroude wêreld vir Afrikaners – en op die oog af sluit die roman by die bekende plaasromantradisie aan. Maar die plaas Welgevonden is nie meer ‘n gewone plaas nie: dit is ‘n geïndustrialiseerde ruimte. Die plaas is gemeganiseer en die fabriek domineer. Die fabriek word selfs as "katedraal" beskryf en die werkers in die fabriek met hul wit laboratoriumjasse word die "priesters" van die fabriek genoem – ‘n aanduiding van hoe wetenskap en tegnologie rigtinggewend in die moderne wêreld is.

Die lang gesprekke tussen karakters gaan meestal oor goed en kwaad, oor God en die bose. Dit is dus duidelik dat die radikale verandering in die wêreld – van plaas na industrie, van aanvaarding van tradisionele waardes en godsdiens na kritiese bevraagtekening, tot ‘n krisis vir Afrikaners lei. Die ou onderskeidings tussen goed en kwaad is nie meer genoegsaam nie. Iets anders is nou nodig, ‘n ander manier van dink, ‘n ander manier van sin gee aan die wêreld.
Daarom wyk Leroux se roman af van die plaasromantradisie waarbinne dit oënskynlik staan. Die plaas is bloot dekor. Tradisionele maniere om die wêreld te beskryf, is nie meer toereikend nie. Leroux soek daarom ‘n nuwe manier van skryf, van singewing, na nuwe beelde waarmee die wêreld beskryf en bedink kan word. Die roman wyk radikaal van die realistiese verteltradisie van die ouer Afrikaanse romans af: die karakters is bloot oppervlakkige figure. Die plot bied geen mooi liefdesverhaal soos wat dit op die oog af lyk nie.

Die leser in 2014 besef dat globalisering en die verspreiding van "die moderne" nie regoor die wêreld presies dieselfde gebeur nie. Appadurai, een van die teoretici oor globalisering, verduidelik dat "verinheemsing" plaasvind wanneer aspekte van moderniteit op ‘n unieke manier in ‘n bepaalde samelewing opgeneem word. Sewe dae is ‘n voorbeeld van hoe die moderne in Suid-Afrika (spesifiek in die Afrikaanse wêreld) verinheems is.

Send this to a friend