Willie Burger kyk hierdie week na Nathan Trantraal se Chokers en Survivors
Willie Burger kyk hierdie week na Nathan Trantraal se Chokers en Survivors
“Dis ’n bundel om sidderend van regop te sit! Wat op dié bladsye staan, het niemand nog ooit in Afrikaans gelees nie.” Só word Antjie Krog se mening oor Nathan Trantraal se debuutdigbundel, Chokers en survivors, op die buiteblad van die bundel aangekondig. Krog is reg. Die gedigte in hierdie bundel laat ’n mens regop sit. Selfs al is jy nie gewoonlik ’n poësieleser nie. Sy het destyds self mense laat regop sit met haar kaalvoetgedig vir haar ma. Só skryf Nathan Trantraal oor sý ma: Hammie Ek et die gedig twie kee geskryf wan my ma hettie eeste een gelies toe sê sy vi my: “Jy kannie al dai goed skryfie, hulle gan my innie tronk opslyt.” It is by haa wat ek gelee et hoe om te hustle. Nie dai gangsta-hustle ie, ma dai vrou-allien-sog-vi-ses-kinnes hustle, dai righteous hustle. My ma het my gelee ommie sentimental te wiesie. Die eeste ding wat sy gepawn et was haa trouringe. My ma groet die gangsters en kêkmense dieselle wan sytie kêkmense geken voo hulle gangsters geraak et en gangsters voo hullle hulle harte virrie Here gegie et. My ma respek nieman te veel of te min nie. Sy roek drie pakkies êntjies ’n dag as sy het en as sy nie hettie, dan tel sy toppatjies op en swai vi os pilletjies mettie phonebook. As jy heeldag nie geroekittie dan voel elke puff soese man-sized hit. My ma gloe in niks en sy gloe in alles en jy sal nooit wiet of sy liegie. Syt vir my gelee hoe om te lieg en hoe omme storie te vetel en hoe om te worry: die secret is om te gan slaap. Jy worrie bieter as jy ytgerus is. Hieruit kry jy ’n goeie idee van wat om te verwag: Die gedigte is dikwels hoogs persoonlike vertellings van die skreiende omstandighede waarin die digter grootgeword het. Maar ten spyte van die droefheid en die swaarkry, die snydende sosiale kommentaar, is daar humor. Die bundel bestaan uit drie afdelings waarvan die titels daarop dui dat die gedigte ’n sekere ruimte beskryf: “Bishop Lavis (1983-1988)”, “Mitchell’s Plain (1988- 1999)” en “Bishop Lavis (1999-2010)”. Die gedigte is telkens klein verhaaltjies oor die alledaagse lewe in hierdie buurte waarin bendegeweld, dwelms en maatskaplike probleme volop is. In “Esprit” word die storie van Riefka byvoorbeeld vertel: “sy wasse druggie op dêtien/enne prossie op vyftien.” Toe Riefka sewe jaar oud was, het haar ma vir haar en die ander kinders drank as Kersgeskenk gegee: Die slotstrofe lui: Toerie kinnes klaa gesyp et lê Riefka innie jaat innie sand en swem en allie grootmense staan en lag vi hoe oulik sy lyk as sy dronk is. Hierdie is ’n mak voorbeeld van die gewelddadigheid daar. Wat die gedigte nog ontstellender maak, is die afstandelikheid waarmee die gevolge van dwelm- en alkoholmisbruik, van bendegeweld en gesinsgeweld, beskryf word. In “Chokers” se eerste strofe word hierdie afstandelikheid verantwoord: My ma-hulle braai en dis nice. Ek staan eenkant en hou die anne mense dop wat fun het. Dais my idea van ’n goeie tyd, soelank ammel hulself enjoy en soelank ekkie hoef te participate nie. Die drie afdelings is egter nie slegs plekaanduidings nie. Die datums tussen hakies is ook ’n aanduiding dat hierdie eintlik ’n outobiografie is. Hy verwys telkens na sy broer André (saam met wie hy romans uitgegee het), sy vrou, die digter Ronelda Kamfer, en na ander familielede en vriende. Die treffende beelde (soos in “Delft”) kry telkens talle betekenisse: Die wind kom en gan soese man wattie oo sy laities worry nie ’n wind wat net vi homself liewe. Die lug se mon stink na wyn. en Die boeme hang heeldag oo hulle miertjies en hou anne mense se biesagheid dop. Wat natuurlik dadelik opval, is dat die gedigte in Kaaps geskryf is. Moenie dink dit is net ’n foefie om aandag te trek of om snaaks te wees of om ’n “gangster”- gevoel te skep nie. Daarvoor is die woorde té goed gekies, die struktuur té heg, die gedigte té afgerond. Soos in alle goeie poësie, word die moontlikhede van taal (die klank, die sinskonstruksie, die woordbetekenis) op ’n verstommende manier ingespan om ’n ervaring te skep wat verby die blote betekenis van die woorde en die verhaaltjies reik. In een gedig word die ervaring beskryf van ’n paar vriende wat saam musiek luister: Ôs is ammel doodstil wan ôs wiet ôs experience ’n collective memory. Alles stop behalwe die music ennit voel vi my ôs is innie Vermeer. As jy die gedigte lees, word jy doodstil en jy kry deel aan ’n herinnering wat vir baie van ons onbekend en ontstellend is, maar jy weet ook jy is in ’n kunswerk.