Politikus Mamphela Ramphele se verhaal is een van
voortdurende strewe na beter moontlikhede eerder as blote
verset teen huidige beperkings, skryf Willie Burger
Mamphela Ramphele se outobiografie, A Passion for Freedom, verskyn juis nou, knap voor die algemene verkiesing, waaraan haar party, Agang, ook gaan deelneem. Vanuit ’n skeptiese hoek kan ’n mens dus die outobiografie as ’n deel van ’n verkiesingstrategie sien en baie mense sal daarom dalk nie die boek wil lees nie. Dit sal egter kortsigtig wees om die boek daarom opsy te skuif en ek beveel enige Suid-Afrikaner aan om wel die boek te lees. Vir talle mense is Ramphele bloot die oudrektor van die Universiteit van Kaapstad en die eerste Suid-Afrikaner in die direksie van die Wêreldbank. Natuurlik weet die meeste mense dat sy die dryfkrag agter Agang is. Sy vertel dat oudpresident Mandela haar tydens ’n besoek aan hom in die tronk in 1988 aangemoedig het om die geskiedenis van die Swart Bewussynsbeweging van die 1970’s neer te skryf. Saam met drie mederedakteurs was sy in 1991 verantwoordelik vir die boek, Bounds of Possibility: The Legacy of Steve Biko and Black Consciousness. In A Passion for Freedom kry ’n mens egter ’n veel persoonliker blik op die dae van haar politieke aktivisme in die Swart Bewussynsbeweging en haar verhouding met Steve Biko. Toe Ramphele aan die einde van die 1960’s aan die Universiteit van Natal begin medies studeer het, het sy deel van ’n merkwaardige groep mense geword wat ’n groot invloed op die land se politieke landskap gehad het. Sy vertel hoedat sy as relatief onblootgestelde plattelander skielik by politieke aktivisme betrokke geraak het. Hierdie betrokkenheid het haar leierskapsvaardighede laat ontwikkel en het sy ook hier geleer om veel meer genuanseerd en gesofistikeerd oor die land se politiek en inwoners te dink. Die pad van die dogter van onderwyserouers by ’n NG sendingstasie in die ou Noord-Transvaal tot mediese student in Durban was moeisaam. Die beperkings van armoede, ’n streng patriargale stelsel, en die min moontlikhede vir swart mense, veral swart vroue, om iets meer te word as ’n verpleegster of onderwyser, het haar des te meer vasbeslote gemaak om haar eie vryheid te vind. Sy erken haar besluit om ’n dokter te word, het nie veel te doene gehad met die behoefte om ander mense te dien nie, maar sy het dit eerder gesien as ’n manier om vryheid vir haarself te bekom. Sy erken ook dat sy van baie aspekte van die mediese praktyk niks gehou het nie (bloed, operasies, narkose) en dat sy ook foute gemaak het, maar dat die feit dat sy wel ’n dokter was, gemaak het dat talle mense haar met respek behandel het wat sy andersins nooit sou ontvang nie. Ramphele sê in die voorwoord dat sy gedwonge voel om haar verhaal te vertel omdat dit belangrik is dat vroue, veral swart vroue, ’n alternatiewe voorbeeld het teenoor die konvensionele stereotipiese rolle wat die meeste verhale aan vroue toeken. Telkens deur die loop van haar lewe eis die omstandighede van haar dat sy haarself besonder sterk moet laat geld – woedend moet word net om gehoor te word; om as swart vrou ernstig opgeneem te word. Sy skryf openhartig oor haar jare lange verhouding met Steve Biko – hulle was geesgenote, kollegas in die stryd, maar ook geliefdes, ten spyte daarvan dat sy aanvanklik getroud was en hy later getrou het omdat hy gedink het sy sal nie haar man verlaat nie. Hul noue verbintenis het egter jare voortgeduur. Nadat Biko se beweging deur ’n hofbevel ingekort is, het sy ’n kliniek en gemeenskapsentrum in die Transkei op die been gekry waar sy naby aan hom kon wees. Nooit kon Biko so ver kom om sy vrou te verlaat nie – maar Ramphele het twee kinders by hom gehad – Lerato is dood toe sy enkele maande oud was en Hlumelo is gebore terwyl sy onder ’n inperkingsbevel gedwing is om in die Tzaneen-distrik te bly (waar sy opnuut ’n gemeenskapsentrum en mediese kliniek aan die gang gekry het in die agt jaar wat die bevel gegeld het). Hier moes sy van Biko se dood verneem terwyl sy swanger was. Die spanning wat dit meebring om ’n vrou, ’n ma, ’n professionele persoon en boonop ’n aktivis te wees, en die impak daarvan op haar gesondheid, word met groot eerlikheid bespreek. Die beeld wat Ramphele van haarself skep, is nie net rooskleurig nie – ’n mens kry die indruk van ’n kompromislose en doelgerigte mens. Dit is ’n lewensverhaal wat ’n mens roer, inspireer en hoop gee. Dit is ook ’n boek wat insigte in ons land se verlede verskaf. Die ANC se huidige gesukkel met korrupsie en rigtingloosheid skryf sy toe aan ’n gebrek aan langtermynbeplanning gedurende die 1980’s. Die bevrydingstryd was daarop gefokus om die land onregeerbaar te maak en hulle het nie beplan hoe die land later regeer moet word nie. Daarom is dit vir haar jammer dat die idees van die Swart Bewussynbeweging van die 1970’s tydens die bevrydingstryd van die 1980’s vergete geraak het. Swart bewussyn was ’n stryd vír iets, eerder as bloot ’n stryd téén iets. Ramphele se verhaal is een van voortdurende strewe na beter moontlikhede eerder as blote verset teen huidige beperkings. Vk A Passion for Freedom. Kaapstad: Tafelberg