Kies ’n boek- 3 Oktober 2014 | Vrouekeur

Kies ’n boek- 3 Oktober 2014

Willie Burger kyk na die belangrikheid om te leer lees

Willie Burger

Ek het op universiteit ‘n vriend gehad wat gesê het dat hulle hom op skool nooit weer iets nuttigs geleer het nadat hulle hom leer lees en skryf het nie. Want van toe af, het hy geredeneer, het hy alles self geleer.

Só ‘n siening is dalk oordrewe, maar dit is beslis waar dat lees een van die belangrikste vaardighede is wat ‘n mens kan bemeester. Om egter behoorlik te leer lees, is dit nodig om voortdurend vir kinders leesstof te gee wat hulle graag wíl lees.
Dr. Seuss se boeke het geslagte kinders leer lees. Baie van ons het met sy lawwe boeke grootgeword. As kind kon ek my verkyk aan die tekeninge van treinspore of geboue wat op dun torinkies balanseer en het my aan die lawwe name van karakters verwonder. Dr. Seuss se Groen ham en eiers kan nou deur beginnerlesers in Afrikaans verslind word.

Met hierdie soort boek, waar die bekoring dikwels in die rym en ritmiese patrone lê, eerder as in die "storielyn", is vertaling ‘n uitdaging en dit kan maklik platval. Leon Rousseau se rymende vertaling, vol herhalings en ritmiese patrone, behou egter die bekoring van die oorspronklike werk en val lekker op die oor. Boonop skuil daar in die lawwe verhaaltjie ‘n les om nuwe dinge altyd eers ‘n kans te gee en dit nie sonder meer te verwerp net omdat dit nuut is nie.
Vir lesers wat al bietjie meer bedrewe is in die leeskuns, is Lotta se lewe: Konyne by dosyne ‘n ideale manier om verder aan hul leesvaardigheid te slyp, sonder dat hulle dit agterkom. Alice Pantermüller se Duits is heeltemal verinheems en die vertaling deur Kobus Geldenhuys lees soos ‘n Afrikaanse boek.

Lotta se lewe is ‘n lekker dik boek van oor die 180 bladsye, maar die lettertipe is redelik groot en byna elke sin is ook geïllustreer. Daniela Kohl se illustrasies bied die ideale steun aan ‘n onseker leser, want dit is veel meer as blote prettige prentjies. Die illustrasies maak dit moontlik om begrippe te verstaan wat in die sinne gebruik word. Dit is die ideale manier om van "prenteboeke" of ryklik geïllustreerde kinderboeke na boeke wat slegs teks bevat oor te skakel. Die sketsies in klein, maar hou ook die bladsye vriendelik en lok lesers om verder te lees. Soos die gewilde Dagboek van ‘n wimp (Diary of a Wimpy Kid, deur Jeff Kinney), getuig Lotta se lewe ook daarvan dat alle kinderboeke nie oor ruimtewesens of toordery hoef te gaan nie, maar dat gewone huislike en skoolomstandighede ‘n boeiende wêreld kan wees.

Boosheid en donkerte

Ons lewe kennelik in ‘n misdaadrillerkultuur: Misdaadrillers tel onder die topverkopers in ons land, maar ook wêreldwyd, en die een TV-reeks na die ander waarin reeksmoordenaars, gewetenlose dwelmhandelaars, of psigopate amok maak, word in die beste tydgleuwe uitgesaai.
Sommige misdaadskrywers en resensente voer aan dat dit eintlik die misdaadskrywers is wat regtig ons tyd se sosiale probleme konfronteer en juis daarom so baie lesers lok. Die meeste lesers van alle genrefiksie lees egter eerder om van die voortdurende koerantberigte oor moorde en TV-beelde van gruwelike misdaadtonele en voortslepende hofsake te ontsnap.

Die misdaadrillers wat die suksesvolste is, is daardie rillers wat jou heeltemal kan meesleur. Jy moet nie ‘n oomblik tyd hê om oor enige sosiale vraagstukke na te dink nie, maar moet juis deur die een gebeurtenis na die ander meegesleur word.

Peet Venter het reeds met sy vorige boeke waarin die taai Thys Krige die speurder is (Dieper as die bloed en Ou bloed) gewys dat hy ‘n spannende verhaal kán vertel. In Waar boosheid broei, kry hy dit weer reg. Thys Krige ondersoek die omstandighede waarin ‘n Suid-Afrikaanse joernalis in Zimbabwe in die tronk beland en sy geheue verloor het. Hy kom op afgryslike geheime af en boonop beland ‘n ander verslaggewer, Robyn, in die kloue van kindersmokkelaars en hy wil haar ook red. Krige is ‘n tipiese, hardekoejawel-speurder en sy wedervarings laat jou naels kou.
Die "donker spoor" wat adjudant-offisier Magson in Martin Steyn se debuutroman, Donker spoor, volg, is die spoor van ‘n reeksmoordenaar. Vir ‘n misdaadriller om boeiend te wees, moet nie net die storie meesleurend wees nie, die speurder moet ook die leser boei. En veral as die speurder ‘n menslikheid openbaar, met gebreke en probleme waarmee die leser kan identifiseer, soos Deon Meyer se Bennie Griessel byvoorbeeld, word die leser baie sterk emosioneel betrek. Magson is só ‘n speurder wat ‘n opdraande stryd in sy persoonlike lewe voer en wat terselfdertyd onder geweldige druk verkeer om die moordenaar te vang.

Albei hierdie boeke laat jou naels kou en wakker lê oor die gruwels wat een mens ‘n ander kan aandoen, maar jy weet ten minste dat die orde, anders as in ons wêreld, herstel gaan word.

Send this to a friend