Kies ‘n boek: Donker stroom

Eugène N Marais (1871–1936) is ongetwyfeld een van die boeiendste figure in die Afrikaanse letterkunde en die Suid-Afrikaanse geskiedenis.

Willie Burger

Die meeste mense het ‘n redelik goeie idee van wie Marais was. Sy beeld as belangrike digter, joernalis, regsgeleerde, natuurkenner en taalvegter is sterk gevestig.

Hierdie beeld is aanvanklik veral deur Gustav Preller, wat graag Marais se werk gebruik het om nasionalisme onder Afrikaners aan te blaas, voorgehou. Leon Rousseau se bekende biografie oor Marais, Die groot verlange, het in 1974 verskyn en die roerende verhaal van ‘n besonder talentvolle man wat ‘n lewenslange stryd teen morfienverslawing gevoer het, het die standaardbron oor Marais se lewe geword.

Dit het ook grootliks bygedra tot die vestiging van die beeld wat die meeste mense van Marais het. Nou het ‘n buitengewone boek deur Carel van der Merwe oor Marais verskyn wat ‘n besonder interessante, alternatiewe blik op Marais se lewe oopmaak. Van der Merwe, bekend as die skrywer van spannende romans soos Nasleep en Geldwolf, is veral aangespoor deur Rousseau se opmerking in Die groot verlange dat daar weinig inligting beskikbaar is oor die tyd wat Marais in Londen deurgebring het (1897–1902). Marais was vir die grootste deel van die Anglo-Boereoorlog in Londen en het eers teen die einde van die oorlog aan ‘n ekspedisie deelgeneem wat oënskynlik probeer het om vanuit Mosambiek wapens vir die Boere te smokkel.

Van der Merwe het aanvanklik gedink hierdie tydperk waaroor daar so min oor Marais se doen en late bekend is, bied Donker stroom is waarskynlik die boeiendste nie-fiksie wat jy hierdie Desembervakansie sal lees, sê Willie Burger die ideale stof vir ‘n roman oor Marais. Vir ‘n fiksieskrywer bied sulke “donker kolle” in die geskiedenis immers die ideale geleentheid om die verbeelding vrye teuels te gee. Maar Van der Merwe wou eers alle moontlike inligting oor daardie paar jaar probeer bekom. Hy ontdek toe dat daar wel heelwat meer inligting beskikbaar is as wat Rousseau gemeen het. Donker stroom is ‘n ongelooflik boeiende historiese werk waarin Marais se lewe opnuut belig word en ‘n vars blik op die geskiedenis bring.

Donker stroom is waarskynlik die boeiendste nie-fiksie wat jy hierdie Desembervakansie sal kan lees. Dit is deeglik nagevors (dit word aangeprys deur historici) en meesleurend deur ‘n bobaas-storieverteller oorgedra. Uiteindelik bied dit nie slegs ‘n perspektief op Marais wat die ingeburgerde opvattings (wat in Afrikaner-nasionalistiese geskiedskrywing ingebed is) ondermyn nie, dit gee terselfdertyd ‘n insiggewende blik op die aanloop tot die Boereoorlog. Van der Merwe vertel op meesleurende manier hoedat Marais in sy koerant, Land en Volk (wat voor die oorlog deur Johannesburgse mynbase en ná die oorlog deur die Britse regering gefinansier is), vurig teen Paul Kruger geveg het en daarop uit was om die korrupsie van Kruger en sy regering op elke moontlike manier te ontmasker. (Die ooreenkomste tussen Zuma en hedendaagse “tenderpreneurs” en die Kruger-bewind met sy “konsessies” aan familielede is opvallend.)

Marais het hom beywer vir samewerking tussen die “uitlanders” en die Boere en wou sodoende ‘n oorlog teen Brittanje voorkom. Hierdie oortuiging dat die Transvaal (Zuid-Afrikaansche Republiek) soos die VSA sou kon groei uit immigrante van oral oor die wêreld, sáám met die Voortrekker-afstammelinge, en wat dan onafhanklik van Britse oorheersing sterk sou kon staan, het saam met sy afkeer in Kruger daartoe gelei dat Marais aktief met die “uitlanders” saamgewerk het en dat hy later onwillig was om aan die oorlog deel te neem.

Uit ‘n sekere oogpunt kan hy selfs as verraaier beskou word, veral omdat hy goed met vooraanstaande “uitlanders” bevriend was – vriendskapsbande wat hom in staat gestel het om sy koerant se anti-Kruger-propaganda aan die gang te hou en wat hom uiteindelik ook in Londen toelating tot regsopleiding laat kry het. Donker stroom (die titel kom uit Marais se bekende gedig “Diep rivier”) bied ‘n meesleurende geskiedenis van die ou Transvaal van 1890–1907 en is ‘n bewys dat geskiedenis geen droë relaas hoef te wees nie, maar soos ‘n spannende speurverhaal die leser saam met die outeur op ‘n boeiende ondersoek neem. Die boek keer op oortuigende manier baie van die algemene opvattings oor Marais op sy kop, en lê prosesse van Afrikaner-miteskepping bloot. Boweal bied dit ‘n ongelooflik boeiende blik op ‘n buitengewoon talentvolle en komplekse mens.

Send this to a friend