Kies ‘n boek: Split

Willie Burger kyk na Debbie Loots se debuutroman

Willie Burger

Split is ‘n debuutroman wat oor drie generasies vroue se ervarings in die Afrikaanse gemeenskap van die 1970’s en 1980’s handel. Die titel dui onder meer op ‘n gesin wat weens ‘n egskeiding verbrokkel. Aanvanklik staan die jong Vera, met haar planne om uit Randfontein en haar beduiwelde myner-pa se huis weg te kom, sentraal, maar later verskuif die klem al meer na haar dogter, Lien, en háár planne om ‘n kunstenaar te word. Die ouer generasie vroue, Vera se ma en haar tannie (die “lesbiese” en volgens sommige “kommunistiese” skrywer en menseregte-aktivis) se lewens word ook betrek.

Dit is ‘n bekende verhaal van hoë ideale en beperkte geleenthede (veral vir vroue) om bo hul omstandighede uit te styg. Telkens bederf ‘n vroeë swangerskap of ‘n oorhaastige huwelik die vroue se kanse om hul ideale te verwesenlik. Vera word op Randfontein in die huis van ‘n uiters streng pa en swygende, onderdanige ma groot. Skaars uit die skool, trou sy met Willem wat haar voete onder haar uitslaan en wat haar wegneem na Pietersburg, waar hy ‘n verkoopsman is. Sommer gou het hulle drie kinders. Willem reis baie en kan geen vrou uitlos nie, veral nie vir Poppie van die poskantoor nie. Vera is bewus van Willem se rondlopery en knoop self ‘n verhouding met hul buurman aan.

In hierdie tyd ontdek sy aspekte van haar eie seksualiteit (gedeeltelik in verbode boeke en gedeeltelik saam met die ervare buurman). Die huwelik verbrokkel uiteindelik en sy en haar kinders keer terug na haar ma op Randfontein. Willem kry sy Poppie, maar gou blyk dit dat sy ook nie is wat hy wou gehad het nie. Willem word verskeur deur sy verantwoordelikheid teenoor sy kinders, sy ouers se eise en pogings om vir Poppie tevrede te stel. Vera trou met haar skoolvriend, die doodgoeie en goed dooie Hendrik. Saam trek hulle Durban toe agter werk aan.

Maar Vera hou nie van die Natalse klimaat nie en uiteindelik trek hulle weer terug Randfontein toe. Die kinders word uiteraard ontwrig deur die heen-en-weer-trekkery, hul afwesige pa en Vera, wat nie die ideale ma is nie. Vir baie lesers sal die 1970’s en 1980’s wat opgeroep word, bekend wees: Lien en haar skoolvriendin luister na Chris de Burgh se verbode Spanish Train, Willem ry ‘n Ranchero, hare word “ge-perm”. Later, teen die laat-tagtigs, beleef Lien ‘n Voëlvry-konsert en sy lees die Vrye Weekblad. Die lewe op die myndorp, die platteland, Durban se Bluff en Johannesburg se Westdene/Triomf-omgewing, word in detail beskryf, maar anders as in talle ander Afrikaanse romans, is die beskrywings van alle nostalgie ontdaan. In geen stadium kry die leser die indruk dat daar sprake is van die “goeie ou dae” nie – ook nie van ‘n skielike politieke bewussyn wat tot ander insigte lei nie.

Daarvoor is die lewens van al hierdie karakters te vol teleurstellings. Die emosies is egter ingehoue en maak meestal nie ‘n sentimentele aanspraak op die leser nie. Van vroeg af reeds leer die siniese en teleurgestelde Vera vir Lien dat daar nie iets soos liefde is nie. Al die karakters word op die een of ander manier deur die lewe teleurgestel. Nie een van hulle is in staat om by die samelewingseise aan te pas nie en hulle kan ook nie die samelewing verander nie. Die uitsondering is die karakter Brenda. Vera se ma verduidelik vroeg in die roman aan haar dat Brenda “iets van haar geleenthede gemaak het”. Lien kry uiteindelik ook ‘n geleentheid om te studeer, om weg te breek uit die werkersklasbestaan, maar die geleentheid word bederf – juis omdat sy eintlik nie kan glo dat sy ‘n geleentheid gekry het nie.

Daar is iets meedoënloos aan die bykans 350 bladsye van Split. Elke karakter se optimisme en hoop word telkens vernietig en dit lei tot verslaenheid, sinisme en desperate pogings om oor te begin en elders geluk te vind. Maar danksy meesleurende vertelling met voortdurende perspektiefwisselings en boeiende karakters, hou ‘n mens aan met lees. Die roman ondersoek talle aspekte van menswees. Die idee om sigself te verbeter, om uit die omstandighede te ontsnap, hetsy deur godsdiens, studie, ‘n ander werk, ‘n ander plek, ‘n ander meer bevredigende seksuele ervaring, lei nooit tot vergenoegdheid nie. Politiek is deurentyd op die agtergrond teenwoordig – die ingeburgerde rassisme van die verbrokkelende Afrikaanse gemeenskap word subtiel ondersoek.

Split loop die gevaar om bloot ‘n gedetailleerde beskrywing van die gevolge van ‘n gebroke huwelik in die 1970’s te wees, waardeur vroue se situasie in die Afrikaanse gemeenskap van daardie tyd ondersoek word. Ek dink tóg dat Loots daarin slaag om heelwat meer te doen, juis omdat oordele nie uitgespreek word nie, omdat stereotipering telkens vermy word deur die verrassende veelkantigheid en onvaspenbaarheid van die karakters sodat iets van menslike bestaan in vasgedrukte situasies ondersoek word, en veral omdat sy nostalgie ontwyk.

Send this to a friend