Só skryf ‘n wenner – 12 November 2011

JM Coetzee het in 2003 die tweede Suid-Afrikaner geword wat met die Nobelprys bekroon is

Nadat JM Coetzee die Nobelprys vir letterkunde ontvang het, het André Brink opgemerk dat dit eintlik merkwaardig is dat ’n land met ’n relatief klein literêre wêreld reeds twee Nobelpryswenners opgelewer het. (Die eerste was Nadine Gordimer in 1991.)
Coetzee se Disgrace is waarskynlik sy roman wat die meeste opslae gemaak het. Hy het in 1999 die Booker-prys vir Disgrace gekry – een van slegs twee skrywers wat ooit twee keer met dié gesogte prys bekroon is. In 1983 is Life & times of Michael K ook met die Booker-prys bekroon.
Disgrace het Suid-Afrikaanse lesers in twee duidelike kampe verdeel: enersyds was daar diegene wat – soos die meeste inter­nasionale lesers – eenvoudig deur die komplekse roman verstom is. Andersyds was daar diegene wat die roman as ’n aanval op die “nuwe Suid-Afrika” ervaar het en die roman is selfs in ’n voorlegging van die ANC voor die Menseregtekommissie as voorbeeld van rassisme in die media ingesluit.
Een van die sentrale gebeurtenisse in die roman is ’n “plaasaanval” waartydens Lucy, die dogter van die hoofkarakter, David Lurie, deur die aanvallers verkrag word, terwyl hy aan die brand gesteek word. Hierdie ge­beur­­tenis is deur sommige as ’n voorbeeld van ste­reotipering van swart mense as wraak­gie­rige verkragters beskou. Ander mense het weer besonder geskok en verontwaardig gereageer op Lucy se besluit om die kind wat weens die verkragting in haar verwek is, te behou en groot te maak, terwyl sy ook van haar plaas afstand doen. “Is dit nou Coetzee se oplossing vir ons land,” wou sommige weet, “dat wit mense op so ’n manier moet boete doen vir die vergrype van die koloniale en apartheidsverlede?”
Hierdie reaksies op Coetzee se werk is net té maklik, té eenvoudig – na albei kante toe. Veel meer is op die spel: Nadenke oor die idee van aanspreeklikheid, oor maklike, moraliserende en veroordelende uitsprake, oor die pynlike ervaring van verwydering tussen pa en dogter, oor die verset van ’n individu teen die veranderde omstandighede in ’n geglobaliseerde wêreld en, soos altyd in Coetzee se werk, die probleme om met die verlede tot ’n vergelyk te kom.
Anders as baie ander skrywers, verras Coetzee ’n mens met elke nuwe roman. Die leser wat ná Disgrace weer ’n soortgelyke roman verwag het, is verras met uiteen­lo­pen­de tekste. Elizabeth Costello bestaan uit “agt lesse” – aangebied as toesprake en ervarings van ’n bekende (fiktiewe) skrywer, Elizabeth Costello. Vir party lesers is hierdie “lesse” bloot filosofiese argumente (oor by­voor­beeld die voordele van ’n vegetariese lewenswyse) en nie ’n roman nie. Dit is lesers wat vergeet dat die lesings binne fiksie aan­ge­bied word – as die storie van Elizabeth Costello – eerder as toesprake deur JM Coetzee.
Hierdie manier om in ’n soort essay oor sekere aspekte van die lewe na te dink, binne die raamwerk van ’n groter roman, word ook op fassinerende manier aangetref in Diary of a bad year, waarin die bladsye van die boek in twee (later selfs in drie) gedeel is. Die boonste deel van elke bladsy bevat ’n skrywer se meningstukke wat hy vir ’n Duitse publikasie skryf.
Hierdie tipiese essays het titels wat begin met “On …” en die temas is so uiteenlopend soos voëlgriep, die slag van diere, skaamte, klassieke letterkunde, wiskunde en Australiese politiek. Onder hierdie “essays” wat op die boonste gedeelte van elke bladsy gedruk is, is ’n streep oor die bladsy en daar­onder volg die “verhaal” van die skrywer wat hierdie essays skryf. Hy ontmoet ’n mooi meisie in sy woonstelblok en vra haar om sy meningstukke te tik. Die verhouding tussen die ou skrywer en die jong vrou word ’n boeiende verhaal. Later word, onder nog ’n streep dwars oor die bladsy, ook ’n derde deel op elke bladsy bygevoeg waarin die verhouding tussen die vrou en haar vriend beskryf word.
Een van die fassinerendste aspekte van Coetzee se werk is die manier waarop hy sy outobiografie in die vorm van fiksie aanbied. In Boyhood beskryf hy sy grootwordjare op die Kaapse platteland. In Youth word Coetzee se ervarings as jongman in Engeland beskryf en in Summertime word die lewe van die reeds gestorwe skrywer, JM Coetzee (met ’n fokus op sy dertigerjare in die Kaap), deur ’n student nagevors.
Die lang onderhoude met vroue met wie Coetzee verhoudings gehad het, ’n niggie en ’n oudkollega, het ’n ligte, ironiese toon en bied insigte, nie soseer in die mens Coetzee nie, maar oor menswees en in die aard van identiteit.
Coetzee het om baie redes die Nobelprys gekry. Eerstens oor die fassinerende idees in sy werk, natuurlik. Ook omdat hy voortdurend verras. Maar veral oor die manier waarop hy gemaklike vaspenning ondermyn en ’n erva­ring, eerder as blote idees bied. Hierdie erva­ring skep hy vir die leser deur die ongelooflike manier waarop hy taal inspan. 

Sy boeke
1974 Dusklands
1980 Waiting for the Barbarians
1983 Life & times of Michael K
1986 Foe
1990 Age of Iron
1994 The master of Petersburg
1999 Disgrace
2003 Elizabeth Costello
Gefiksionaliseerde outobiografie
1997 Boyhood
2002 Youth
2009 Summertime  Vk

Send this to a friend