Ken jou storie: So skryf ’n wenner – Jaco Jacobs

By laerskole word Jaco Jacobs byna soos ’n popster ontvang. Hy het ook al seker al die pryse gewen wat moontlik deur skrywers vir jong lesers gewen kan word. Maar dit is nog nie genoeg nie!

Deur WILLIE BURGER

As daar een mens is wat ’n enorme bydrae tot die vorming van jong Afrikaanse lesers maak, is dit Jaco Jacobs. In boek ná boek, of dit kortverhale, romans of verse is, sleur hy lesers mee en maak lees in Afrikaans cool. Jacobs is besig om in Afrikaans te doen wat Roald Dahl of David Walliams in Engels gedoen het: Hy kry kinders aan die lees.  ’n Baie indrukwekkende nuwe boek van Jacobs wat pas by Lapa verskyn het, is Moenie hierdie boek eet nie! ’n Rympie vir elke dag van die jaar.

Die kleurryke illustrasies (wat so ’n bietjie aan Dr Seussboeke herinner) deur Zinelda McDonald maak die versameling versies sommer baie aantreklik. Dit is ’n lekker dik boek met 365 rympies – een vir elke dag van die jaar. Ek kan nie eens begin om te vertel waaroor al die rympies gaan nie. Jacobs se rympies is vrolik en lig en sy humorsin vermaak kinders (en volwassenes). Enigeen met laerskoolkinders sal dadelik weet dat hierdie gediggie ’n treffer sal wees: ’n Doodgewone dag by die zombieskool

“Juffrou, my hande het voete gekry!” “Juffrou, sy rol weer haar oë vir my!” “Hou op om met my tone albaster te speel!” “Juffrou, ek het net aan sy skouer getik en toe’t hy sy agterent morsaf geskrik!” “Juffrou, waar’s my ore?” “En waar’s my onderkaak?” “Kyk – Juffrou het so pas van haar kop af geraak!”

En ’n gedig soos “My oupa is ouer as Google” sal ook volwassenes vermaak: “My oupa is ouer as Google – dis moeilik om te glo, maar ek het dit gaan google en Google sê ook so! Kinders (en volwassenes) hou nie sommer vanself van taal nie. ’n Liefde vir taal, wat uiteindelik ook tot ’n versigtiger en raker gebruik van taal lei, spruit uit ’n bewuswording van taal, veral van die klank en die ritme van taal.

Hierdie rympies van Jacobs is presies die soort taalgebruik waaraan kinders blootgestel moet word ten einde hul taalgevoeligheid te ontwikkel – ’n gevoel vir die klank en ritme, vir die seggingskrag, vir die moontlikhede van woorde. Ek dink dat hierdie verse ’n onontbeerlike bydrae kan lewer tot die ontwikkeling van taalgevoeligheid – sonder preek, sonder die gevoel dat lessies geleer word, bloot met die meevoering van uitbundige spel. Agterop die pragtige boek staan dat dit “’n Moet-hê-boek vir elke kind se boekrak” is. Eintlik kan ek daarmee volstaan.

LEES OOK: So skryf ‘n wenner: Marlon James

Die swakste restaurant in die heelal is ’n versameling van tien kort stories deur Jacobs. Die boek is deur Dale Blankenaar geïllustreer. Dit is ongelooflik dat Jacobs sommer net een ná die ander storie kan uitdink. Die verhale het telkens ’n verrassende wending aan die einde – soos wanneer ’n suur ou buurtannie die hele tyd kla oor die kind se kitaarspel, en wanneer die gesin tot die verligting van die buurtannie trek, neem ’n rockband hul intrek in die huis! Talle verhale is gemoeid met die dinge waarmee byna alle kinders kan identifiseer – ’n gevoel van nie-behoortnie, met vrese vir verwerping deur ander, skaamte vir die ouers of bloot die ervaring dat niemand jou raaksien nie. Maar nooit word die verhale prekerig nie.

Terwyl die kort storietjies so tussen 8 en 20 bladsye elk (waarvan talle bladsye uit illustrasies bestaan) lank is, is ’n storie soos Dinge wat ek nie van skape geweet het nie, ’n veel langer verhaal (134 bladsye) vir groter kinders. Ek weet ek is veronderstel om as volwassene, wat boonop hoofsaaklik “letterkunde” bestudeer, nie oor ’n “kinderboekie” opgewonde te raak nie. Maar Jacobs se storie het my ingesleep en ek kon nie ophou lees nie. Luan se pa stuur hom om die vakansie saam met sy ouma in die Karoo deur te bring, terwyl sy prokureurpa die gemors wat Luan en sy vriende by die skool veroorsaak het, “opruim”. Luan sien vreeslik daarteen op om saam met sy weird ouma deur die Karoo te ry waar sy foto’s van windpompe neem. Hy kan nie dink hoedat hy die hele vakansie sonder sy Playstation, die winkelsentrums en sy pêlle sal kan oorleef nie. Maar dan ontmoet hy ’n meisie, en ’n depressiewe skaap, en sy hele lewe verander …

Send this to a friend