Boekhoek: Hoekom skryf mense?

boekhoek_blog

Lien Botha: Wonderboom en baie ander

Toe ons leeskring oor Lien Botha se roman Wonderboom gepraat het, het een lid ontsteld gevra hoekom sy dit geskryf het. Dis dan so duidelik dat sy haar pa, ´n bekende minister van buitelandse sake van die vorige bedeling, wie se kiesafdeling Wonderboom was, bykom. Haar ma se dood vyf jaar nadat sy “in die huis verongeluk het”pryk met dag en presiese datum, sowel as vele ander verwysings.

Snaaks genoeg noem die verteller van die verhaal, Magriet, die boek egter ´n vergeetboek  –sy probeer alles neerskryf sodat sy dit nie vergeet nie, maar stadigaan raak sy al hoe meer kwyt, versinnebeeld in die minder wordende artefakte op die foto’s vooraan elke hoofstuk.  Uiteindelik verloor sy alles: “Sy het finaal en onteenseglik alles vergeet, want die sandsteen in haar brein het elke herinnering opgesuig en verorber.”

Take your broken heart and make it into art, het die aktrise Carrie Fischer glo gesê, en dis wat baie kunstenaars doen. Dis wat André P Brink se seun gedoen het met sy uitstalling Unspoken/Stilswye met die afdeling Pappa (Die blou deur)waaroor ek in ´n vroeëre blog geskryf het. Dis ook wat Dominique Botha in Valsrivier gedoen het oor die dood van haar geliefde broer.

Mense skryf dus dikwels om perspektief op hul lewe te kry en om juis nie te vergeet nie.

Aharon Appelfeld  is in 1932 gebore en het as kind ‘n “Todesmarsch” na ´n konsentrasiekamp met sy pa oorleef nadat sy ma vermoor is. Hy het uit die kamp ontsnap en in woude oorleef, toe op plase soos ´n slaaf net vir kos en slaapplek gewerk en in die proses het hy sy taalvaardigheid omtrent heeltemal verloor. Hy was soos ´n dier, sê hy, swygsaam en woordeloos. Toe hy as opgeskote seun in Israel aankom en in ´n kibboets verplig word om Hebreeus te leer, het dit hom jare geneem om gemaklik daarmee te raak. Nou skryf hy in dié taal en probeer sy verlede uitpluis en die gapings in sy geskiedenis vul, soos in Geschichte eines Lebens, die Duitse vertaling van sy Hebreeuse boek van herinneringsfragmente.

Nog ´n boek van ´n skrywer wat op die spore van die verlede loop (en wat toevallig ook in 1932 gebore is), is Jürgen Becker. Sy Aus der Geschichte der Trennungen word as ´n roman aangebied, maar dit is sekerlik baie naby aan sy eie geskiedenis: die tydsverloop en plekke stem met sy lewe ooreen. Die “skeidings” (Trennungen) in die titel is dié van sy ouers en sy ma se selfmoord, dié van die dorp en land waarin hy gedurende en kort ná die oorlog gewoon het en wat toe Oos-Duitsland geword het en hy eers na dekades weer ná die hervereniging kon besoek. Dis nie so traumaties soos Appelfeld se lewensverhaal nie, maar hy probeer ook sin maak van dinge, hoofsaaklik deur plekke te besoek waar hy as kind was.

En op die oomblik lees ek ´n boek deur Astrid Seeberger: Nächstes Jahr in Berlin, uit die Sweeds vertaal. Dit gaan oor haar verhouding met haar ma, wat aan die einde van die oorlog met niks uit die destydse Oos-Pruise, nou Pole, gevlug het. Sy het geen mkontak met haar familielede gehad nie en het vermoed hulle was dood en sy het nie eens ´n identiteitsdokument gehad nie; haar land van herkoms het nie meer bestaan nie.  Astrid, haar dogter, vlug self op 17-jarige ouderdom na Swede omdat sy dit nie kon verduur om met haar oorlogsbeskadigde ouers te leef nie. Na haar ma se dood probeer sy hul verhouding en haar ma se verlede te verstaan deur dié boek te skryf.

Antoine Leiris, wie se vrou Hélène in November 2015 in ´n terroristeaanval in Parys gesterf het,  het kort ná haar dood daaroor begin skryfas ´n soort terapie, om sy gevoelens beter te verstaan en afsluiting te kry. Die dun boekie is al in meer as 19 tale vertaal en is ´n topverkoper. Hy het inderdaad gedoen wat Carrie Fischer aanbeveel: Take your broken heart and make it into art.

Die gedig by die blog is deur Sheila Cussons. Dit lyk amper of sy wat hierbo staan, weerspreek, maar eintlik sê sy dat sy haar in die verlede en in die natuur ingeskryf het en verby taal is.

 

Bergpaadjie

Jy sê: lees jou gedig vir my

maar hoe kan ek wat skrywende

in klippe opgebreek het

en ´n antieke geheue en ´n gebreekte pot

hoe kan ek wat skrywende

die wilde tiemie geword het

wat geur in die wind

en ongeletterd soos God

Send this to a friend