Asemrowende asaleas

asemrowende_saleas

Dit maak nie saak of jy ’n leek of ervare tuinier is nie, dié geharde immergroen struik sal enige tuin in ’n lushof omskep

CONALL OOSTERBROEK

Asaleas, of rododendrons soos hulle eintlik genoem moet word, lyk manjifiek in die lente, en omdat hulle so goed in enige provinsie van ons land aanpas, word hulle net al hoe gewilder.

Asaleas is ’n immergroen struik wat die kenner sowel as die beginnertuinier baie sal beloon. Moenie dink omdat hulle so ’n delikate vorm en fyn blomme het, is hulle moeilik om te versorg nie. Behalwe vir ’n paar uitsonderings is dit glad nie die geval nie. Asaleas is geharde plante, groei maklik en is taamlik probleemloos. Daar is geen geheimenisse aan hulle nie, net ’n paar variëteite het spesifieke behoeftes. As jy dit verstaan, sal die plante jou beloon deur gesond en aantreklik te wees.

POSISIE
Asaleas is skaduliewend en vaar die beste in gefilterde skadu. Oggendson is verkieslik bo namiddagson. Houers sal goed vaar op die stoep of balkon.

GROND
Mik vir suurgrond met ’n pH van 4,5 tot 5,5 wat goed dreineer en humusryk is. Baie sanderige en swaar kleigrond moet verryk word. ’n Goeie reël is om enige plantplek te verbeter deur organiese materiaal in die vorm van goed verrotte kompos, veen, blaargrond of droë gras by te voeg om die grond gesonder te maak.

PLANTWENKE
Berei ’n gat voor wat twee keer so groot soos die houer is waarin die plant gekoop is. Klop die wortelbal versigtig uit die houer en plant dit sodat dit op dieselfde diepte is as wat dit in die oorspronklike houer was. Vul die gat rondom die plant halfpad op met jou hande en druk stewig vas. Lei dit goed nat en wag totdat al die water verdwyn het. Vul die res van die gat met tuingrond wat met kompos gemeng is op. As jy jou asalea in ’n pot plant, gebruik hoofsaaklik kompos en sorg dat die pot goed dreineer.

WATER
Die grond moet ten alle tye klam wees, maar nie papnat nie. Wees dus versigtig om nie te veel water te gee nie. Asaleas se wortels groei natuurlik naby die grondoppervlak, so as jy min, maar gereeld water gee, sal dit veroorsaak dat die wortels nog nader aan die oppervlak groei om by die water uit te kom en hulle sal uitdroog. Om dit te voorkom, lei elke derde dag goed nat, afhangende van die klimaat in jou streek. Onthou om nie die grond rondom die plant te versteur nie.

BEMESTING
Plant die asalea saam met superfosfaat en gebruik dit weer twee maande voordat dit moet begin blom. Bemes met 2.3.2, kraalmis of ’n vloeibare messtof met ‘n seewierbasis gedurende die groeiseisoen. Vir houers is ’n 5.1.5-messtof wat stadig vrystel ideaal vir ’n blaaraanwending elke ses weke.

DEKLAAG
Weens die vlak wortelstelsel is ’n deklaag noodsaaklik om te keer dat die plant uitdroog. ’n Ligte deklaag van veen, suur kompos of kraalmis met blaargrond of droë gras is baie voordelig. Goed verrotte dennenaalde kan ook gebruik word.

SNOEI
Trek die snoeiskêr nader nadat die plant geblom het om wilde, lelike takke en groeipunte af te knip om die plant bosserig te hou.

PESTE EN SIEKTES
Dié plante is taamlik pesvry. Rooi spinnekoppe, blaaspootjies en netvlerkbesies is van die algemeenste plae en kan beheer word met enige aanbevole gifstowwe. Skimmel en swartroes kan met ’n swamdoder teengewerk word.

Meer inligting
Inligting verskaf deur Life is a Garden. Besoek www.lifeisagarden.co.za vir meer

SOURCES
CONNALL OOSTERBROEK Vertaling BEATRI KOTZÉ

Send this to a friend