Behandel angsaanvalle: 13 wenke

behandel_angsaanvalle

Angsaanvalle het ‘n taamlik alledaagse verskynsel geword. Behandel dit reg met ons wenke.

Ansja Ferreira

Tamara Zanella, ’n beradingsielkundige wat in die Verenigde Koninkryk en Suid-Afrika geregistreer is, sê dis belangrik om behandeling by ’n gekwalifiseerde KGT-terapeut te kry.

Vir diegene vir wie terapie nie moontlik is nie, gee Tamara ’n paar vinnige wenke, met erkenning aan Master Your Panic deur Denise Beckfield:

1. Gun jouself ’n bietjie alleentyd en doen alles stadiger. Probeer om stadiger asem te haal en jou gedagtes te kalmeer. Probeer om jou hele liggaam van kop tot tone stadiger te laat beweeg. Hervat dan die aktiwiteit waarmee jy besig was geleidelik.

2. Gebruik al jou sintuie om vir jouself ‘n ontspannende toneel voor te stel. Plaas jouself dan binne-in daardie toneel.

3. As dit moontlik is, probeer om ’n ent te gaan stap. As daar mense om jou is, praat met een van hulle.

4. Stel jou ’n persoon voor op wie jy vertrou, iemand wat in jou glo, jou ondersteun en vir jou welstand omgee. Stel jou dan voor dat die persoon by jou is en jou aanmoedig.

5. Dink terug aan ’n tyd toe jy ’n soortgelyke situasie goed hanteer het of probeer ’n vorige sukses en die goeie gevoelens wat jy toe ervaar het, herroep.

6. Fokus op die hede en die konkrete voorwerpe rondom jou. Maak ’n speletjie daarvan om vir sekere besonderhede op te let of vrae uit te dink oor elke voorwerp wat jy identifiseer.

7. Tel van 20 af terug en stel jouself met elke nommer iemand/iets wat jy liefhet voor om jou sodoende kalmer te maak.

8. Fokus op ’n taak wat jou kan besig hou: Beplan jou skedule vir die dag; probeer om die name van al die Clint Eastwood-flieks wat jy al gesien het te herroep; beplan ’n heerlike ete van voorgereg tot nagereg en stel jouself voor waar jy aan alles proe.

9. Stel jouself ’n persoon voor wie jy bewonder en verbeel jou jy is daardie persoon. Dink soos hy of sy sal dink, tree op soos hy of sy sal optree en voel soos hulle sal voel.

10. Herinner jouself daaraan dat die aanvalle altyd ophou. Altyd.

11. Gaap ’n groot gaap en strek jou liggaam van kop tot tone uit.

12. Word kwaad. Neem jouself voor dat paniek nie gaan wen nie. Jy verdien beter.

13. As niks werk nie, neem ’n diep asemteug so lank as wat jy kan en hou dit in so lank as wat jy kan. Gebruik een van die ander strategieë om jou gedagtes besig te hou. Jou fisieke simptome behoort weg te gaan en weg te bly.

Suksesverhaal
Tamara het Jane* (30 jaar en ongetroud), ’n sakevrou in ’n groot organisasie, ’n paar jaar gelede behandel.

Jane het nooit vantevore enige angsprobleme ervaar nie, maar een dag toe sy vir ’n belangrike vergadering voorberei, het sy skielik duiselig, warm en gloeiend gevoel en was bang dat sy flou sou word. Haar hart het geklop en sy kon nie asem kry nie. Sy het nie geweet wat fout is nie en het haar huisdokter geraadpleeg, wat haar gerusgestel het dat niks medies fout was nie.

Antidepressante is vir die paniek aan haar voorgeskryf en dit het gelyk of dit verbeter, maar sy het steeds minstens maandeliks angsaanvalle gekry.

Jane het Tamara se hulp ingeroep omdat sy die aanvalle gedurende vergaderings gekry het en sy gevoel het dat dit ’n negatiewe invloed op haar werk gehad het. Sy het tien weeklikse KGT-sessies gehad en Tamara het aan haar kognitiewe aspekte (insluitende haar negatiewe denke) sowel as die gedragsaspekte gewerk.

Gedurende haar behandeling het sy net een paniekaanval gekry, wat volgens haar korter en nie so erg soos die voriges was nie. Ná ses en ’n half maande het Jane nie weer angsaanvalle gekry nie.

Ná ses maande het Jane se dokter ook haar medikasie verminder, totdat sy geen verdere medikasie geneem het nie. Ná die voltooiing van Jane se behandeling het Tamara ook ’n aanvullende sessie met haar gehad waarin die vaardighede weer hersien is.

Sedertdien het sy nog nie weer ’n paniekaanval of enige simptome ervaar nie.

 

Send this to a friend