Hoe kry jou kinders om beter oor die weg te kom? Hier is wenke

sibbe_band

Jou kinders se oë is skaars oop in die oggend of hulle stry. Dan gee skool hulle ‘n welkome blaaskans van mekaar, maar teen die middag is hulle weer terug bymekaar en in mekaar se hare.

 

Deur ZERELDA ESTERHUIZEN

Foto www.freepik.com

 

Kom ons wees maar eerlik, dit is nie net erg irriterend as die kinders stry nie, maar dit skep ‘n onaangename atmosfeer in die huis.

Maar hoe verstewig ‘n mens sibbe se band? Die band tussen broers en susters is belangriker as wat jy dalk mag dink. Navorsing het getoon dat ‘n stewige band tussen sibbe as kinders ‘n groot bonus vir hulle later in die lewe is. Die met positiewe verhoudings het minder depressie en hoër lewenstevredenheid gerapporteer. Sibbe gee vir mekaar emosionele, sosiale en sielkundige ondersteuning. Maak nie saak hoe ver hulle uit mekaar bly nie.

Jy gaan eendag nie meer daar wees nie, maar jou kinders behoort mekaar dan te hê en te koester.

Dis ouers se taak om te verseker dat daardie band van kleins af stewig moet wees.

Raychelle Cassada Lohmann is die skrywer van verskeie boeke oor tieners. Sy gee die volgende wenke:

 

  • Begin van vroegs af. Moedig respek tussen sibbe aan en moenie negatiewe of skadelike gedrag tussen hulle duld nie.
  • Gee vir jou kinders geleentheid om tyd en aktiwiteite met jou te deel. Wees op die uitkyk na mededinging om aandag en moenie stories aandra oor mekaar duld nie.
  • Moenie voortrek nie. Dit is sekerlik een van die grootste redes waarom sibbe baklei. Wys jou kinders dat jy hulle elkeen waardeer en laat hulle spesiaal en gewaardeerd voel.
  • Hou gesinsvergaderings waar almal kan gesels oor kwessies en ook vieringe. Gee elkeen kans om te praat oor probleme en fokus op oplossings.
  • Moedig gesonde kommunikasie tussen sibbe aan. As hulle stry, laat hulle dit op ‘n gesonde manier bespreek en uitsorteer. Leer hulle hoe om te onderhandel en te gee en neem. Help hulle om reëls in te stel en sodra hulle self oplossings vir probleme kan vind, staan terug.
  • Soos kinders ouer word, moedig hulle aan dinge saam te doen. Dit is moeilik as hulle eers tieners is en onafhanklik van mekaar hul ding doen, maar doen steeds gesinsdinge saam sodat hulle kan gesels.

 

Nog drie wenke

  1. Dis ook belangrik vir kinders om alleentyd te geniet en alleentyd met Ma en Pa deur te bring.
  2. Laat kinders saam takies verrig in die huis sodat hulle kan leer om mekaar te help.
  3. As jou kinders ‘n passie deel, moedig dit aan en laat hulle saam aan aktiwiteite deelneem wat die passie betrek.

 

BRONNE: Raychelle Cassada Lohmann, www.understood.org

 

Send this to a friend