Kies ’n boek: Die bergengel, Carina Stander

Willie Burger kyk hoe fantasie in ’n tyd van ontnugtering betower

Carina Stander se roman, Die bergengel, word op die agterblad beskryf as “’n literêre gedaante wat nog nooit tevore in Afrikaans teëgekom is nie”. Die “literêre gedaante” hier ter sprake, is die fantasiegenre, wat tans wêreldwyd besonder gewild is. Fantasie is ’n fiksiegenre waarin die gebeure in ’n onrealistiese wêreld afspeel waarin toorkrag dikwels ’n belangrike rol speel en magiese wesens soos drake algemeen voorkom.

Die Arthur-legendes oor die legendariese Engelse koning in wie se avonture die towenaar Merlin ’n belangrike rol speel, is een van die modelle vir baie fantasieverhale. (Dink maar daaraan hoedat Merlin, Gandalf en Dumbledore ooreenkom met hul lang wit baarde.) Die grondslag van die moderne fantasie is in die middel van die 20ste eeu deur Tolkien en CS Lewis gelê, maar die huidige oorheersing van die genre is deur Harry Potter ingelui. Hierop het nuwe belangstelling in Tolkien en Lewis gevolg met die gewilde rolprentweergawes van Lord of the Rings en Narnia. Die Twilight-reeks het gou bygekom en sedertdien domineer die fantasiegenre in die populêre mark.

Aanvanklik is die fantasiegenre vir kinders bedoel (byvoorbeeld Harry Potter) maar spoedig is dit deur volwassenes geniet en al meer reekse wat eintlik op volwassenes gerig is, het ontstaan – byvoorbeeld Game of Thrones. Ook gevestigde literêre skrywers vind aansluiting by die fantasiegenre – soos verlede jaar se Nobelpryswenner, Kazuo Ishiguro, met sy roman The Buried Giant. In Afrikaanse fiksie het die fabelagtige sprokieswêrelde van fantasie nog nie werklik posgevat buite boeke wat spesifiek vir jonger lesers geskryf is nie. Stander is dus ’n baanbreker vir die fantasiegenre in Afrikaans. Die skep van ’n fantasiewêreld wat die leser kan meevoer en betower, is die basis van die fantasiegenre.

Tolkien se Middle Earth en Lewis se Narnia is voorbeelde van wonderwêrelde wat lesers meesleur en heeltemal van hul eie wêreld kan laat vergeet. In Die bergengel skep Stander so ’n wonderwêreld met die naam Gabriëllië, kompleet met ’n kaart van die verskillende streke, stede, berge en riviere. Die mense uit die verskillende streke praat ook verskillende tale en het uiteenlopende geaardhede. Die verhaal word uit ’n agternaperspektief, in die verledetydsvorm vertel deur ’n verteller wat reeds oor al die kennis beskik van wat gebeur het. Op hierdie manier word ’n sprokiesgevoel geskep. In Gabriëllië word stories oor bergengele vertel. Hierdie legendariese wesens kan vrede bring in tye van oorlog en teenspoed.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Elsa Joubert, Spertyd

Daar was egter lanklaas ’n bergengel en baie mense het al begin glo dat die verhale oor hulle bloot mites is. Die hoofkarakter, Eron Verberger, seun van die beroemde klokmaker Gibor (hul van is betekenisvol) word op ’n koue nag in ’n towerhuisie gebore. Vroeg in sy lewe dryf die bose Bluffer (soms in die gedaante van kulkunstenaar, soms as steltloper, soms as brandstigter) ’n wig tussen Eron en sy pa in wanneer hy suggereer dat Eron nie goed genoeg vir sy pa is nie. As tiener vertrek Eron saam met Gibor op ’n lang reis deur die land en maak orals klokke vir beeste en kerke. Gabriëllië word egter al gevaarliker met vuurstorms wat oral uitbreek en mense wat as slawe weggevoer word. Tydens ’n vuurstorm in ’n vreemde stad word Eron van sy pa geskei.

Uiteindelik onderneem hy ’n lang reis om na sy pa te soek. (Die idee van so ’n reis of quest kom dikwels in die fantasiegenre voor.) Hy word deur sy ooms op die reis voorberei wat onder meer ’n biblioteek vol boeke aan hom beskikbaar stel, maar uiteindelik moet hy die reis op sy eie onderneem. Tydens sy reise ontmoet hy ’n digter, wyse manne en verleidelike vroue. Hy vind uit hoe die ekonomie op die doodmaak van walvisse berus en hoedat die handel in walvisolie tot die vernietiging van die ekologie lei, maar ook tot korrupsie en misdade deur die politieke leiers – letterlik aangevuur deur die Bluffer in sy verskeie gedaantes.

Die quest is meer as ’n soektog na sy pa. Tydens die reis ontdek Eron baie oor die wêreld en oor mense. Hy vind uit wie sy pa en die Bluffer eintlik is, hy leer ook meisies ken en in die proses ontdek hy sy eie krag, en belangriker, hy leer homself ken. Lev Grossman redeneer dat die verskuiwing van wetenskapsfiksie na fantasie gekom het omdat die wetenskapsfiksie van die 1990’s nie meer die sentrale vrae in die populêre kultuur kon beantwoord nie – die vrae het verskuif, weg van die toekoms (ruimtewesens en tegnologiese ontwikkeling) na die verlede.

Die fantasiegenre probeer om die betowering wat weens die ontmitologisering van die wetenskaplike, moderne wêreld verlore geraak het, terug te bring en om die gepaardgaande gevoel van verlies te besweer deur ’n funderingsmite in die newels van ’n verlore verlede te fantaseer. Soos die meeste fantasieë is Die bergengel oop vir allegoriese interpretasies. Enersyds wys die roman hoe hebsug en magsug tot die vervreemding van menswees en menslikheid lei. Andersyds ondersoek die roman die gevolge van psigiese spanning weens geheimhouding en onderdrukte vrese, en hoedat ’n gewone individu dit sonder bonatuurlike kragte te bowe kan kom.

Send this to a friend