Kies ’n boek: Die opkoms en ondergang van die NG Kerk | Vrouekeur

Kies ’n boek: Die opkoms en ondergang van die NG Kerk

ng-kerk-web

Willie Burger kyk na Jean Oosthuizen se boek Die opkoms en ondergang van die NG Kerk

Die bekende teoloog van die NG Kerk, Willie Jonker, het in 1998 ’n boek geskryf met die titel Selfs die kerk kan verander. Hierin het Jonker probeer verduidelik dat die NG Kerk wel kon verander van ’n kerk wat apartheid ondersteun het tot ’n kerk wat apartheid as sonde kon bely. Jean Oosthuizen se benadering in Die opkoms en ondergang van die NG Kerk verskil van daardie optimistiese bries wat Jonker probeer bring het. Hy wys daarop dat Jonker se belydenis dat apartheid sonde is, net soos in die geval van Beyers Naudé se verwerping van apartheid jare tevore, spoedig deur die kerk ontken of verwater is. Trouens, die geskiedenis van die NG Kerk wat Oosthuizen aanbied, is deurspek met individue se helder profetiese stemme wat telkens toegesmeer en verdoesel is terwyl die individue dikwels verketter is.

Herhaaldelik lei die vrees vir kerkskeuring, die vrees vir verset onder konserwatiewe lidmate, daartoe dat verandering in die kerk byna onmoontlik gemaak word. Hy toon aan hoedat deeglike studies en oorwoë aanbevelings aan die kerk se sinode oor talle belangrike teologiese en maatskaplike sake (onder meer oor ras, gender, skrifgesag, die wetenskap) dikwels afgewater word sodat daar eintlik niks verander nie. Hierdie vrees vir skeuring wat tot weerstand teen oop debatvoering en verandering lei, word deur Oosthuizen as een van die belangrikste oorsake vir die ondergang van die NG Kerk geïdentifiseer. Oosthuizen beskryf sy boek as sy “persoonlike reis met die kerk en sy mense” vanuit sý perspektief, eerder as wat hy op ’n akademiese of historiese werk en objektiwiteit aanspraak maak.

Nietemin bied hy ’n oorsig oor die geskiedenis van die Nederduitse Gereformeerde Kerk en die verwikkeldheid tussen staat en kerk wat reeds sedert Van Riebeeck se dae gegeld het. Hy wys byvoorbeeld op die rigtinggewende besluite ten opsigte van ras wat deur die kerk geneem is, lank voordat apartheid as politieke beleid bestaan het, soos toe in 1857 besluit is dat verskillende rasgroepe afsonderlik nagmaal moet vier en in 1880 dat ’n afsonderlike NG Sendingkerk vir lidmate wat nie wit is nie, gestig moet word. Die oorsprong van die idee dat na die NG Kerk soms spottenderwys as die “Nasionale Party-in-gebed” verwys is, word met sy historiese oorsig duidelik. Oosthuizen is ’n gesoute joernalis wat ook as nuusredakteur van die NG Kerk se koerant, Kerkbode, gewerk het totdat hy op omstrede manier ontslaan is. Hoewel hierdie onverkwiklike ervaring waarskynlik sy persoonlike weergawe van die NG Kerk se geskiedenis grootliks beïnvloed het, spruit sy negatiewe oordeel oor die NG Kerk se geskiedenis nie slegs hieruit nie.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Elsa Joubert se Spertyd

Al is die boek nie, ten spyte van die aanspraak wat die titel maak, die resultaat van die noukeurige argiefnavorsing van ’n historikus nie, maar eerder ’n persoonlike verhaal in joernalistieke styl, verwoord Oosthuizen die ervaring van talle lidmate van die NG Kerk wat voel dat hulle oor jare heen mislei is. Die kwynende getalle van lidmate getuig daarvan dat al hoe meer Afrikaanssprekendes hul vertroue in die NG Kerk verloor het weens die kerk se talle lomp pogings om eers apartheid Bybels te regverdig, net om later op grond van dieselfde Bybel apartheid tot sonde te verklaar; om homoseksualiteit op grond van die Bybel as sonde te beskou, dan weer gay-huwelike goed te keur, net om weer om te swaai oor die besluit; om evolusie af te wys, dan te verduidelik dat die Bybel nie ’n wetenskaplike boek is nie, net om dan tóg by monde van ’n moderator evolusie opnuut te ontken.

Oosthuizen se beskrywing van Kerkbode se geskiedenis laat duidelik blyk dat ’n oop gesprek nie regtig in die kerk geduld word nie. Die morele moeras waarin die kerk is, blyk veral uit die hoofstuk oor homoseksualiteit waarin besluite en die omkeer van besluite buite om die kerk se eie reëls bespreek word. In ’n hoofstuk oor die duiwel word die ongelooflike geskiedenis van die kerk se omgaan met die duiwel eintlik snaaks – tot mens besef hoe ernstig dit vir sommige mense is en dat die kerk kies om nie oor duidelik belaglike standpunte besluite te neem nie. Uiteindelik bied Oosthuizen se boek ’n verdoemende geskiedenis van die NG Kerk en die feit dat hy na die “ondergang” van die kerk in die titel verwys, kom gepas voor.

Ek het onwillekeurig aan Dana Snyman se verhaal “’n Nuwe waarheid uit die ou-ou woorde” gedink, waarin hy skryf oor ’n Kersdiens wat hy op ’n plattelandse dorp bywoon. Hy beskryf sy teësin om ’n diens by te woon weens die kerk se liefdelose koersloosheid en bollemakiesieslanery, maar uiteindelik vind hy tog geborgenheid tussen gewone mense wat hulle nie steur aan die kerk se politiekery, aan die liefdelose besluite en verkettering van diegene wat ander menings wil lug nie, gewone mense wat vashou aan die troos wat ’n god bied. Oosthuizen gee toe dat daar talle predikante en gemeentes is wat opreg en liefdevol optree, wat eerlik met hul onsekerhede omgaan, maar die slegte nuus is gewis meer as die goeie nuus. Vir ongelowige of kerklose Afrikaanssprekendes is die boek irrelevant of hoogstens interessant, maar vir diegene wat met ’n identiteit worstel wat in godsdiens verstrengel is, bied die boek heelwat insig. (Penguin)

Send this to a friend