BOEKHOEK: BRINK EN JONKER SE VLAM IN DIE SNEEU

boekhoek

Hierdie blog gaan oor ´n boek wat ek nie gelees het nie en nie van plan is om te lees nie – ek is geleer om nie ander mense se briewe en dagboeke te lees nie, en sou bra ongemaklik voel om so ´n intieme oopvlekking te lees. Dus lees en maak ek my gevolgtrekking rondom die boek.

Sedert die verskyning van Vlam in die sneeu, die korrespondensie tussen André P Brink en Ingrid Jonker, het ´n ietwat voyeuristiese belangstelling in hul verhouding by lesers posgevat.

Daar is ´n nuwe toneelstuk oor hulle, haar gedigte herleef in druk en sang, en mense praat met innige meelewing oor hul liefdesverhouding. Die jong, voortvarende skrywer en die pragtige digter, ´n kind-mens met ´n hardvogtige pa, se liefde gryp die mense aan.

Dat Brink ten tyde hiervan jonk getroud was en sy vrou alleen met hul baba in Grahamstad gesit het terwyl hy kerjakker het, en dat Jonker tegelykertyd net so ´n intense seksdrama met Jack Cope beleef het, is nie vandag ter sake nie. Hulle het albei vir mekaar en hul significant others gelieg en bedrieg, maar wat, ons is mos nie meer so preuts soos vanouds nie en kan ons dus sonder skroom in die liefdesbriewe verlustig.

Ek stel my voor dat die vele mevrou Brinks (ses altesaam) die Vlam heel anders sou lees. Natuurlik behalwe die laaste een, wat vroeër net as Karina Szczurek bekend gestaan het en boeke en artikels onder dié naam geskryf het. Sy het nou as mevrou Brink haar oorlede man se liefdesbriewe gebundel – ´n rare liefdesdaad.

Die weduwee kom selfs hierdie week die Engelse weergawe in Johannesburg in gesprek met Zelda la Grange (van alle mense!) bekendstel. Die Afrikaanse weergawe verkoop soos soetkoek, maar Engelse lesers moet effe aangepor word om dit te koop. Van Ingrid Jonker weet die meeste Engelse buiten dat sy die gedig The Child geskryf het wat Nelson Mandela op ´n historiese oomblik voorgelees het, niks nie. Nie eers dat dit oorspronklik Afrikaans was nie. Dus is die vrou wat Mandela jare lank bygestaan het, en wat self Afrikaans is, maar haar boek in Engels geskryf het, net die een om met Karina Brink te kom praat.

Ek sal dié bekendstelling maar oorslaan.

Brink was altyd bewus van die potensiaal wat in die briewe opgesluit was. Hy het Ingrid se briewe aan hom en sy eie briewe (wat hy met voorbedagte rade met deurslagpapier geskryf het) oor jare bewaar en´n hofsaak teen Anna, Ingrid se suster, gevoer om van hulle terug te kry. Briewe van sulke beroemdes moes tog vir die nageslag bewaar word. Hy het al die jare grootliks geswyg oor hul verhouding en die briewe soos ´n kleinood opsygesit vir ná sy dood. En nou kry almal insae in die intieme gebeurtenisse van die laaste jare van Ingrid se lewe.

Brink se oudste seun, Anton, is ´n kunstenaar en het pas ´n uitstalling in die Breytenbach-galery op Wellington gehad. Die titel daarvan was Unspoken/Stilswye en het oor sy verhouding met sy pa gehandel. Hy sê Vlam in die sneeu was “a painful read for me: I was a few months old when this was happening, living in a tension-filled house with parents who were avoiding each other and the elephant in the room.” Dis so te sê die sneeu rondom die vlam van sy pa se liefde.

´n Installasiewerk in sy solo-uitstalling met die naam Pappa (Die blou deur) bestaan uit ´n blou geverfde deur met allerhande artefakte daarteen, o.a. ´n Playboy-tydskrif van sy geboortemaand en –jaar met ´n kondoom naas ´n foto van ´n baie jong Brink en baba Anton. Soe, dis darem veelseggend!

Van agter die blou deur kan ´n mens klassieke musiek en geluide van ´n tikmasjien hoor – maar die kind was duskant die deur en sy pa was eintlik “in many ways a stranger to me”. Die uitstalling is kennelik ´n poging om hul verhouding ná sy dood na te speur en sin daarvan te maak. Die Don Juan van ´n pa wat grootliks uit sy lewe afwesig was (seker vir al vier sy kinders by sy diverse vrouens) waaroor die lesers van Vlam swymel, het dus ook maar sy kinders verwaarloos, soos Ingrid vir Simone. Maar sy was ´n ma met ´n karige inkomste sonder ondersteuning, en Anton en die ander het darem ´n versorgende ma ook gehad.

´n Mens moet seker ter versagting in gedagte hou dat Ingrid maar 30 was en Brink twee jaar jonger toe hulle ontmoet het. Dis ´n jammerte dat sy haar lewe so ondraaglik gevind het dat sy dit twee jaar later beëindig het.

Die gedig by hierdie blog moet natuurlik een van Ingrid Jonker self wees en dit verwoord die einde van haar verhouding met Brink op ´n skrynende wyse.

Send this to a friend