Kies ’n boek: Ingrid Jonker

ingrid-jonker-web

Willie Burger kyk na ’n biografie oor Ingrid Jonker deur Petrovna Metelerkamp

Dit is verstommend dat Ingrid Jonker, meer as 50 jaar ná haar dood, steeds die verbeelding van lesers aangryp. Natuurlik is haar gedigte se oënskynlike eenvoud en klankrykheid steeds oorrompelend. Maar sy het eintlik relatief min gedigte geskryf, slegs drie bundels, waarvan die laaste, Kantelson, eers ná haar dood gepubliseer is. Baie ander digters met veel omvangryker oeuvres van wie meer gedigte in bloemlesings opgeneem is, en oor wie se werk meer verhandelings en proefskrifte geskryf is, se lewens is nog nooit in biografieë vasgelê nie.

Oor die lewe van Jonker is hierdie egter al die vierde boek wat gedurende die afgelope 15 jaar verskyn het (afhangende van hoe mens “biografie” definieer en as mens byvoorbeeld LM van der Merwe se Gesprekke oor Ingrid Jonker (2006) ook bytel). Verder het dokumentêre rolprente oor haar verskyn, haar gedigte is getoonset – deur onder andere Chris Chameleon – en haar lewe is tot verhoogdrama verwerk. Benewens haar poësie se ontstellende vermenging van onskuld en verskrikking, is dit veral die tragiese einde van haar lewe op 31-jarige ouderdom, die raaisels om haar dood en lewe, waaroor mense steeds bly wonder en wat waarskynlik tot nóg ’n biografie aanleiding gegee het.

Petrovna Metelerkamp is moontlik die een mens met die meeste inligting tot haar beskikking om ’n gesaghebbende biografie oor Jonker te skryf. Reeds in 2003 het sy die “eerste biografie” oor Jonker, Ingrid Jonker, beeld van ’n digterslewe, saamgestel. Dit was nie ’n poging om ’n volledige biografie te wees nie, maar ’n samestelling van talle dokumente, briewe en inligting uit onderhoude wat sy oor Jonker versamel het en wat ’n aangrypende, dog ontglippende verhaal oor die lewe van Jonker vertel het. Metelerkamp is al dekades lank besig om gesprekke te voer en bronne te versamel. Sekere inligting was in ’n stadium onder ’n embargo. Ingrid Jonker se suster, Anna Jonker, het inligting baie selektief beskikbaar gestel en sodoende probeer om haar suster se beeld te beheer.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Ingird Jonker

Kort nadat haar lyk in Drieankerbaai in Kaapstad uitgespoel het, was daar reeds talle bespiegelings oor wat dan presies tot haar selfdood aanleiding sou gee. Sommige mense het beweer dat dit ’n ongeluk was dat sy verdrink het, ander dat sy lank reeds aan depressie gely het. Dikwels is beweer dat die einde van haar verhouding met André Brink tot haar wanhoop aanleiding gegee het. Ander bewerings dat sy oor ’n lang tyd al meer selfvernietigend opgetree het, is ook gehoor. ’n Beeld van ’n gepynigde kunstenaar, heeltemal te sensitief en onskuldig vir die ru wêreld waarin sy misbruik, verwerp en onverstaan reeds van kleintyd af alleen haar weg moes vind, het ’n romantiese aantrekkingskrag. Iemand wat op soek was na ware liefde en aanvaarding, maar wat telkens verwerp is, wat met besondere talent geseën is en ’n sentrale plek in ’n woelige kunstenaarsgemeenskap ingeneem het, bied veel stof vir sensasionele opwinding: seks, partytjies, politiek, kuns, verset.

Die nuuskierigheid oor wat presies in so ’n kreatiewe, kwetsbare gemoed omgaan, veroorsaak die belangstelling in kunstenaars soos Jonker wat jonk sterf. Sy word dikwels met Sylvia Plath vergelyk, maar iets van die boeiende aard van mense soos Marilyn Monroe, James Dean, Amy Winehouse, Kurt Cobain en meer onlangs Avicii, behou ’n stuk romantiese misterie. Anders as die meer saaklike “Jacanasakbiografie” deur die gerespekteerde akademikus, Louise Viljoen, wat in 2012 oor Jonker verskyn het, is Metelerkamp se nuwe biografie baie omvangryk (437 bladsye teenoor die 166 bladsye van die “sakbiografie”). Metelerkamp stel dit in die voorwoord uitdruklik dat sy ten doel gehad het om ’n “omvattende lewensverhaal” te vertel wat soos ’n roman lees, wat die leser dwing om nie bloot van die feite oor die persoon se lewe kennis te neem nie, maar om met Jonker mee te leef. Die gevolg is nie ’n “objektiewe” verhaal waarin bloot so veel moontlik feite agterhaal word nie.

Benewens die pogings om feite te bekom (en daar is nie werklik juis opspraakwekkende “nuwe” feite wat aan die lig kom nie) probeer Metelerkamp verduidelikings bied vir Jonker se gedrag wat soms irrasioneel voorkom en behandel Jonker baie simpatiek. Met respek. Met die verskyning van Jonker en Brink se korrespondensie in 2015 (Vlam in die sneeu) het baie mense geglo dat dié briewe lig op Jonker se tragiese en misterieuse lewe sou werp, maar eintlik het dit die misterie verdiep. Die verhouding tussen Jack Cope en Jonker kry in hierdie biografie meer aandag as tevore. Sy verwerping toe Jonker vir hom gesê het dat sy swanger is, word deur Metelerkamp as ’n deurslaggewende gebeurtenis in Jonker se geestelike agteruitgang aangebied. Metelerkamp gee ’n omvattende lewensverhaal met baie interpretasies en verduidelikings. Meer feite sal waarskynlik nooit aan die lig kom nie. Maar die boek laat mens steeds met die gevoel dat ons iemand anders nooit werklik ten volle kan verstaan en onder woorde kan vaspen nie.

Send this to a friend