Die Gemaskerde Breier: hekelblokkie 2

gemaskerde_breier

My tas staan gepak en ek is op die drumpel van een van die grootste lekkertes van my lewe: Ek gaan vir die eerste keer oorsee – Turkye toe, danksy Vrouekeur en Seagull Toere. Weliswaar sonder my breiwerk.

Christa Swanepoel

Nou nie dat ek nie al probeer het om op ’n sowat uur lange vlug Kaapstad toe te brei nie. Maar eerlik soos ek maar is, het ek by die inweegtoonbank gevra of ek op die vliegtuig kan brei. Die antwoord was ’n besliste “Nee.” Net dalk wou ek ’n medepassasier of twee met ‘n breipen deurboor, het hulle seker gereken. Gelukkig was daar iemand saam met my wat die breiwerk onder die arm teruggepiekel het huis toe.

Op ’n ander keer is ek en kollega Marlo ook saam op die vliegtuig vir ’n geleentheid Kaap toe. Ons het skaars gesit, toe pluk sy haar kruisiesteekwerk en naalde uit en ek en sy borduur die hele vlug Kaap toe. Want klaar moes dit klaar vir die volgende spertyd.

Is ek bang vir vlieg? Glad nie. Ek was in my lewe al op allerhande soorte vliegtuie. Saam met ’n boer in ’n viersitplekvliegtuigie oor sy plaas, saam met ’n vlieginstrukteurvriend en my gesin op ’n ietwat groter vliegtuig terwyl dié ’n leerder geleer het om te land en op te styg, te land en op te styg, te land en op te styg … Ná die soveelste opstyg het my kinders my met smekende glasige oë aangekyk vir hulp.

Ook met ’n media-uitstappie op ‘n vlossie of “vomit comet” soos dit ook genoem word (met reg), want ’n kollega het ineengetrek in ’n hoekie op die vloer gesit met die komplimentêre kardoesie voor haar. Sy was skoon deurskynend toe sy met bewerige bene aan die einde van die vlug uitklim.

Die uwe? Elke keer heel plesierig van die opwinding. So nee, bang is ek nie bang nie en môre-aand klim ek en my Corné-dogter saam met ons medetoerlede op die vliegtuig vir ons byna tien uur lange vlug Istanbul toe.

My dogter met haar “naarpilletjies” en ek … sonder my breiwerk. Ek sal maar lees en fliek kyk en dan heerlik slaap. Anders as kollega Zerelda (Vrouekeur se adjunk-redakteur) wat glo kiertsregop en natgesweet van vrees die nag deurgesit het toe sy haar beurt Europa toe gehad het. Dit het seker nie gehelp dat daar net voor dit ’n vliegtuig of wat in die niet verdwyn het en nou nog soek is nie …

Kom ek om so kom ek om …. Ek het darem breiwerk in my bagasie sou ek heelhuids anderkant uitkom!

Trek jou hekelpen nader. Hier is Ouma se volgende vierkant

Breiblokkie 2Maak 4 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.

1ste rondte:
3 ks (tel as lb) en 2 lb in ring, 3ks, (3 lb in ring, 3 ks) 3 keer, gs in 3de st van 3 ks.

2de rondte:
gs tot in 3de lb, 3 ks, *(2 lb, 3 ks, 2 lb) in ks-spasie, 1 lb in 1ste lb, 1 ks, slaan 1 lb oor, 1 lb in laaste lb, herh van * en eindig met (2 lb, 3 ks, 2 lb) in ks-spasie, 1 lb in 1ste lb, 1 ks, gs in 3de ks van 3 ks aan begin.

3de rondte:
3 ks, 1 lb in elk van vlg 2 lb, *(2 lb, 3 ks, 2 lb) in ks-spasie. 1 lb in elk van vlg 3 lb, 1 ks, 1 lb in vlg 3 lb, (2 lb, 3 ks, 2 lb) in ks-spasie, 1 lb in elk van vlg 3 lb, herh van * en eindig met 1 ks en gs in 3de st van 3 ks aan begin.

4de rondte:
3 k, 1 lb in elk van vlg 4 lb, *(2 lb, 3 ks, 2 lb) in ks-spasie. 1 lb in elk van vlg 5 lb, 1 ks, 1 lb in elk van vlg 5 lb, herh van * en eindig met 1 ks en gs in 3de st van 3 ks aan beg. Heg af.

Send this to a friend