Die Gemaskerde Breier: hekelblokkie 3

gemaskerde_breier

Terwyl ek die ouma-blokkie hier onder sit en hekel, dink ek aan my oumas …

Christa Swanepoel

Dink ek aan “Kleinouma” soos die familie haar geken het – wel, omdat sy so klein was – sien ek haar met ’n hekelwerkie in die hand. In my grootwordjare het sy om die beurt deur die jaar by elkeen van haar tien kinders gekuier en is elke gesin met spieëlkaslappies, doilies, ’n dooprok en babatruitjies vir die wat dit nodig gehad het, en popklere uitgerus – alles nog daardie tyd met die fynste hekelgaring. Ek sien haar smiddae in die sitkamer waar die radio was en sy Die Banneling, Dr Marius Hugo en Die Geheim van Nantes – dis maar ’n paar wat ek na al die jare nog onthou – slaafs gevolg het. Sy het haar behoorlik ingeleef in die stories en het een of ander skurk haar kwaad gemaak, het daai hekelpen al vinniger gewikkel terwyl sy onderlangs “Die drek” fluister. Vir my wat nooit eers “demmit” in ons huis gehoor het nie, was dit ’n vreeslike slegsê. (Ek het later skelm gaan opsoek wat dit eintlik beteken!)

Ander ouma, natuurlik “Grootouma”, was weer altyd in die kombuis doenig met kospotte. Het ons daar gekuier, is ons behoorlik gevoer met beskuit, ingelegde vrugte, kleinkoekies in alle geure en vorms. By haar onthou ek kuiers om die eetkamertafel, bakke kos en bekers koffie.

Sekerlik het my oumas ander dinge ook gedoen, maar dis hoe ek hulle onthou.

Nou wonder ek hoe gaan my kleinkinders my onthou?

Ek kan net raai, want my kleindogter, Kaeley, het hoeka op ’n keer gevra toe ek sommer net ledig gesit het: “Het Ouma nie vandag ’n breiwerkie nie?”

Hulle sal seker (hopelik) hul ouma onthou oor al die truie, speelgoed en kombersies wat ek met liefde vir hulle gebrei het. Wel, ek hoop so. Ek hoop ook hulle onthou ons baie pret en baie lag, ons seevakansies en goedjies wat ek hulle geleer het.

Wat ’n wonderlike voorreg … en ook verantwoordelik het ons oumas nie.

Dankie Kleinouma en Grootouma vir die mooi herinneringe.

Hoe gaan jou kleinkinders jou eendag onthou?

Dié week se ouma-lappie
Hekelblokkie

Maak 6 ks en gs in 1ste st om ring te vorm.
1ste rdte: 3 ks (tel as lb), maak 15 lb in ring en gs in 3de van 3 ks aan beg. 16 lb
2de rdte: 5 ks (tel as lb en 2 ks), (1 lb in vlg lb, 2 ks) 15 keer, gs in 3de van 3 ks aan beg.
3de rdte: gs tot in ks-sp, 3 ks, 2 lb in ks-sp, 1 ks, (3 lb, 1 ks) in elke 2 ks-sp, gs in 3de van 3 ks aan beg.
4de rdte: *(3 ks, 1 kb in vlg ks-sp) 3 keer, 6 ks (hoeksp), 1 kb in vlg ks-sp, herh van * tot einde, gs in 1ste van ks aan beg.
5de rdte: gs tot in ks-sp, 3 ks, 2 lb in 1ste 3 ks-sp, 3 lb in elk van vlg 2 3ks-sp, *(5 lb, 2 ks, 5 lb) in hoeksp, 3 lb in elk van vlg 3ks-sp, herh van * tot einde, gs in 3de van 3 ks aan beg,

 

Send this to a friend