Klassieke klanke: David Garrett

0831-vk1-garrett-web

‘As jy regtig die viool bemeester het en jy het die tegniese stukke ná Paganini onder die knie, kan jy letterlik enigiets doen’

Deur JOHAN MYBURG

Naas Niccolò Paganini (1782– 1840) sou ’n mens Pablo de Sarasate (1844–1904) en dalk Fritz Kreisler (1875–1962) as viool-virtuose kon uitsonder wat met dié instrument in die hand gehore in vervoering gehad het. En wat straks die voorlopers vir vandag se rocksterre sou kon wees. Dit was veral Paganini se spel wat die verbeelding aangegryp het en wat vroue kon laat swymel. Moontlik daarom dat die Duitse violis David Garrett die rol van Paganini gekry het in The Devil’s Violinist, regisseur Bernard Rose se fliek van 2013. Want Garrett, wat al die David Beckham van die viool genoem is, het ’n voorkoms wat ’n mens twee keer laat kyk. En dit is meer as die Kurt Cobain-haarstyl, die motofietsstewels en die ringe.

Die fliek het nie goeie resensies gekry nie, onder meer as gevolg van die feit dat Garrett nie ’n akteur is nie. Maar dan het die Australiese Sydney Morning Herald ook die gesaghebbende tydskrif vir klassieke musiek en kuns, Limelight, aangehaal wat na Garrett verwys het as “wielding his bow ‘like a machete, castrating composers of talent from Beethoven to Kurt Cobain’.” Maar gee die duiwel wat hom toekom. Die 37-jarige Garrett, wat as kind en tiener klassieke vioolonderrig gekry het, het sy nis intussen in crossover gevind. En sy albumverkope ondersteun hierdie besluit. Tot op hede het hy meer as 3,5 miljoen albums verkoop en sy konserte in Europa is dikwels heeltemal uitverkoop.

LEES OOK: Klassieke klanke: Zoltán Kodály

Garrett is as David Christian Bongartz in Aachen in Duitsland naby die grens met Nederland gebore en hy was vier toe hy begin viool speel het. Sy ouer broer, Alex, wat toe ses was, het met vioolles begin, maar dit was duidelik dat die jonger David die een met die deursettingsvermoë was. “Dit is nie dat my broer nie talent gehad het nie,” het Garrett in ’n onderhoud gesê, “Hy kon die druk nie hanteer nie en het makliker as ek begin huil.” Op vyf is hy elke naweek Nederland toe vir lesse. Op sewe het hy in Lübeck in die noorde van die land les gekry. Hy het tuisonderrig ontvang en op tien het hy sy eerste optrede saam met die Hamburgse Filharmonie gehad.

Hy was 13 toe Deutsche Grammophon ’n opnamekontrak met hom gesluit het en hy die geleentheid gekry het om Mozart-concertos en die Kapries 24 van Paganini op te neem. Ná ’n enkele semester aan die Royal College of Music in Londen is Garrett (wat sy ma se nooiensvan as verhoognaam aangeneem het) in 1999 na New York, waar hy aan die Juilliard-skool onder leiding van Itzhak Perlman studeer het. Hy moes sy klasgeld self betaal en om dit te kan bekostig, het hy vir Vogue modelwerk vir Armani gedoen.

“Ek het nie opgehou om klassieke musiek te speel nie,” het Garrett in ’n onderhoud met The Telegraph gesê. “Maar as jy regtig die viool bemeester het en jy het die tegniese stukke ná Paganini onder die knie, kan jy letterlik enigiets doen. Dis dan net ’n kwessie van wat jy met die musiek wil doen.” Luister ’n mens byvoorbeeld na Garrett se opname van Vittorio Monti se Czardas saam met die La Scala Filharmonie onder leiding van Riccardo Chailly, is dit sy presiese spel en musikaliteit wat opval en beïndruk. As rockster-violis is die uitdaging vir Garrett dalk groter om rock cover versions te doen. Die gehore is immers aansienlik groter

Send this to a friend