Ken jou storie: Aanhangersfiksie

In ons tyd het dit veel makliker geword om jou eie storie, geskoei op die karakters en situasie van ’n ander bekende verhaal, te vertel. En natuurlik het die verskynsel nou ’n naam gekry: aanhangersfiksie

As laerskoolkind was ek en ’n paar vriende baie erg oor Die Uile-boeke. Dit was ’n reeks jeugverhale oor vyf vriende in ’n skoolkoshuis, op die denkbeeldige dorpie Kranskop, wat hulself Die Uile genoem het. In sommige van die boeke het hulle vir die vakansie saam na ’n plaas of ander afgesonderde plek gegaan, waar hulle dan telkens groot avonture beleef het – gewoonlik het hulle ’n misdaad oopgevlek en die skuldiges aan die pen laat ry.

Die onwaarskynlikheid dat ’n klompie skoolseuns geharde misdadigers sal vastrek, het ons nie gepla nie. Ons kon met die lede van Die Uile identifiseer – van hul sterk leier, Philip, tot die klein tenger Jorsie met sy bril, die hakkelende Hennie en die groot sterk Vaatjie. Die genot wat ons uit hierdie boeke geput het, het egter nie by die lees daarvan gebly nie. Ons het dikwels in die middae in die oop veldjie naby ons huis allerlei avonture beleef waarin ons gespeel het ons is Die Uile. Elkeen van ons het een van die karakters se name gebruik en ons het ingewikkelde verhale bedink waarin ons allerlei verbeelde skurke uitoorlê het. Die paar seuns wat teen die kliprantjie gespeel het en hulle verbeel het hulle is lede van Die Uile en wat nuwe avonture vir die bende bedink het, was geen unieke verskynsel nie.

Ons het die karakters en hul wêreld goed geken nadat ons al Die Uile-boeke al ’n paar keer deurgelees en bespreek het. Ons kon mekaar korrigeer as een van ons op ’n manier sou optree wat nie by sy karakter uit die boeke pas nie. Eers het ons net die avonture van Die Uile uitgespeel, maar spoedig het ons – as dieselfde karakters – ons eie avonture bedink. Ek is seker dat baie kinders al deur baie jare op hierdie manier die verhale wat hulle goed ken, uitgespeel het en dan hul eie “opvolgverhale” bedink en uitgespeel het. Ek is ook seker dat baie lesers nie noodwendig die boeke wat hulle gelees het, uitspeel of verdere avonture bedink en dan “speel” nie, maar wel die verhale verder “verbeel”, hoe dinge sou kon verloop as dit sou voortgaan.

LEES OOK: Ken jou storie: Modewoorde

In ons tyd is daar baie mense wat bestaande verhale verder skryf en dan die nuwe avonture publiseer (veral op Internet). Hierdie soort “verder skryf” staan as fanfiction (aanhangersfiksie) bekend. In die 1960’s het die aanhangers van Star Trek byvoorbeeld tydskrifte begin uitgee waarin hulle die situasie en karakters van die oorspronklike Star Trek-TV-reeks gebruik, maar dan nuwe avonture skep. Die begrip fanfiction verwys dus na nuwe verhale wat geskryf word deur gebruik te maak van die karakters en gebeurtenisse van ’n bekende fiksiewêreld uit ander boeke, rolprente of TV-reekse.

Eintlik is die verskynsel al baie oud. Nadat Cervantes se beroemde roman Don Quixote in 1607 verskyn het, het ’n ander skrywer ’n “opvolg” daarop geskryf waarin hy verdere avonture vir die merkwaardige ridder verbeel het. In sy eie opvolgwerk, Boek 2 van Don Quixote, wat eers in 1615 verskyn het, verwys die ridder na die “vals gerugte” wat oor hom versprei is. In ons tyd het dit egter veel makliker geword om jou eie storie, geskoei op die karakters en situasie van ’n ander bekende verhaal, te vertel en op die internet te publiseer. Daar is ook talle aanhangers wat gretig mekaar se stories lees.

Veral nuwe avonture van Harry Potter en opvolgwerke geskoei op Fifty Shades of Grey is aanlyn baie gewild. Die Twilightreeks het aanleiding gegee tot ontsettend baie skrywers wat nuwe avonture vir die bekende karakters op die vertroude patrone geskep het. Hoewel baie mense se eerste reaksie is om hierdie “afgeleide” pogings as swak nabootsings van die oorspronklike af te maak, word dit skynbaar ál gewilder. Enkele skrywers erken ook dat hulle eintlik hul vaardighede as skrywers geslyp het deur eers fanfiction te skryf. Dit is baie moeilik om ’n heeltemal oorspronklike verhaalwêreld te skep met karakters wat jy van voor af moet uitdink. Deur van ’n bestaande fiksiewêreld en karakters gebruik te maak, kan ’n skrywer op aspekte van styl fokus, en sommer net pret hê deur nuwe idees te ondersoek en moontlikhede op te volg.

 

Send this to a friend