GELDSLIM: Wat beteken dit? | Vrouekeur

GELDSLIM: Wat beteken dit?

finansies

Jy hoor gereeld van finansiële begrippe, maar wat is die verbruikersprysindeks en die inflasiekoers? Nico Swart verduidelik
Jy lees daarvan in die koerant en in die aand sê die TV-nuusleser woorde soos “inflasie” en “produksieprysindeks”. Dit is asof daar alom aanvaar word dat almal dit moet verstaan en weet hoe om dit te interpreteer. Ons kyk na ’n paar begrippe.

Wat is inflasie?
Inflasie is die volgehoue styging in die pryse van goedere en dienste. Dit is ’n jaarlikse koers omdat dit die styging van goedere en dienste oor die periode van ’n jaar (vir doeleindes van vergelyking en beplanning) aandui. Inflasie wys op die gemiddelde prysstyging van verskillende prysstygings wat plaasvind. Ons praat van ’n jaarlikse inflasiekoers en nie ’n maandelikse styging in pryse nie. Die belangrikheid van inflasie vir elke mens kan nie genoeg beklemtoon word nie. n Inflasie hou die grootste risiko vir jou aftrede en voorsiening(s) vir aftrede in – jou beleggings se kapitaalgroei moet dus meer wees as die inflasiekoers sodat jy finansieel onafhanklik kan aftree. n Dit bepaal die minimum opbrengs wat jy op jou beleggings moet verdien. n Inflasie hou die grootste risiko vir beleggers in, groter as ander risiko’s wat ons in die beleggingsmarkte ervaar. n Dit bepaal die aggressiewe manier waarop jy in riskante beleggings moet belê. n Dit bepaal die koopkrag van jou geld in die volgende jaar of jare, asook ná aftrede – dit laat die koopkrag van jou geld afneem (jy kan minder met dieselfde geld koop). n Lone en salarisse, asook rentekoerse en huurgeld wat gevra of betaal moet word, is ekonomiese veranderlikes wat direk of indirek met prysstygings (en gevolglik inflasie) verband hou. n Werknemers verwag dat hul lone en salarisse elke jaar minstens met dieselfde persentasie as die inflasiekoers aangepas sal word. Let wel, dit verhoog dus nie jaarliks nie. n As die inflasiekoers aanhou styg, sal rentekoerse in ’n stadium ook styg (goeie nuus as jy geld belê het en veral daarvan moet leef, maar slegte nuus as jy rente op skuld moet terugbetaal). n As jy ’n woonstel/meenthuis huur en die grondbelasting sou vir die verhuurder drasties styg, kan jy verwag dat die verhuurder die huur vir die volgende jaar of huurtermyn met minstens die algemene inflasiekoers sal verhoog. Ekonome maak talle vooruitskattings op grond hiervan vir talle aspekte van die ekonomie in die nabye toekoms of vir periodes van tot drie jaar. n Ondernemings gebruik dit om eie afleidings te maak en beplanning te doen rakende byvoorbeeld produkaankope en indiensneming. n Die Suid-Afrikaanse Reserwebank grond sy besluite rondom ’n styging of daling in rentekoerse op die stand (styging of daling) van ons inflasiekoers. n In Suid-Afrika, met ’n baie ongelyke verdeling van inkomste tussen die inwoners, verskil die inflasiekoers vir verskillende inkomstegroepe ook aansienlik. n Inflasie is die hoofrede waarom ons verarm sonder voldoende riskante kapitaalgroeibeleggings oor ’n leeftyd, soos aandele, kollektiewe beleggings / effektetrusts en vaste eiendom. Hoe word inflasie bereken? Inflasie word bereken deur middel van ’n verbruikersprysindeks wat opgestel word vir ’n mandjie produkte en dienste waaraan verbruikers geld bestee. Statistieke Suid- Afrika (SSA) verander elke paar jaar die samestelling van hierdie mandjie goedere en dienste op grond van verbruikers (van verskillende inkomstegroepe) se bestedingspatrone.

Bereken ’n indeksgetal vir goedere en diensTE
Die styging in die prys van goedere en dienste kan nie maar net direk met mekaar vergelyk word om die inflasiekoers te bepaal nie. Goedere (brood, hout om mee te bou, motoronderdele, meel) en dienste (water, elektrisiteit, ’n haarsny, bankdienste) kan nie direk met mekaar vergelyk word nie. Laasgenoemde word byvoorbeeld gemeet in kilogram, meter, liter en watt. ’n Indeks moet eers bereken word waarvolgens elke produk of diens byvoorbeeld met dieselfde produk of diens se prys vir ’n jaar gelede bereken word. Die vorige jaar (wat byvoorbeeld die jaar 2000 kan wees vir doeleindes van vergelyking) word die basisjaar genoem en elke produk/ diens se prys word uitgedruk as ’n gewig/ persentasie van die totale groep ten einde die basisjaar gelyk aan 100 te stel. Voorbeeld: 1 l melk kos R12,00 in 2012 (die basisjaar). In 2013 kos dit R14,00. Die indeks vir 2013 is: (R14,00 ÷ R12,00) x 100 = 117. Die liter melk se prys het dus met 17% gestyg. Indeksgetalle word dus bereken deur stappe soos: Die kies van die soort goedere en dienste waaruit die mandjie gaan bestaan; die kies van ’n basisjaar, byvoorbeeld die vorige jaar; die toekenning van gewigte (’n persentasie) aan elke soort goedere en dienste in die mandjie (gewigte = die deel van inkomste wat daaraan bestee word); die bepaling van die pryse van dieselfde goedere en dienste vir elke maand daarna vir die volgende 12 maande (een jaar later); en die berekening van die indeksgetalle vir elke soort goedere en dienste. Die indeksgetalle vir die verskillende produkte en dienste (wat ons hier bereken het) in die mandjie wat gebruik word om die inflasiekoers te bepaal, word die verbruikersprysindeks genoem.

Bereken die verbruikersprysindeks (VPI )
Die verbruikersprysindeks is die indeks van ’n groep produkte en dienste wat gekies word om die amptelike inflasiekoers te bepaal. Hierdie koers word maandeliks deur SSA bepaal en gepubliseer. Daar bestaan eintlik ses verskillende verbruikersprysindekse in Suid-Afrika, afhangende van die inkomstegroep en die soort goedere en dienste wat gebruik en verbruik word. Die basiese mandjie goedere en dienste wat gebruik word om ons inflasiekoers te bepaal, bestaan uit 416 verskillende goedere en dienste. Die verbruikersprysindeks word dus gebruik om ons inflasiekoers te bepaal.

Bereken die inflasiekoers
Die inflasiekoers kan byvoorbeeld bereken word deur twee ooreenstemmende maande in daaropvolgende jare se VPI te gebruik. Voorbeeld Kom ons vergelyk die indeksgetal vir November 2012 (108,5) met die van November 2013 (103,4). Berekening: (108,5 – 103,4) ÷ 103,4 x 100 = 0,049 x 100 = 4,93% (die inflasiekoers) Indeksgetal verbruikersprysindeks inflasiekoers Wat is die produksieprysindeks (PPI)? Die verbruikersprysindeks meet die prys van goedere en dienste vir die verbruiker, met ander woorde ons lewenskoste. Daarenteen meet die produksieprysindeks (PPI ) die koste van die produksie van slegs goedere (nie dienste nie). Die produksieprysindeks bepaal die pryse van goedere tydens die eerste transaksie, byvoorbeeld waar voltooide produkte Suid- Afrikaanse nywerhede en fabrieke verlaat, waar invoer die land binnekom of waar uitvoer vir die eerste keer verkoop word. In ons media verwys ons hoofsaaklik na ons eie nywerhede en fabrieke wat produkte vervaardig (uitvoer uitgesluit).

Wat is die verband tussen die VPI en die PPI? Veranderings in die PPI het nie veel van ’n invloed op die VPI nie, omdat invoer by die berekening daarvan uitgesluit is – vir ingeval die rand verswak en invoer duurder word en die pryse van ingevoerde goedere in ons winkels styg.
Wanneer styg ons pryse? n Sodra die vraag na ’n produk of diens toeneem. n Sodra die aanbod van ’n produk of diens afneem – dit word dus skaarser en die vraag daarna styg. n Sodra die koste om die produkte te bekom of vervaardig, verhoog (petrolprys styg en aflewering is duurder, grondstowwe word duurder om te ontgin weens die talle mynstakings). n Sodra die rand verswak en ons meer betaal vir ingevoerde goedere in ons winkels waarvan die pryse gestyg het.

Wat is jou inflasiekoers? Elke mens moet aanvaar dat die gemiddelde inflasiekoers van die land nooit sal ooreenstem met jou spesifieke inflasiekoers of die inflasiekoers van jou huishouding nie. Die rede is eerstens die verskillende produkte en dienste waaraan mense geld bestee en tweedens die verskillende bedrae wat mense aan die verskillende produkte en dienste in die mandjie bestee.

Nico Swart het al meer as 70 boeke oor persoonlike finansiële beplanning geskryf. Besoek www.moneyskills.co.za Vk

Send this to a friend