Het affairs regsgevolge?

affairs_regsgevolge

Hetsy wie dit begin en wat die partye daaruit wil hê, ’n affair het altyd nagevolge. Kenners kyk na die redes en verwagtinge in ons 4 Desember-uitgawe en hier praat JB Roux met kenners oor of daar regsgevolge is

JB Roux

’n Affair hou groot emosionele en ook praktiese gevolge vir die betrokkenes in, maar is daar ook regsgevolge? Kan ’n vrou haar man se “skelmpie” dagvaar vir die trauma wat sy as gevolg van die buite-egtelike verhouding moes en moet deurmaak?

“Die Konstitusionele Hof het onlangs beslis dat ‘n aksie vir vergoeding teen ‘n derde party vir die krenking van eer of verlies aan samesyn weens egbreuk nie meer in Suid-Afrika erkenword nie,” sê Igna Kleinschmidt, bekende regsgeleerde wat gereeld sy kennis oor die radio met luisteraars deel.

“Die regters wys veral op die veranderende waardes van die samelewing en beslis dat as iemand sou skei om by iemand anders te wees, dit nie sin maak om die derde party te verkwalik nie. Regter Madlanga het namens die volle hof bevind dat egbreuk dus nie meer ’n onregmatige daad in die Suid-Afrikaanse reg is nie. Suid-Afrika volg met hierdie uitspraak ‘n wêreldwye tendens om siviele eise vir egbreuk die nek om te draai.

“Volgens die hof maak so ’n eis ook inbreuk op die regte van die owerspelige gade en die derde party. Die huwelik is immers ’n verbintenis tussen die twee huwelikspartye en ’n moontlike vergoedingseis teen ’n derde party sal niks bydra om so ’n verbintenis se voortbestaan te verseker nie. Die Konstitusionele Hof het dus die bevinding van die Appèlhof verlede jaar dat ’n eis weens die krenking van gevoelens en eer teen ’n derde party verouderd en uitgedien is, bevestig.”

Maar kan ’n vrou ’n interdik teen “die ander vrou” verkry wat laasgenoemde verbied om kontak met haar man te hê?

’n Blote affair kan nooit sonder meer ‘n grond vir ’n interdik wees nie,” sê Francois Smuts, advokaat van die Kaapse balie en skrywer van Die Suid-Afrikaanse Reg. “Ons reg erken nie die morele laakbaarheid van buite-egtelike verhoudings nie. Daar sal dus verdere grond vir die verkryging van ’n interdik moet wees, waarvoor die verhouding bloot ’n agtergrond is.

“Dieselfde geld vir ’n egskeiding. Die toets vir die verkryging van ’n egskeiding is deesdae net of die verhouding tussen man en vrou onherstelbaar verbrokkel het; of daar ’n affair is of nie, is nie noodwendig ter sake nie. Die ‘skuld’ van die onderskeie partye het niks daarmee te make nie. Daar was tot onlangs ’n gemeenregtelike aksie wat op egbreuk of troubreuk gegrond was. Wat dan dikwels gebeur het, was dat die derde party as ’n party tot die egskeiding gevoeg is.

“Die toekennings aan die verontregte party was altyd maar klein en die waarde van so ’n eis was altyd die ‘naming and shaming’ van die derde party. Maar vroeër hierdie jaar het die Grondwetlike Hof bevind dat hierdie aksie ongrondwetlik is en dat dit dus nie meer gebring kan word nie.

Kortliks: Affairs is, wat egskeidings betref, irrelevant.”

Send this to a friend