Bipolêre steuring: Het jy geweet?

Lees hier meer oor Bipolêre steuring

Deur: Petro le Roux

Wat is bipolêre gemoedsversteuring?

Volgens die SA Mental Health Federation is bipolêre depressie ’n breinwanfunksie gekenmerk deur ongewone, abnormale en uiterste skommelinge in gemoedstoestand – vanaf uiterste depressie tot uiterste manie.

Simptome van ’n maniese of hipomaniese episode

  • Rusteloosheid, toenemende energievlakke en aktiwiteite.
  • Geweldige irritasie, praat mense dood, gee niemand kans om te praat nie.
  • Gaan op kooplustige togte en spandeer geld impulsief.
  • Slaap min.
  • Gedagtes wat jaag, praat te vinnig.
  • Hoë dunk van die self/opgeblaasde selfbeeld.
  • Is onder die indruk dat hy of sy iemand anders is.
  • Drink te veel, eet te veel/eet te min, of gebruik dwelms.

Simptome van ’n depressiewe episode

  • Aanhoudende gevoel van ernstige terneergedruktheid en depressie.
  • Gebrek aan belangstelling in aktiwiteite.
  • Opsigtelike gewigsverlies of gewigstoename.
  • Slapeloosheid of oormatige slaap.
  • Uitputting en verlies aan energie.
  • Gevoelens van nutteloosheid en skuld.
  • Konsentrasie en geheueprobleme en die onvermoë om besluite te neem.
  • Selfdoodgedagtes.

Die verskillende gesigte van bipolariteit

  • Bipolêr gemoedsteurnis I – Mense met Tipe I het minstens een volle maniese episode en dan periodes van kliniese depressie.
  • Bipolêr gemoedsteurnis II – Mense met Tipe II het nooit ten volle manie soos by Tipe I nie. Hulle ervaar hipomanie (’n ligter vorm van manie) en dan korter periodes van depressie.
  • Siklotimiese stoornis – By siklotimiese stoornis is daar, vir minstens twee jaar, hipomanie en ligte depressie, wat nooit erg genoeg is om as ’n maniese of depressiewe wanfunksie geklassifiseer te kan word nie.

Send this to a friend