Idiom vier tweede verjaardag

VK-web

Die restaurant, wynproesentrum en Vinotria-vertoonkamer met sy panoramiese uitsigte oor Valsbaai.

Die Idiom Restaurant & Wynproesentrum het die afgelope twee jaar die moet-besoek-bestemming geword

Deur MARYKE ROBERTS

Foto’s Clifford Roberts

Idiom – een van die suidelikste wingerde in die Stellenbosch wynstreek – is naby Sir Lowry’s Pas, hoog teen die kranse bo die Helderberg geleë en bied uitsigte van Tafelberg tot Kaappunt, met Valsbaai in die voorgrond.

Gaste is vandeesweek op ’n viering van hierdie mylpaal trakteer en kon ook die landgoed se sjef, Calum Anderson, ontmoet en met die Bottega-familie, eienaars van die Da Capo Wingerde-plaas kuier.

“Ons fokus op kontemporêre kookkuns is ’n wonderlike fusie van ons familie se Italiaanse erfenis en moderne Kaapse geure en teksture. Ons het 17 verskillende druifvariëteite van regoor die wêreld op Idiom geplant en dit gee ons geweldige vryheid met inspirasie,” het Roberto Bottega, wat die Idiom Wynproesentrum se ontwikkeling gelei het, vertel.

“Ons hoofhandelstyd is middagete, sodat gaste die uitsigte kan geniet. Ons bied ’n kontemporêre eet-ervaring – ’n seisoenale spyskaart met 2- of 3-gange, met ’n voorgestelde wynpasmaat vir elke dis.”

Roberto was aan die hoof van die ontwikkeling van die proelokaal en behartig ook die internasionale verkope vir Bottega Familie Wyne. Hy het ’n passie vir Italiaanse wyne ontwikkel en is ook die medestigter van ’n spesialis wyn-invoer en -verspreidingsprojek genaamd Vinotria, wat hy saam met Pedro Estrada Belli bestuur. Vinotria se portefeulje sluit wyne van internasionaal-gerekende wynkelders soos Donnafugata in Sicilië, Ornellaia in Toskane en Livio Felluga in Friuli, in.

Behalwe die kontemporêre eet-aanbieding by Idiom, is daar ander eenvoudiger Italiaanse opsies om te geniet. Daar is antipasto borde met ’n keuse van Italiaanse kouevleis, kaasborde met Italiaanse en plaaslike sagte- en harde kase, pizzas en pastas.

“Besoekers kan Idiom se plaaslik-geproduseerde Pinot Grigio, Sangiovese, Barbera, Nebbiolo en Primitivo (Zinfandel) wyne in die wynkroeg of in die  restaurant proe.

Die Vinotria-vertoonkamer wat gebruik word vir begeleide en vergelykende wynproeë, spog nou met 250 wyne van meer as 40 bekroonde Italiaanse wynkelders, waaronder baie wyne wat van obskure, streeksvariëteite gemaak word. Al die ingevoerde wyne kan per bottel of boks by Idiom gekoop word.

Calum Anderson is ’n gevestigde hoofsjef met 17 jaar ondervinding in voorste restaurante, hotelle en wildslodges in Suid-Afrika, Engeland en Australië. Hy het vertel sy kosfilosofie is om te verseker dat die integriteit van die elemente behoue bly; en dat disse geurvol, interessant en ongewoon is. “Disse moet visueel natuurlik en mooi wees, maar nie te gekompliseerd nie, want ek glo dis my uitdrukking van hoe ek kos sien en ervaar.”

  • Verskeie feeste word die volgende paar maande by Idiom aangebied, waaronder die eerste Prosecco-naweek op 24 en 25 November; die eerste Stellenbosch Beeldhou-Naweek op 8 en 9 Desember wat voorste beeldhouers waaronder Anton Smit, Stanislaw Trzebinski en Adriaan Diedericks, insluit.

Die jaarlikse Italiaanse Fees by Idiom, wat in 2018 meer as 3 000 besoekers gelok het, word op 2 en 3 Maart 2019 gehou. Kaartjies is van 1 November 2018 deur Webtickets beskikbaar.

Send this to a friend