12 vrae aan die aktrise Anna-Mart van der Merwe

Twaalf vrae aan die aktrise Anna-Mart van der Merwe, wat nou in die film Kanarie en die verhoogstuk, Swerfgoed, te sien is:

1. Wie is jou teater-helde wat jou loopbaan help vorm het?

Natuurlik was daar tannies op skool wat gesê het ek moet dalk ’n gediggie opsê, maar ek dink ten opsigte van die bedryf wil ek vir Baps Laker uitsonder. Sy het my gehelp met ADK-klasse voor ek drama gaan swot het en ook gehelp voor oudisies vir rolle. Op universiteit was dit prof Mavis Taylor, James Blanckenberg en later by Truk by die Windybrow-teater in Hillbrow, waar ek mense soos Dieter Reible ontmoet het. Ook Annie Basson wat my eerste filmwerk vir my aangebied het; daarna Jan Scholtz en Katinka Keyns.

2. Jy is al Suid-Afrika se Meryl Streep genoem. Hoe voel jy oor sulke titels?

Sjoe, ek sê baie dankie, dis ’n moerse kompliment. Maar daar is net een Meryl. Maar daardie tipe erkenning moet eerder gaan aan mense soos Antoinette Kellermann en Sandra Prinsloo, wat toneel in hul DNS het.

3. Wat is die een karaktereienskap wat jy in jou man, George Ware, bewonder en wat jou veilig laat voel?

Sy integriteit.

4. Wie is Anna-Mart tuis. Kook jy, onthaal jy, bak jy?

Al die bogenoemde. Ek en George kook graag saam en hou van daardie langtafelkuiers. Ek is egter meer van ’n eter as ’n goeie kok. Maar ek bak graag, veral brood. Ek is mal vir lees, nuus-opvang, teater, kuns, stap in die berg en in die tuin werk. Hoewel ek nie groen vingers het nie, het ek ’n groen hart en snoei ek graag.

5. Jy is mal oor reis. Is daar een bestemming wat vir jou uitstaan oor die jare?

’n Sitplek op ’n vliegtuig, want dit neem jou na al daardie ongelooflike plekke, wat op hul eie unieke manier spesiaal was. Maar twee wat vinnig by my opkom is die Sederberge waar ek grootgeword het en ook die Dourorivier naby Porto.

6. Jy is nie op sosiale media nie. Is jy nie aktief nie of is jy net goed versteek?

Ek is op WhatsApp en e-pos! Ek eien myself die reg toe om daardie besluit te neem. Ek is totaal opgewonde oor alles wat nuut en tegnologies lekker is – ek glo jy moet jou kop oophou en jou yskasdeur toe – maar ek het besluit dat ek eerder nuus of ’n lekker boek lees in daardie bietjie vrye tyd wat ek het. Ek besef die bemarkingswaarde van sosiale media, maar dis nie ’n omgewing waar ek gemaklik voel nie.

7. As jy nie akteur was nie, watter ander beroep sou jy kon doen?

Ek weet nie of ek dit sou kon doen nie, maar ek sou verskriklik ’n argitek wou wees of huise wou bou.

8. Watter rol staan vir jou uit oor die jare?

Al die karakters wat ek al gespeel het; elke mens wat ek al bevoorreg was om die storie van te kon vertel, is vir my baie kosbaar. Daar is fasette van elkeen wat vir my spesiaal is en waarvoor ek baie lief is. My eerste film-ervaring, Uitdraai of selfs Klara Viljee, staan tog effe bo die ander uit. Maar as ek eerlik is, is dit die prosesse om daardie karakters wat uitstaan; die regisseurs wat jou help om jou grense te verskuif. Mense soos Janice Honeyman wat met haar sagte aanmoediging en Engelse aanslag, my gehelp het met die rol van die leënessindroom-ma in The Mother. Of om met Marthinus Basson of Jaco Bouwer in die regisseurstoel te werk. Dis ongelooflik.

9. Is jy spyt jy het nie kinders nie?

Nee, ek het nooit besluit of ek wil hê of nie – dit het net nie gebeur nie. Ek voel nie minder vrou omdat ek nie kinders het nie. Ek is omring deur kinders: As een van vyf kinders wat nou al hul eie kinders met hul kinders het, is daar geen tekort nie. Ek is baie lief vir kinders. Ek glo daar is mense in die wêreld met kinders en diegene sonder kinders en hulle leef in twee baie uiteenlopende wêrelde. Ek sien met my susters en baie van my vriendinne dat ouma-status baie uniek is en dit dikwels dan eers vroue by hul regte ma-skap uitbring.

10. Jy is gereeld by feeste in ontoereikende skool- of kerksale op die verhoog, hoe berei jy jouself geestelik voor vir die tekortkominge van sulke optredes?

Dit bring uitdagings vir almal betrokke, want daar is akoestieke probleme, soms moet jy die sagter nuanses laat vaar en harder speel sodat die gehoor ten minste die teks kan hoor. Maar ek voel die gehoor kry ook swaarder; hulle werk net so hard soos ons. Die stoele is harder as in die teater, mense skuif rond, die klank is dalk nie so lekker nie. Maar ons almal doen dit saam. Dit maak dit die moeite werd.

11. Het die gehoor ’n invloed op jou spel as jy in daardie donkerte ’n frons of  vroeteling ervaar?

Jy as akteur word betaal om jou werk te doen. Jy speel voort, maar ek beskou die gehoor as die derde akteur wat nie ingerepeteer is nie. Jy leer net later om nie van hulle te onttrek nie, maar eerder in te leun; dit te respekteer en mee te neem.

12. Hoe maklik is dit nou vir jou om rolle buite jou ouderdomsgroep te speel?

Ek vind dit nou ook makliker. Ek het destyds in ’n onderhoud vertel hoe senuweeagtig ek was toe ek in Torings op 29 ’n 50-jarige moes speel. As jy jonk is en ’n ouer rol moet speel, het jy geen idee hoe dit voel om daardie ouderdom te wees nie, maar as jy ouer is en ’n jonger rol moet vertolk, kan jy jou herinneringe aan daardie ouderdom inspan. Boonop het ek natuurlik op 50 besef dis glad nie oud nie – al het dit 21 jaar gelede met Torings só gevoel!

Send this to a friend