Is dit telepatie?

Die mensdom wonder steeds of gedagtes, sensasies of beelde werklik van een mens na ‘n ander oorgedra kan word

Shanda Luyt

Lisa Ganz was in Australië en haar tweeling­sussie, Debbie, in New York. Dit is meer as 10 000 km uit mekaar. Maar toe Lisa een nag in Australië in ’n motorongeluk was, het Debbie onmiddellik vir haar ma gesê daar is fout en Lisa se vriende begin bel om uit te vind wat aangaan.
Debbie vertel sy het ’n geweldige intense gevoel gehad, wat sy nie kon verduidelik nie. Dit was byna soos pyn, maar nie haar pyn nie, dus het sy onmiddellik geweet dit moet haar suster s’n wees.

Is dit wat telepatie is?

In ’n eksperiment deur die BBC het ’n agtjarige tweeling in aparte kamers gesit met een van die twee aan ’n poligraaf gekoppel, waarvan die resultate noukeurig gemonitor is. In die ander vertrek het die ander een van die tweeling sy arm in ’n emmer yskoue water gedruk. Op daardie presiese oomblik het sy boetie se poligraaf ’n beduidende afwy king getoon. Hoewel hierdie agtjarige geen bewus­te kennis gedra het van wat met sy twee ling gebeur het nie, het sy liggaam steeds merk­baar gereageer.

Is dit telepatie?

Die telepatiese band tussen tweelinge is al lank rede vir spekulasie. Baie tweelinge maak telepatie as snert af en sê hulle het nog nooit so iets ervaar nie, maar ander beweer dat hulle wel ’n spesiale band met hul tweeling deel en instinktief weet as die ander een in die moeilikheid is, pyn ervaar of wat hy voel.

Nie net tweelinge

Bewerings van telepatie, wat beskryf word as die oordrag van gedagtes, beelde, sensasies of selfs vrese van een mens na ’n ander, sonder dat enige woorde of lyftaal gebruik word, is nie net tot tweelinge beperk nie.

Hierdie vorm van buitesintuiglike waar­neming kom ook by onverwante mense voor. Telepatiekenners sê wel geliefdes, gesinslede en naby vriende kan makliker telepaties kom­muni keer aangesien hulle by mekaar se “fre­kwensies” aanpas. Dit lyk op die oog af asof dit geen verskil maak hoe ver mense van mekaar af is of hoeveel ander mense daar tussen hulle is nie – boodskappe word soms van een kontinent na ’n ander gestuur.

In die omgang hoor jy gereeld dat mense sê “dis seker telepatie”; dikwels skertsend om “interessante toevallighede” te beskryf. Mense wat aan telepatie glo verduidelik dat telepatiese situasies baie algemeen by mense voorkom, maar dat ons eenvoudig nie daarop ingestel is nie en dus nie besef dit gebeur nie.
Algemene vorms van telepatie kan byvoor­beeld wees daardie “gevoel” dat iemand na jou staar, al kan jy dit nie sien nie. Of as jy iemand wou bel, net om daardie mens se stem op die telefoon te hoor die oomblik wat jy die gehoorstuk optel, omdat hy besig is om jou te bel.

Hulle sê mense herken wel telepatie in krisistye makliker, soos wanneer ’n familielid sterf of in gevaar is. Dit kan situasies insluit soos wanneer iemand in drome sien dat ’n vriend of geliefde in nood is, net om die volgende dag bevestiging te kry dat dit wel die geval is. Dit is dan ook hierdie anekdotiese vertellinge wat keer dat mense hierdie fenomeen summier as bog afskryf.

Intussen word ons verbeelding oor tele patie nog verder deur wetenskapsfiksie- of fan ta­sierolprente, boeke of TV-programme oor die verskynsel gevoed. Bekende telepatiese karak­ters sluit in die Jedi in Star Wars en Jean Grey in X-Men. In die gewilde Star Trek-reeks het die bekende Spock ook ’n mate van telepatie. Hy kan iemand se gedagtes lees sodra hy hom aanraak. Ander fiktiewe telepate kan die gedagtes van enigeen binnedring, ongeag die afstand tussen hulle.Van die karak ters kan ook die gedagtes van ander be heer. Telepatiese vermoëns word dikwels as ’n “gawe” uitgebeeld wat soms meer ongeluk as geluk bring en wat soms vir die een wat dit ervaar totaal oorweldigend kan raak.

In sommige samelewings, soos by Austra ­liese inboorlinge, word telepatie as ’n normale menslike eienskap aanvaar. In ander same le-wings in die ontwikkelde wêreld word tele patie egter as ’n spesiale vermoë gesien wat deur mense met paranormale vermoëns gebruik word.

Byna die helfte van volwassenes in Amerika glo in die bestaan van buitesintuiglike waar ­nemings soos telepatie en sowat 20% van sowat 2 000 Swede het gesê hulle het al ’n tele patiese ervaring gehad.

Is dit waar?
Hoewel daar geweldig baie anekdotiese ver­tellings oor telepatie en telepatiese situasies die rondte doen, het prof Mark Combrink, neuroweten skaplike van die Universiteit van Kaapstad, by navraag gesê die meeste weten­skaplikes bly maar skepties oor dié geheim­sinnige verskynsel.

Wetenskaplikes voel daar is steeds geen bewyse dat telepatie werklik bestaan nie ten spyte daarvan dat daar al meer as ’n100 j lank navorsing daaroor gedoen word.
Reeds in die vorige eeu is daar al oor die oordrag van gedagtes gepraat en in 1886 is die begrip telepatie die eerste keer gebruik in ’n publikasie deur die Society for Psycical Research. Hulle het na bewering die eerste navorsing oor dié verskynsel in die Westerse wetenskap gedoen. Hierdie ondersoeke het hoofsaaklik uit die versameling van anekdotiese vertellings van telepatie bestaan, maar daar is ook eksperimente uitgevoer met diegene wat beweer het hulle het telepatiese vermoëns.
In 1917 het die sielkundige John E Coover van Stanford-universiteit ’n reeks toetse met speelkaarte gedoen, maar nie die resultate so beduidend gevind dat hy dit as positief kon verklaar nie.
Tien jaar later, in 1927, het die bekendste van telepatie-eksperimente plaasgevind. Een van die pioniers van telepatienavorsing, Joseph Banks Rhine van Duke-universiteit, het honderde mense met spesiaal ontwerpte kaarte, genaamd Zener-kaarte, getoets. (Die kaarte word vandag nog in sogenaamde telepatiese speletjies en selfs toetse gebruik.) Die pak kaarte, wat spesiaal deur sy kollega, Karl Zener, ontwerp is, bestaan uit 25 kaarte, vyf elk met vyf simbole op (’n ster, kruis, vierkant, sirkel en drie golwende lyne). Nadat die kaarte geskommel is, probeer die mense raai wat die prent op die kaart is nadat iemand die simbool deur telepatie aan hulle probeer “stuur” het. Sy eksperimente kon egter nie die bestaan van telepatie bewys nie.

In die boek Mental radio beskryf die Pulitzer­pryswenner Upton Sinclair in 1930 hoe sy vrou in sogenaamde informele eksperimente soms sketse deur homself en ander kon nateken selfs al was hulle myle uitmekaar.
In die jare sestig is daar na bewering in ’n geheime laboratorium in Rusland ook probeer om die bestaan van telepatie te bewys. Die departement van verdediging het blykbaar ’n groep van 12 mans, wiskundiges, dokters, fisici, en so meer, byeengebring en hulle het eksperimente op diere en mense vir die doel uitgevoer.

Hulle kon ook nie daarin slaag om telepatie te bewys nie.
In ’n studie wat hierdie jaar in die Journal of Cognitive Neuroscience gepubliseer is, het wetenskaplikes van Harvard-universiteit breinskandering gebruik om te toets of mense kennis het wat nie deur normale perseptuele prosessering verduidelik kan word nie. Ook hulle het bevind daar is geen tekens van buitesintuiglike waarneming nie en het verklaar dat dit die beste bewys tot dusver is dat so iets glad nie bestaan nie.

Hoe verklaar jy dit dan?

Ten spyte van die skeptici wat telepatie afskiet, duur navorsing oor telepatie hardnekkig voort en word beweer dat selfs die Amerikaanse en Britse regerings al eksperimente rondom telepatie laat doen het.
Die resultate bly ontwykend, onbeduidend en onbetroubaar. Die probleem met anekdotiese bewyse is dat dit eenmalig is en nie onder beheerde wetenskaplike toestande herhaal kan word nie. Telepatie word ook grootliks aan die emosionele stand van die sender en ontvanger gekoppel.

Nie alle wetenskaplikes staan egter skepties oor die verskynsel van telepatie nie. Soos die bekende Britse wetenskaplike van Cambridge Rupert Sheldrake wat vas glo dat telepatie bestaan. Rupert glo hy kan bewys dat die mens die telepatiese vermoë het om agter te kom as iemand na jou kyk (daardie gevoel dat iemand se oë op jou rus en as jy omdraai vind jy dit is wel so) en het ook al ’n boek daaroor geskryf. Hy glo ook aan dieretelepatie.

Hy het ’n eksperiment gedoen waar hy vrywilligers gevra het om vier naby vriende of familie te kies en dan by die telefoon te sit en te probeer bepaal wie gaan bel, voor hulle die telefoon beantwoord. In omtrent 40% van die gevalle het hulle reg geraai – beter as die 25% wat ’n mens normaalweg sou verwag. Tydens nog toetse met ’n klein groepie wat verfilm is, was dit in 47% van die gevalle akkuraat. Skeptici glo egter sy eksperimente het metodo­logiese foute, soos dat die deelnemers na aanleiding van die bellers se stiptelikheid kon raai wie dit is wat bel.

Tegno-telepatie in die toekoms?

Terwyl daar steeds geen uitsluitsel is oor die be staan van telepatie al dan nie, word navors­ing nog deurlopend gedoen om telepatie deur middel van tegnologie te bewerkstellig.
Daar is selfs diegene wat beweer dat die Amerikaanse regering dit reeds tot ’n mate reggekry het en klaar mense se “gedagtes kan lees”.
’n Britse professor, Kevin Warwick, van die Universiteit van Reading in Engeland, is een van die leiers as dit by die ontwikkeling van tegnologiese telepatie kom. Hy glo tegno- telepatie sal in die toekoms die belangrikste of enigste vorm van menslike kommunikasie word.

Hy het aangebied om die eerste mens te word wat ’n telepatieskyfie uittoets. Hierdie skyfie is aan sy senustelsel gekoppel en die ander aan sy vrou, Irena, s’n. Hulle het reeds in 2002 daarin geslaag om só bewegingseine van een senustelsel na ’n ander te stuur en daar is nou sprake van breininplantings wat dit moontlik sal maak om seine van een brein na ’n ander te stuur en dus só te kommunikeer of emosies oor te dra. “Tegnies lyk dit alles baie moontlik, maar hoe dit gaan werk, moet ons nog uitvind,” het hy aan ’n radiostasie gesê.

Die implikasies van telepatie met tegnologie is verreikend, erken Kevin. Een van die grootste etiese kwessies rondom telepatie is die beskerming van die mens se privaatheid. Die vraag is: As selfs jou gedagtes nie meer privaat is nie, wat is dan? Daar is vrees dat hierdie “toegang” tot jou gedagtes tot die mensdom se nadeel misbruik kan word en selfs dat mense se gedagtes later deur ander beheer sal kan word. Só sal politici byvoorbeeld mense se gedagtes kan beïnvloed om hulle te ondersteun of ’n bepaalde ideologie aan te hang.

Die feit is dat die wetenskap nie die moont­likheid van telepatie heeltemal kan uitskakel nie, maar nog minder kon bewys dat dit be­staan. Dalk is dit ’n genade dat ons almal nie in voeling met ons beweerde telepatiese funksies is nie. Dit sal ons deurmekaar koppe dalk net nog deurmekaarder maak! Vk

Send this to a friend