Joshua na die Reën

joshua_na_die_reën

Die sanger en liedjieskrywer Joshua na die Reën het ‘n klompie vrae beantwoord

JACKIE PIENAAR-BRINK

Watter tipe ouers het jy?

Hulle is die mees konsiderende mense wat ek ken en hulle stel altyd ander mense eerste. Enige ouer sou dink dis nie die beste keuse om musiek te gaan studeer nie. Hulle het net gesê: Gaan doen wat jy moet doen. Ek kan nie aan een show in Gauteng dink wat hulle nie bygewoon het nie. Hul inspraak is vir my baie belangrik.

Waar het julle as kinders vakansie gehou?

‘n 4 x 4-vakansie na die een of ander Afrikaland soos Botswana, Zimbabwe, Zambië of Mosambiek was amper ‘n jaarlikse instelling. Ons sou net die nodige saamneem.

Hoekom het jy en Danél jul dogtertjie, Anán, genoem?

Dit beteken in Arabies “vanuit die wolk”. ‘n Wolk was net iets wat op ons harte was en ons het name gaan soek wat iets daarmee te doen het.

Wat is jou grootste vrese?

Ek het nogal ‘n vrees dat ek mense na aan my fisiek sal verloor. Ek weet vrees is die teenoorgestelde van geloof, so dis iets waaraan ek nogal baie in my kop werk. En ek is bang vir spinnekoppe. Maar ons het ? bietjie hippiebloed in ons wat dit betref. My vrou sit die spinnekop gewoonlik in ‘n bottel en gooi dit buite uit.

Waar kom die naam Joshua na die Reën vandaan?

Mense na aan my sê ek herinner hulle aan Joshua in die Bybel. Vir my gaan dit meer oor sy nalatenskap, oor die mure om Jerigo wat hy afgebreek het. Vandat ek in graad 8 begin liedjies skryf het, was die doel in my hart dat dit iets vir iemand sal beteken. Dit gaan oor mure wat afgebreek word – in jou en om jou. Mure hou jou van mense weg sodat jy nie iets kan beteken nie.

En almal weet ek is mal oor die reën. Dit bring groei en na ‘n seisoen van groei, kan ons oes en geniet wat ryp geword het. ? Mens kan dit ook op moeilike tye in jou lewe toepas.

Hoe voel jy oor jou Tempo- en twee Ghoema-toekennings vir jou debuutalbum?

Ek is seker my loopbaan sou nie gewees het waar dit is as dit nie daarvoor was nie. Hoewel ek dit nie vir die toekennings doen is, is ek baie dankbaar vir die blootstelling wat daarmee gepaardgaan en wat baie kunstenaars sukkel om te kry.

Send this to a friend