Andrew Govender

andrew_govender

Om die plofbaarheid van ’n liefdesverhouding oor die kleurgrens in die stormagtige jare sewentig in Suid-Afrika oortuigend te vertolk, sit nie in elkeen se broek nie. Dis nou behalwe as jy Andrew Govender is, skryf Maryke Roberts in ons 1 April-uitgawe. Andrew beantwoord hier nog vrae

Agt vrae aan Andrew Govender, wat die hoofrol in die nuwe fliek, Free State, speel:

Jy het pas ’n fliek voltooi wat mense se onverdraagsaamheid jeens iets wat uit die norm is, illustreer en ongelykheid beklemtoon. Wat maak jou hartseer oor Suid-Afrika 22 jaar ná demokrasie?

Ek dink ons as land het sover gekom, maar ons het nog baie ver om te stap. Die ongelykheid van mense ontstel my. Dit is hartseer om te dink dat ons in ’n wêreld woon waar mense genoodsaak word om in armoede te leef. Ek hoop regtig ons regering sal meer daarop fokus om die minderbevoorregtes te help.

Het jy ’n lewensleuse?

Ja. Ek glo aan David Sarnoff se gesegde: “Die wil om aan te hou, maak dikwels die verskil tussen mislukking en sukses.”

Wie het jou al die beste raad in die lewe gegee?

My beste raad kom altyd van my pa, wat my van jongs af gemotiveer het om slim én hard te werk.

Is daar een ding waaroor jy spyt is in jou lewe?

Nee, nie regtig nie.

Wat is die gebeurtenis in jou lewe waarop jy die trotsste is?

Ek sou sê om matriek met ses onderskeidings te slaag en om ook my honneursgraad in aktuariële wetenskap en statistiek te behaal.

Waarvan droom jy vir die toekoms?

Om as aktuaris te kwalifiseer en in baie meer flieks te speel. Ek sal graag ’n lewe wil hê waarin ek hierdie twee elemente kan balanseer.

As jy een ding aan jou voorkoms kon verander, wat sou dit wees?

Niks nie. Ek is nie perfek nie, maar ek is gelukkig met wie ek is.

Volg jy ’n streng skoonheidsroetine en spesiale eetplan?

Ek oefen gereeld en maak seker dat ek gesond eet. Dis harde werk, maar ek glo regtig die tyd wat jy aan jou gesondheid afstaan, is die moeite werd.

Klik hiér om die lokprent te kyk
Klik hiér om meer te lees oor die fliek

Send this to a friend