Ken jou storie

Willie Burger kyk na die verskillende genres om uit te kies

Om ’n liefde vir lees aan te kweek, is dit noodsaaklik om die regte boeke by die regte lesers uit te bring. Dit is egter nie so maklik om reg te kry nie, want daar is só ’n groot verskeidenheid soorte boeke beskikbaar en elke mens het sy of haar eie voorkeure.In boekwinkels (of aanlyn winkels) word boeke in groot groepe ingedeel, sodat ’n mens makliker kan kry waarna jy op soek is.

In die eerste plek is daar meestal afdelings vir fiksie en nie-fiksie. Elkeen van hierdie groot groepe word weer onderverdeel. Die nie-fiksie het byvoorbeeld sub-afdelings of rakke wat toegewy word aan geskiedenis, biografieë, reis, kook, tuinmaak, wetenskap, filosofie, selfhelpboeke en godsdienstige lektuur. Aan die fiksie-kant is daar steeds meer indelings: romanses, avontuurverhale, misdaadfiksie, wetenskapfiksie, fantasie en talle ander “genres”. Die woord “genre” is aanvanklik gebruik om te onderskei tussen poësie, prosa en drama, en die verdeling is hoofsaaklik op grond van formele kenmerke van die tekste self gedoen.

Deesdae word die woord “genrefiksie” gebruik om veral na populêre fiksie te verwys, eerder as na die tradisionele indeling van drama, poësie en prosa. Elke “genre” van genrefiksie het toegewyde lesers wat voortdurend na meer van dieselfde soort boeke op soek is. Die genre-indelings val saam met ’n proses van effektiewe produksie, bemarking en “verbruik”. ’n Mark word geskep uit lesers wat van ’n sekere soort teks hou en dan word steeds meer boeke aan daardie mark voorsien. Sommige van die genres kan heringedeel word in nog kleiner subgroepies – byvoorbeeld nie bloot “fantasie” nie, maar “Middeleeuse fantasie”. Op hierdie manier ontstaan klein nismarkte – soos in soveel ander segmente van die moderne mark.

Die genres het nie vaste grense nie. Hoewel die meeste skrywers naby aan die kenmerke van ’n bepaalde genre hou, vind daar oor tyd heen ook subtiele verskuiwings plaas. Die beste skrywers is dié wat genoegsame aspekte van die bekende genre in hul werk behou, sodat lesers nie vervreem raak nie, maar tóg ook vernuwend is, sodat lesers nie verveeld raak nie. Só verskuif die grense en soms word genres ook vermeng. Die probleem van al hierdie indelings, wat steeds meer gespesialiseerd raak, terwyl elke genre ook aan die verander is en met ander vermeng, is dat dit byna onmoontlik is om ’n omvattende blik te kry oor alles wat beskikbaar is.

Om regtig kennis van ’n spesifieke genre op te bou, verg dat veel binne daardie genre gelees moet word. ’n Amerikaanse biblioteekkundige, Joyce Saricks, het die volgende nuttige indeling van genre-fiksie gemaak, met die oog daarop om biblioteekpersoneel te help om aanbevelings aan lesers te maak. Vir haar is dit belangrik om uit te vind presies watter aspek van boeke ’n leser bekoor. As mens eers dit weet, kan jy beter aanbevelings maak. Uiteindelik deel sy genrefiksie in vier groot groepe op grond van die sentrale “bekoringselement” wat lesers aanlok: adrenaliengenres, emosiegenres, intellekgenres en landskapgenres. Kleiner bekende genres word behou, maar ingedeel onder hierdie groter “bekoringselemente”. Volgens haar gee lesers wat van ’n vinnige tempo hou (adrenaliengenres) nie om of die boeke as “rillers”, “avontuur”, “spanningsverhale” of “misdaadfiksie” bekend staan nie – hulle lees agter die hoë tempo van gebeurtenisse aan.

Dit is verhale met ingewikkelde besonderhede en talle verrassende wendings wat die leser al hoe vinniger laat lees. Onder die sogenaamde “emosionele genres” sluit Saricks ’n hele aantal oënskynlik uiteenlope genres in, soos “romanses”, gruwelverhale, en “gemoedelike lektuur” (gentle reads). Hoewel hierdie genre boeke bevat wat beslis nie dieselfde soort leser sal lok nie, is hulle emosionele genres omdat die appèl op die leser se emosies sentraal staan. ’n Spesifieke stemming is belangrik. Die stemming word veral bereik deur die taalgebruik en verteltempo waardeur ’n sterk emosionele trekkrag tot stand gebring word: die verhale kan troos bied (soos in romanses) of vrees wek – soos in gruwelverhale.

Onder “intellektuele genres” verstaan Saricks die soort tekste wat lesers laat nadink. Sommige lesers hou nie net daarvan om slegs vermaak te word deur ’n meesleurende vinnige tempo of sterk emosies nie, maar om na te dink oor etiese en sosiale kwessies of oor aspekte van menswees. Sy noem hieronder “literêre fiksie”, “misteries”, “psigologiese spanningsverhale” en “wetenskapfiksie”. Dikwels word gedelf in sosiale en etiese sake (veral in literêre fiksie en wetenskapfiksie), die ondersoek van ’n gefolterde gees (psigologiese spanning) of die meer konvensionele misterieverhaal (whodunit) – wat van die leser verg om te wonder en saam te dink.

Die laaste groep genres is die “landskapsgenres” waarin gedetailleerde beskrywings van die agtergrond, met die doel om die leser in ’n ander wêreld in te trek, sentraal staan. Hierdie genres doen ’n appèl op lesers wat graag uit hul gewone wêreld in ’n ander wêreld ingetrek wil word. Die ruimte en stemming van die romans staan sentraal. Hieronder plaas Saricks fantasie, historiese fiksie en westerns. Soos alle indelings is hierdie een voorlopig en skiet in talle opsigte tekort. As mens aan voornemende lesers aanbevelings wil maak, kan hierdie indeling egter ’n goeie beginpunt wees.  

Send this to a friend