Kies ’n boek: Go, Went, Gone

Willie Burger kyk na Jenny Erpenbeck se roman, Go, Went, Gone

Die Duitse skrywer Jenny Erpenbeck se roman Gehen, Ging, Gegangen is in Engels vertaal as Go, Went, Gone, en reeds met die English Pen Award en die Independent Foreign Fiction Prize bekroon. Die New Yorker se gerespekteerde resensent, James Wood, het oor hierdie roman geskryf: “When Erpenbeck wins the Nobel Prize, it will be for Go Went Gone”.

Dit is sommer baie hoog opgee oor ’n roman en benewens ’n vriendin se aanbeveling om die roman te lees, het hierdie opmerking van Wood veroorsaak dat ek die boek bestel het. Sommer met die begin lees aan die eerste paar bladsye, het ek al daardie gevoel gekry dat dit inderdaad ’n belangrike roman is, een van die romans wat vir ’n geruime tyd by mens gaan bly. ’n Mens kan fiksie om verskillende redes lees. Meestal lees mense romans omdat dit vermaak, omdat goeie fiksie daarin slaag om ’n mens weg te voer na ’n ander wêreld waarin jy heeltemal opgeneem word, wat jou emosioneel betrek sodat dit byna voel asof jy dié wêreld beleef.

Heel dikwels vergeet ons egter ook weer gou van daardie wêrelde en gaan al weer op soek na ’n volgende romanse of speurverhaal om opnuut uit ons wêreld geneem te word na ’n ander opwindende ervaring. Hierdie is romans wat mens vir vermaak lees. Dan is daar egter soms romans wat mens laat agterkom dat ’n aspek van ons bestaan daarin beskryf word, daarin lewe kry en van verskillende kante af bedink en belig word en dat dit nie moontlik is om dit op ’n ander manier te beskryf of te ondersoek as in hierdie vorm van hierdie verhaal wat op hierdie manier vertel word nie. Dit is die soort roman waarin talle komplekse sake saam bedink word, teenoorgesteldes dikwels behoue bly en filosofiese oplossings nie deug nie.

Die ervaring van ’n probleem uit verskillende hoeke word meesleurend moontlik gemaak. Go, Went, Gone is só ’n roman. Die leser word betrek by die wêreld van ’n pas afgetrede Berlynse akademikus, Richard. Hy het sy lewe lank navorsing gedoen en klas gegee oor Klassieke Tale – die werk van die ou Grieke en Romeine. Ná sy aftrede, terwyl hy nog sukkel om daaraan gewoond te raak om heeldag tuis te bly en vir al sy boeke uit sy kantoor by die huis plek te maak, merk hy op ’n dag ’n groep vlugtelinge uit Afrika op ’n plein in Berlyn op. Richard begin wonder oor hierdie vlugtelinge, wie hulle is, waar hulle vandaan kom, hoekom hulle in Duitsland beland het, wat hulle eintlik wil hê. Soos ’n gesoute navorser begin hy oplees oor Afrikalande soos Niger, Libië en Nigerië, waaroor hy eintlik bitter min weet. En dan versoek hy toestemming om onderhoude met die vlugtelinge te voer.

LEES OOK: Kies ‘n boek: The Courage to be Disliked

Sy kennis van Seneca en Homerus rus hom nie regtig toe om hierdie vlugtelinge se wêrelde te verstaan nie (Omdat hy aanvanklik sukkel met hul name, gee hy sommige name soos Hermes of Apollo, ’n aanduiding van sy onvermoë om hulle as vreemdelinge te leer ken.) Richard se geordende, netjiese, presiese manier van lewe word deur hierdie vlugtelinge se teenwoordigheid in Berlyn omvergewerp. Die een dag is dit nog vir hom belangrik om ’n ui op die beste manier te skil – terwyl hy ook daaroor nadink dat daar eintlik vir elke handeling ’n “beste manier” is om dit uit te voer. Die volgende dag is hierdie netjiese ordening onsinnig in die lig van die verhale van ontbering en lyding wat hy hoor uit die monde van mense wat nie mag werk nie, geen burgerskap het nie en nie kan terugkeer na hul lande van oorsprong nie.

Hy raak al meer betrokke by die vlugtelinge se lot en die idee van grense tussen mense, die eintlik arbitrêre grense waarvolgens mense se lot bepaal word. As Oos- Duitser wat aan die einde van die Tweede-Wêreldoorlog toevallig aan die Russiese kant van die grens in Duitsland beland het, en wie se lewe daardeur radikaal beïnvloed is, en wie se lewe weer verander het ná die val van die Berlynmuur, is Richard bedag op grense. Die idee van gasvryheid teenoor die vreemdelinge wat grense oorsteek, staan uiteindelik ook sentraal.

Die ou Germaanse stamme het volgens ou Latynse bronne besonder gasvry teenoor vreemdelinge opgetree en Richard wonder wat van daardie gasvryheid geword het. Hoewel die vlugtelinge nie eens weet wie Hitler was nie, merk Richard in ’n stadium op dat Hitler eers die oorlog verloor het as vreemdelinge werklik met gasvryheid ontvang word. Die roman belig gasvryheid vanuit verskillende kante, die wetlike aspekte en regulasies waarmee die regering probeer om die vlugtelingkwessie as abstraksie te hanteer, staan in skrille kontras teenoor die ervarings van individue. Maar niks word oorvereenvoudig nie en uiteindelik gaan dit nie slegs oor die gasvryheid van Europeërs teenoor vlugtelinge uit Afrika of Sirië nie, dit gaan verder, oor die gasvryheid van mens teenoor mens, oor die onvermoë wat ons dikwels het om werklik oopgestel te wees vir ander.

Send this to a friend