Klassieke klanke: Bedřich Smetana

Standbeeld van Bedřich Smetana in Praag deur Josef Malejovský.

As ’n mens sy musiek wil tipeer, is dit dalk die beste om Smetana self aan die woord te stel: ‘Mozart in komposisie en Liszt in tegniek’

Deur JOHAN MYBURG

Antonín Dvořák mag wêreldwyd as die beroemdste Tsjeggiese komponis bekend staan, maar as jy die Tsjegge daaroor sou vra, mag hulle dalk die naam van Bedřich Smetana noem – juis omdat sy musiek die hart en siel van dié land so roerend vasgevang het, en omdat sy musiek dié land se musiektradisie so in ere hou.

In ’n tyd toe musiek as voertuig vir nasionale strewe (eintlik onverdunde nasionalisme) gedien het, was Smetana Tsjeggies- sprekendes se held. Toe hy eindelik erkenning gekry het. Dié vurige nasionalis het eers op 40 Tsjeggies finaal onder die knie gekry en veel later gehore en kritici aan sy kant gekry. Smetana (1824–1884) se pa was ’n knap musikant wat sy seun van kleins af klavierles gegee het. Maar die gesin het in ’n boerderygemeenskap gewoon waar die voertaal Duits was. Toe Smetana op 15 in Praag moes begin skoolgaan, het die stadskinders hom geboelie oor sy gebrekkige Tsjeggies én sy boertige maniere. Dit het hom so ontmoedig dat hy die skool verlaat het.

Nietemin het hy, toe hy later in sy lewe Tsjeggies bemeester het, waarskynlik meer vir die taal en volksmusiek gedoen as die deugniete saam met hom op skool. Talentvol was hy gewis. Op vyf was hy opgewasse om in ’n strykkwartet te kan speel, op ses het hy sy eerste klavieruitvoering gegee en op agt het hy sy eerste komposisie neergepen. As ’n mens sy musiek wil tipeer, is dit dalk die beste om Smetana self aan die woord te stel: “Mozart in komposisie en Liszt in tegniek.” As komponis van operas het Smetana geen gelyke in sy vaderland gehad nie.

LEES OOK: Klassieke klanke: Dmitri Hvorostofski

Van die nege operas wat hy geskryf het, is dit egter net Die verkoopte bruid, sy opera van 1866, wat deesdae nog deel van die gereelde repertoire vorm. Die Mozart-invloed in sy musiek, veral ten opsigte van ’n speelse taksering van melodie, is onmiskenbaar daar. En talle kritici het Liszt se invloed soms venynig uitgewys. En dan was daar ook die kritiek dat hy byvoorbeeld nie-Tsjeggiese sangers gewerf het om in sy operas te sing. As gevolg van al dié kritiek het Smetana hom ’n ruk lank aan die openbare lewe onttrek. Sy gesondheid het verswak (wat hy aan die stres van die kritiek toegeskryf het) en in die vroeë 1870’s het hy heeltemal doof geword.

In 1872 het hy Má vlast (My vaderland) geskryf, die eerste van ’n reeks orkeswerke waarin die stryd om en strewe na Tsjeggiese nasionalisme seëvier. Smetana het Ma vlast aan die stad Praag opgedra en ná die eerste uitvoering daarvan in 1882 is dié werk as ’n ware weergawe van die “Tsjeggiese nasionale styl” beskryf. Dit was veral die beweging “Vltava” (die Moldau), waarin die rivier wat deur Praag vloei, in musiek beskryf word, wat al die nasionale klokkies laat lui het. Hoewel hy niks meer kon hoor nie, was sy laaste jare Smetana se produktiefste. Hy het vyf van sy nege operas in die laaste tien jaar van sy lewe en ook ’n aantal orkeswerke geskrywe, waaronder twee outobiografiese strykkwartette, “Uit my lewe”. Hy het die kwartetvorm vir dié intieme portrette gekies – “vier instrumente wat in ’n kring met mekaar gesels”. Die Strykkwartet no. 2 in d het vir die derde beweging die tempoaanduiding: “Vrolik, nie gematig nie, maar besield en met vuur.” Moontlik ’n aanduiding van hoe Bedřich Smetana gelewe het.

Send this to a friend