Kies ’n boek: Herman Lategan en Pieter van Zyl

fopdossers-web

Willie Burger kyk na Herman Lategan en Pieter van Zyl se jongste boeke

Op universiteit het ek ’n vriend gehad wat woordeboeke gelees het. As jy hom met ’n boek op sy skoot betrap, was dit die ou blou HAT of ’n Engelse Oxford-woordeboek. Wanneer jy in sy kamer inkom, het hy altyd met ’n glimlag gesit en gesê: “Het jy geweet daar is ’n woord soos …?”, of “Weet jy wat beteken …?”. Hy het veral in die herkoms van woorde belanggestel en hy het ’n ou, tweedehandse Nederlandse etimologiewoordeboek gehad. Hy het ons dikwels vermaak met stories oor waar woorde vandaan kom.

Deur hom het ek geleer hoe interessant woorde eintlik kan wees. Sommige woorde is interessant omdat hulle vreemd is, maar ander woorde wat mens elke dag gebruik, word skielik vir mens vreemd as jy eers oor hulle begin nadink. Hoe maklik sê ons byvoorbeeld dat iemand blakend gesond is, sonder om te dink oor wat “blakend” of “blaak” eintlik beteken? Herman Lategan se tweeweeklikse rubriek in Rapport, Woorde wat wip, is die verkenning van woorde – van vreemde woorde, van bekende woorde wat vreemd word as mens hulle stip dophou, van ongebruikte woorde en van woorde wat verkeerd gebruik word.

Hierdie rubrieke, en enkele ander stukkies wat in Taalgenoot verskyn het, is nou versamel en as Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse uitgegee. Nie alle koerantrubrieke “werk” wanneer hulle gebundel word nie. Hoewel mens sommige rubrieke gereeld in die koerant lees en geniet, verloor baie rubrieke hul vermaaklikheid of impak wanneer hulle nie meer in die konteks van die spesifieke koerant en tyd waarin hulle oorspronklik verskyn het, gelees word nie. Nie net is die spesifieke konteks belangrik vir die verstaan van baie rubrieke nie, maar om ’n hele reeks rubrieke, almal in dieselfde styl, agtermekaar te lees, is ook dikwels uitputtend, te dreunend en eenselwig en daarom later vervelig.

Gevolglik is uitgewers ook dikwels maar kopsku om rubrieke te bundel. Lategan se rubrieke ontsnap tot ’n groot mate albei van hierdie beperkings. Die individuele verhaaltjies is elkeen ingegee deur ’n woord – en die woorde is van A tot W gerangskik sodat die bundel losstaande verhaaltjies ’n eenheid vorm, byna soos ’n woordeboek. Die leser kan dus ’n bepaalde woord “naslaan” en dan die verhaaltjie daaroor lees. As jou oog oor die inhoudsopgawe gly, sien jy bekende woorde soos “rugby” en “matras”, maar ook vreemde woorde soos “shtetl” en “maninggal”. Sommige woorde is wel bekend, maar word vreemd gemaak wanneer Lategan jou dwing om bietjie meer daaroor na te dink – soos oor “skaamhare” of “seur”.

Daar is ook talle “mooi” woorde – woorde wat so baie Afrikaans is dat hulle eintlik onvertaalbaar is – “ietsjoebeentjie” en “kamdebooharpuisbos”. Opstokers, fopdossers en tweegatjakkalse is natuurlik nie ’n naslaanwerk nie – al is die kort storietjies alfabeties gerangskik. Dit is egter ’n prettige boek waarin mens sommer net so af en toe kan loer. Sommige van die storietjies is werklik vermaaklik, ander laat mens nadink, nie bloot oor die woord nie, maar oor hoe ons met woorde betekenis skep, insluit en uitsluit en hoedat hulle soms die manier hoe ons die wêreld verstaan, beïnvloed. Heel dikwels is die storietjies sommer net ’n lawwe of skunnige woordspel. Dit is ’n boek om te laat rondlê sodat jy sommer so af en toe ’n stukkie daaruit kan lees. Dan het jy ook iets om te sê, soos my studentevriend van jare gelede, waarmee jy gesprekke aan die gang kan sit: “Het jy geweet daar is ’n woord soos paskwil?”

LEES OOK: Kies ‘n boek: Jennifer Friedman se memoires

Die berugte Gert van Rooyen het in 1990 sy medepligtige, Joey Haarhoff, doodgeskiet en homself om die lewe gebring voordat die polisie hulle oor die ontvoering van en moord op ten minste ses skoolmeisies kon vastrek. Die reeks ontvoerings, seksuele aanrandings en moorde het destyds groot opslae gemaak en vir baie Suid- Afrikaners was dit hul eerste kennismaking met die woord “pedofilie”. Omdat Van Rooyen en Haarhoff dood is voordat die polisie hulle kon ondervra, het die verdwyning van hul slagoffers tot ’n groot mate ’n raaisel gebly. Die “gruwelhuis” in Pretoria waaruit een van hul slagoffers kon ontsnap nadat sy in ’n kas toegesluit is, is deeglik ondersoek en die tuin is omgedolwe op soek na leidrade oor wat van die ander meisies geword het.

Wat presies gebeur het, is nooit vasgestel nie. Die bekroonde joernalis Pieter van Zyl het nou, byna 30 jaar later, ’n uitgebreide studie onderneem om lig op die raaisel te probeer werp. Hy het met baie mense wat betrokke was onderhoude gevoer: naasbestaandes van die meisies wat verdwyn het asook van Haarhoff en Van Rooyen. Hy het alle moontlike inligting uit die argiewe gaan krap en verskeie deskundiges – kriminoloë, sielkundiges en speurders – geraadpleeg ten einde lig op die saak te probeer werp. Genoeg inligting om die raaisel finaal op te los, is nie beskikbaar nie, maar Van Zyl se ondersoek dui daarop dat Van Rooyen en Haarhoff se optrede moontlik deel van ’n groter misdaadnetwerk was.

vanrooyen-web

Send this to a friend