Kies ‘n boek: Die Dao van Daan van der Walt

Willie Burger kyk na Lodewyk G du Plessis se debuutroman, Die Dao van Daan van der Walt

Dit gebeur nie aldag dat ’n debuutroman ’n beroering onder lesers veroorsaak nie, maar Die Dao van Daan van der Walt het sommer ’n klomp mense aan die praat. Aan die bedrewe manier waarop die verhaal vertel word, sou mens nooit vermoed dat hierdie ’n eerste roman is nie. Dit is duidelik dat Lodewyk G du Plessis (’n skuilnaam) ’n slag met taal het én weet hoe om ’n storie boeiend te vertel. Dit is ook ’n lekkerleesstorie met talle kwinkslae wat die leser sommer heelwat vermaak verskaf.

Boonop lewer die roman ’n belangrike bydrae tot verskeie heersende debatte in die (Suid-)Afrikaanse samelewing. Die Daan van der Walt van die titel is ’n boer van die Kalahari. Ná sy vrou se dood aan kanker raak Daan deur sy eie toedoen van sy seun (’n afgestudeerde predikant) vervreemd. Sy seun verkies om in China te gaan skoolgee, eerder as om sy pa se wens, dat hy op die Kalaharidorpie predikant word, uit te voer. As ou man alleen op die plaas beland hy in ’n situasie wat maak dat hy nie langer op sy geliefde plaas kan aanbly nie, plaasmoorde maak dit onveilig, hy bots met die gereg en boonop versprei die dominee se vrou skinderstories oor hom in die gemeenskap.

Hy vestig hom in ’n aftree-oord in Kaapstad, maar gaan uiteindelik na China om sy seun te besoek. Verskeie skokke wag ook hier op Daan, wat maak dat hy in ’n monnikeklooster beland en tai tji leer. Die krag van die roman lê in die manier waarop dit vertel word. Die roman word aangebied as die dagboek wat Daan in die Boeddhistiese klooster begin skryf, die briewe wat hy ook van hier af aan sy oorlede vrou rig, en sy “Historia”, die geskiedenis van sy lewe wat hy neerskryf. Hierdie vertelwyse maak dit moontlik dat twee verhaallyne gelyktydig ontplooi: die Daan in die “hede”, in die klooster, vertel in die briewe en in die dagboek, gerig aan sy hond, van sy daaglikse ervarings tussen die “heidene” en “kommuniste”, soos hy die Chinese om hom noem.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Elsa Joubert Spertyd

Aan die ander kant is hy besig om sy lewensgeskiedenis op te teken en aan gebeurtenisse uit die verlede terug te dink. Op hierdie manier word spanning gewek en die leser se nuuskierigheid behou. Telkens is daar weer verrassende onthullings uit die verlede, wat die leser opnuut anders na Daan laat kyk. Daan se taalgebruik is diep deur die Ou- Testamentiese en kerktaal beïnvloed. Dit is duidelik dat die kerk en geloof sy hele lewe grondig beïnvloed het en dat hy sy lewe volgens God se wet en die kerk se norme probeer rig het. Die kerk se skerp veroordeling van homoseksualiteit bring egter vir Daan veel spanning mee. Lewenslank onderdruk hy sy eie homoseksualiteit en leef as boer en patriarg op die plaas soos wat die plattelandse gemeenskap en kerk van hom verwag. Hy vind dit onmoontlik om wie hy eintlik is, te versoen met dit wat van hom verwag word om te wees, wat hy eintlik ook van homself verwag ná al die jare se leef volgens die gemeenskaps- en kerknorme.

Sy taalgebruik is deurspek van die clichés van volkswyshede en Bybelse formulerings. Hy kan nie die woordeskat vind om anders na homself, sy seun en sy oorlede vrou te kyk nie. Die (skynheilige) interpretasie van die Bybel waaraan hy onderwerp word, skep nie enige moontlikhede vir hom om homself te kan aanvaar nie. Eers wanneer Daan (teen sy wil en met baie weerstand) blootgestel word aan ander moontlike maniere om die Bybel te lees, ander maniere om oor menswees te dink as die eksklusiewe en verdedigende, uitsluitende manier wat alles wat onbekend is as volksvreemd of sondig verwerp, kan hy geleidelik met die mense naaste aan hom versoen word. En homself aanvaar.

Dit is ’n moeisame weg (die Dao van die titel wys op die ou Chinese geskrif, Dao De Jing waarin Dao “pad” of “die weg” beteken), maar uiteindelik is die roman meer as slegs Daan se pad, dit is ’n pad na deugdelike bestaan, ’n sinvolle bestaan. Sy blootstelling aan ander kulture, ander geskiedenisse, ander mites en ander mense maak dit vir Daan moontlik om uit die beperkende woordeskat te ontsnap en ’n ander manier van bestaan oop te maak: ’n bestaan wat nie op uitsluiting en afwysing berus nie, maar op oopheid en insluiting. Die boek is dikwels baie snaaks. Daan se voorliefde vir boerekos, boeregewoontes en die voorskrifte van die dopperkerk staan in skrille kontras met die Chinese wêreld waarin hy beland en sy lomp gesukkel om daarby aan te pas, is vermaaklik. Maar die roman is ook ontstellend en droef, as mens agterkom hoedat Daan met homself worstel en in die proses nie by die mense naaste aan hom kan uitkom nie.

Send this to a friend