Kies ‘n boek: Hermann Giliomee

kenjoustorie_herman

Willie Burger kyk na Hermann Giliomee se outobiografie

Die slothoofstuk van Hermann Giliomee se outobiografie dra die titel “Om trots én skaam te wees”. In ’n sekere sin sou dit ook ’n gepaste titel vir die outobiografie as geheel kon wees. Sy lewensverhaal bied ’n boeiende blik op die nagenoeg 80 jaar van sy eie lewe, maar ook op ’n veel langer geskiedenis van die land – en spesifiek ook op die Afrikaner wie se geskiedenis een is om op trots te wees, maar waaroor ’n mens tegelyk ook skaam kry.

Hermann Giliomee se outobiografie is veel meer as ’n persoonlike geskiedenis, as die storie van sy lewe. Eintlik is sy outobiografie ’n persoonlike blik op die geskiedenis van Suid-Afrika soos wat hy dit eerstehands beleef en ook as historikus nagevors het. Telkens vorm ’n bepaalde historiese gebeurtenis die uitgangspunt van sy verhaal, met vertellings van hoedat hy as historikus, as rubriek- of briefskrywer op daardie gebeurtenis gereageer het. Soms word die impak daarvan op sy persoonlike lewe ook aangeroer – soos wanneer hy en sy vrou besluit om Prog te stem en hy die skok daarvan vir sy ouers versag, of die persoonlike aanvalle op hom deur ’n groep van sy Stellenbosse kollegas.

In die inleiding meld Giliomee dat hy in sy nagenoeg 80 lewensjare eintlik drie “rewolusies” beleef het: As kind en student het hy die opkoms van die Afrikaner-volksbeweging ervaar. Hy beskou hierdie “volksbeweging” as ’n rewolusie en skryf breedvoerig daaroor in die tweede hoofstuk, “En hoor jy die magtige dreuning”. Hy is in 1938 gebore – die jaar van die herdenking van die Groot Trek deur die simboliese ossewatrek, wat die inleiding was vir die Afrikaanse kulturele opbloei wat tot die vestiging van Afrikaans as wetenskapstaal, die Nasionale Party-bewindsoorname en uiteindelike republiekwording buite die Statebond gelei het. Hierdie jare was deurslaggewend vir sy vorming – in skool en kerk en verskeie verenigings is sy deelname aan die volksbeweging eintlik as vanselfsprekend aanvaar.

Hy beskryf hierdie volksbeweging as iets wat nie ontstaan het in reaksie op ’n gevoel van bedreiging deur swart mense nie, maar dat dit eerder gerig was op die bevryding van Afrikaners van ’n minderwaardigheidsgevoel teenoor Engelse. Sy lojale verbintenis aan Afrikaans en die Afrikaner deur die res van sy lewe het uit hierdie “rewolusie” ontstaan. Die tweede rewolusie wat hy self beleef het, is die rewolusie van apartheid wat hy as student in Stellenbosch ervaar het. In die hoofstuk “’n Universiteit met ’n houding” skryf hy oor die opwinding wat oor “Verwoerd se slim planne” aan die einde van die 1950’s geheers het. In hierdie tyd is sy eie denke ook deur ’n verskeidenheid denkers gevorm wat téén die Afrikaner-nasionalisme en apartheidsideologie gewaarsku het: vroeër al Van Wyk Louw, maar op universiteit is hy veral geraak deur historici soos Toynbee en ’n aantal Afrikaanse joernaliste soos GD Scholtz en Henry Fagan, asook teoloë soos Bennie Keet wat almal aangedui het dat rasseskeiding onregverdigbaar is en op ’n ramp sal afstuur.

Die derde rewolusie wat Giliomee self beleef het, is die stryd teen apartheid wat sedert die middel van die 1960’s steeds sterker geword het en wat uiteindelik op die verandering van 1994 uitgeloop het. In ten minste drie hoofstukke skryf hy breedvoerig oor die groeiende weerstand teen die NP-regering, die onderhandelings en die uiteindelike verkiesing. Dit is boeiend om te lees hoe Giliomee sy eie vorming as historikus en sy politieke oortuigings beskryf. Aan die een kant is hy die produk van daardie “volksbeweging”, maar aan die ander kant het hy ook spoedig met ’n kritiese blik van “lojale verset” na die Afrikaner en na nasionalisme begin kyk. Hy het ook krities na Afrikaanse geskiedskrywing begin kyk.

Die Suid-Afrikaanse geskiedskrywing deur Afrikaanse historici was dikwels gemoeid met regverdiging van die Afrikaner-nasionalisme en apartheid en Giliomee se blootstelling aan internasionale denke oor die historiografie en sy groter bewuswording en begrip vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis het sy denke gevorm. Uiteindelik het sy beskouings daartoe gelei dat hy spottenderwys as “oorverlig” beskryf is – nie sommer net “liberaal” of “verlig” nie, maar selfs as Marxis uitgekryt is en as ’n gevaar vir die Afrikaner beskou is. Giliomee se toenemende uitgesprokenheid (gedurende die 1970’s) teen rasseskeiding, teen die onmoontlikheid van ’n blinde vasklou aan Afrikanermag en rassisme het tot ’n situasie gelei wat op Stellenbosch vir hom onhoudbaar geword het en uiteindelik het hy ’n tuiste in Engels aan die Universiteit van Kaapstad gevind – sonder om sy lojaliteit teenoor Afrikaans te verloor.

Soos Giliomee self opmerk, help dit nie om net apartheid of die mense wat dit toegepas het, te veroordeel nie. Dit is maklik. Almal doen dit. Wat nodig is, is om die ontstaan van die ideologie te verduidelik. Hierdie outobiografie verduidelik ontsettend baie van een mens se nougesette toewyding aan pogings om die verlede te verstaan, maar uiteindelik verduidelik dit ook ’n generasie, ’n groep en ’n ideologie.

Send this to a friend