Kies ’n boek: Het literaire kring 

Willie Burger kyk na die Nederlandse skrywer Marjolijn Februari se Het literaire kring of in Engels vertaal as The Book Club

Waarom lees mense boeke en waarom vorm mense leeskringe om oor boeke wat hulle gelees het, te praat? Waarom bestudeer mense letterkunde op skool en universiteit?In ’n interessante roman deur die Nederlandse skrywer Marjolijn Februari, Het literaire kring (in Engels vertaal as The Book Club), word hierdie vrae onder meer gevra.

Een van die karakters in die roman, Randolf, is ’n groot kenner van die staatsreg en ’n bekende rubriekskrywer in die koerante. Hy verskyn dikwels as “deskundige” op TV waar hy met groot gesag kommentaar oor die regsimplikasies van internasionale nuusgebeurtenisse lewer. Hy is bevriend met die vernaamste mense in die mediawêreld, met regters en ministers. Hy is egter lief daarvoor om romans te lees en nooi sy skoonseun uit om ook by sy leeskring aan te sluit, want, so glo hy, “vroeër of later word elke mens met ’n verantwoordelikheidsgevoel lid van ’n leeskring”.

Hy verduidelik graag dat daar eintlik net een manier is waarop ons ons menslike bestaan kan begryp, waarop die toevallighede van bestaan verstaanbaar gemaak word, en dit is deur die vertel van verhale. Alleen uit verhale, so glo hy, kan mens die spesifieke omstandighede van afsonderlike gebeurtenisse in mense se lewens verstaan. Die filosofie, psigologie, sosiologie of regsgeleerdheid bied groot strukture wat mens nie in staat stel om mense in hul spesifieke omstandighede te begryp nie. Hy waardeer ook die vermoë van skrywers om aan gewone mense se alledaagse ervarings gewig te gee, dat die dinge wat almal ervaar, op só ’n manier vertel word dat dit betekenisvol word, dat dit saak maak.

Literatuur gee ook diepte aan ons bestaan, vertel Randolf vir sy studente, dit herinner daaraan dat die lewe meer as winsbejag is. Die meeste lesers sal instemmend knik oor hierdie opmerkings. Ons wat van boeke hou, wat lief is vir lees, spreek dikwels hierdie soort sentimente uit. Die probleem is net dat Randolf en die ander lede van die boekklub erge snobs is en mens jou nie met hulle wil identifiseer nie. Hulle lees slegs “hoë letterkunde”, met temas wat by die groot vraagstukke in die wêreld aansluit. Wanneer iemand voorstel dat hulle ’n blitsverkoperroman moet lees, geskryf deur ’n jong vrou wat so 17 jaar gelede op hul dorpie op skool was, weier Randolf volstrek.

Die boek is glo sommer net ’n romantiese komedie. Dit is ’n blitsverkoper vir die massa. Met die boek wil Randolf niks te doen hê nie, selfs nie as die skrywer op hul dorpie kom praat nie. Spoedig blyk dat meer op die spel is as sy literêre snobisme. Sy eie dogter en ’n joernalis ontdek dat die skryfster se pa eens lid van die leeskring was en dat hulle eintlik almal ’n donker geheim deel. Het literaire kring/The Book Club is soms baie snaaks. In literatuur ontstaan die komiese, soos in die lewe, dikwels wanneer selfingenome mense wat hulself beter as ander ag, ontmasker word.

Uiteindelik is dit egter nie net snaaks nie, want dit word duidelik dat die kulturele snobisme, die aanhang van kunswerke, die fyn beskaafdheid van die regte klere-, musiek-, kos- en boekkennis, kan dien om veel te verdoesel, om onreg te bedek. Dit word ’n aanklag teen onaantasbare bevoorregte mense vir wie weerloses se lewens min werd is. Een toneel uit die roman bly by my spook. Randolf se dogter wil weet waarom die leeskring nie die meisie wat saam met haar op skool was, se blitsverkoperroman wil bespreek nie. Haar meerderwaardige ryk ekonoomman verduidelik dat hulle slegs “ernstige literatuur” lees en beslis nie ’n komiese liefdesverhaal nie.

Ons leef immers in ’n tyd waarin die wêreld voor groot krisisse staan en om ’n liefdesverhaal te lees, is “ontsnapping”, om “op die vulkaan te dans”, soos hy dit stel. Ons het ernstige literatuur nodig. Hy reken dat literatuur oor 9/11 of die moord op Kennedy byvoorbeeld veel belangriker as ’n liefdesroman is. Hieroor is Teresa woedend en voer ’n interessante redenasie. Dit help absoluut niks, reken sy, as mense hulle met die bespreking van ernstige literatuur oor die groot gebeurtenisse in die wêreld besig hou nie. Die gepraat oor wêreldpolitiek is volgens haar ’n verskoning vir mense wat sonder enige invloed of besluitnemingsmag is om dae lank te bly praat oor al die dinge waaraan hulle niks kan verander nie.

Op hierdie manier bly hulle so besig dat hulle nie hoef na te dink oor die dinge waaraan hulle wél iets kan verander nie. Mense soos haar pa, die belangrike regsgeleerde, is so besig met besprekings van die wêreldpolitiek en hul ernstige boeke, dat hulle daardeur die aandag van hulle eie klein magspeletjies, hul opportunisme, hul fyn wreedheid en hul eie swak menseverhoudings aflei. Die roman gaan nie slegs hieroor nie – dit is ’n spannende verhaal waarin die leser nie kan wag om uit te vind hoe die leeskringlede eintlik almal by ’n misdaad betrokke was nie. Maar dit is ’n boek wat mens ook laat nadink oor ons eie leesgewoontes, ons verwagtings van boeke en ons gesprekke oor boeke. Ook besprekings soos hierdie een wat jy nou lees, wat maklik ’n indruk van belangrikheid kan skep waardeur ons eie gedrag verdoesel word.

Send this to a friend