Klassieke klanke: Francisco Tárrega

Tárrega het met sy Gran Vals van 1902 miljoene mense teen die einde van die 20ste eeu bereik toe Nokia vier mate uit dié wals as luitoon vir sy Nokia 1011 gebruik het

Deur JOHAN MYBURG

Narciso Yepes se opname van Francisco Tárrega se Recuerdos de la Alhambra bly een van die bekendstes. Dit was die rubriek oor Joaquin Rodrigo wat my laat dink het aan Francisco Tárrega, die Spaanse komponis uit die Romantiek wat as “die vader van die klassieke kitaar” bekend gestaan het.

Francisco Tárrega (1852–1909) se bekendste werk vir kitaar is ongetwyfeld Recuerdos de la Alhambra (Herinneringe aan die Alhambra), ’n miniatuur wat hy vermoedelik in 1896 in Granada as ’n geskenk geskryf het, aangesien hy op die oorspronklike manuskrip geskryf het: “… aangesien ek jou nie ’n geskenk van waarde op jou verjaardag kan aanbied nie, aanvaar dié nederige poëtiese indruk wat die majestueuse Alhambra in Granada op my gemaak het, wat ons albei bewonder”.

Betowerend is dié eeue oue vesting en aanliggende tuinery in Spanje se Andalusië sonder twyfel. In die geskrifte van die More staan Alhambra bekend as “’n pêrel tussen smaragde”, verwysende na die ligroos kleur van die steenwerk tussen die lowergroen bome. Tárrega se nostalgiese besinging van dié skoonheid klink eenvoudig, maar dit verg vernuf van die kitaarspeler, onder meer in die handspronge, maar boonop in die beheersing van die tremolo terwyl die teerheid van die melodie nie skade ly nie. Binne die genre wat as alhambrismo bekendgestaan het, gekenmerk deur ’n mengsel van Romantiek en Oosterse invloed, was Recuerdos de la Alhambra ’n meesterstuk.

Maar Tárrega het met nóg ’n kitaarwerk, sy Gran Vals van 1902, miljoene mense teen die einde van die 20ste eeu bereik toe Nokia vier mate uit dié wals as luitoon vir sy Nokia 1011 gebruik het. Tárrega se wals is in 1992 die eerste keer in ’n advertensie vir dié selfoon gebruik, en die befaamde vier mate is in die 2110-model as luitoon Type 7 gelys. Toe die Nokia 6110 in 1997 op die mark kom, is die (toe reeds ’n straks irriterende) luitoon as Grande Valse aangedui. Nokia het ’n melodie nodig gehad sonder die beslommernis van duur kopieregkomplikasies en volgens Europese wetgewing is musiek 70 jaar ná die dood van die komponis vir gebruik beskikbaar. En 84 jaar ná die dood van Tárrega was sy Gran Vals nommerpas.

Francisco Asís Tárrega Eixea is in Villarreal, Castellón, gebore. Sy pa was ’n kitaarspeler, maar het aangedring dat sy seun benewens kitaar ook in klavier onderrig moet word – omdat hy gemeen het die kitaar se dae was getel. Die jong Tárrega het ’n ooginfeksie opgedoen wat hom siggestremd gelaat het. Op 22 het hy aan die konservatorium in Madrid begin studeer en teen 1880 het hy konserttoere na Parys en Londen onderneem, waar hy as die Sarasate van die kitaar aangeprys is. Die Spaanse violis Pablo de Sarasate (1844–1908) was toe oral bekend. Tárrega het heelwat van die klaviermusiek van Beethoven, Chopin, Mendelssohn en ook van die Amerikaanse pianis Louis Moreau Gottschalk vir kitaar getranskribeer.

’n Besoek aan Algerië in 1900 waar Tárrega die kenmerkende klanke van die Arabiese trom teëgekom het, het tot nóg ’n bekende werk vir kitaar, Danza Mora, gelei. Nog ’n nalatenskap van Tárrega was die sogenaamde “skool van Tárrega”, wat onder meer beteken dat die kitaarspeler nie sy naels in die voortbring van klank op die snare gebruik nie. Tárrega het in 1902 sy naels kort gesny en sy klank was daarna milder as met naels. Op 54 het Tárrega ’n verlamming aan die regterkant van sy liggaam opgedoen. Sy laaste werk, Oremus, het hy kort voor sy dood in 1909 geskryf.

Send this to a friend