Kies ’n boek: Tom Wolfe en Philip Roth

Tom-Wolfe-Kandy-nuut-web

Willie Burger kyk na twee invloedryke skrywers, Tom Wolfe en Philip Roth, wat albei onlangs oorlede is, se werke

Die afgelope maand het die wêreldletterkunde twee invloedryke skrywers verloor. Op 14 Mei 2018 is Tom Wolfe oorlede en op 22 Mei het Philip Roth gesterf. Wolfe was 88 en Roth 85, en albei het hul sterk vroeë werk gedurende die 1960’s gelewer. Tom Wolfe se roman Bonfire of the Vanities staan seker uit as een van die boeiendste beskrywings van die Amerikaanse samelewing van die 1980’s, terwyl The Right Stuff, oor die eerste Amerikaanse ruimtevaarders eweneens gewild was. Albei romans is verfilm. Maar Wolfe se naam is veral sinoniem met die “New Journalism”.

Die begrip New Journalism het in die vroeë 1960s ontstaan en is gebruik om na tekste te verwys waarin feitelike gebeure in fiksievorm weergegee word. Dié skrywers maak dikwels van hul eie ervarings gebruik en doen baie navorsing deur onderhoude te voer en betroubare bronne te raadpleeg. Hulle gebruik egter al die inligting nie om “objektief” verslag te lewer soos in ’n koerantberig nie, maar om eerder ’n persoonlike weergawe, as ’t ware van binne die ervaring, daaroor te skryf. Volgens Wolfe het hierdie joernalistiek, wat die tradisionele joernalistieke ideale van objektiwiteit uitgedaag het en eerder probeer het om die leser ’n emosionele ervaring van binne af te gee, in die laat-1950’s by joernaliste onstaan wat literêre ambisie gehad het.

Baie van hulle het feitelike verslaggewing onbevredigend gevind en het begin om hul koerant- en tydskrifartikels te skryf asof dit kortverhale is – gevul met baie dialoog en romanmatige besonderhede. Aan die een kant het hierdie manier van skryf die joernalistiek beïnvloed en het ook tot groter waardering vir joernaliste se skryfwerk in literêre kringe gelei, maar aan die ander kant het dit ook ’n invloed op die letterkunde gehad. Skrywers soos Truman Capote, Norman Mailer en Hunter S Thompson het bekendheid met hulle “niefiksieromans” in hierdie styl verwerf. Wolfe se versameling essays The Kandy- Kolored Tangerine-Flake Streamline Baby (1966) was een van die baanbrekerswerke van dié genre. In ’n terugskouende artikel wat in 2000 in sy boek Hooking Up verskyn het, verduidelik Wolfe dat die tegnieke van realistiese fiksie uit die 19de eeu eintlik sy eie werk, asook die New Journalism in die algemeen, onderlê.

Die belangrikste tegnieke wat hy uitsonder, is dat tonele beskryf word, eerder as wat vertel word wat gebeur; baie fyn besonderhede word gegee, nie as blote versiering nie, maar om die vertelling tot lewe te wek; daar word ruimskoots van realistiese dialoog gebruik gemaak, en (dalk die belangrikste) interne fokalisering word gebruik. Met laasgenoemde word bedoel dat die gebeure wat beskryf word nie “van buite” weergegee word nie, maar as die waarnemings van iemand wat alles beleef.

LEES OOK: Kies ‘n boek: Karel Schoeman: Slot van die dag

Philip Roth het in 1969 met die verskyning van Portnoy’s Complaint oornag ’n beroemde skrywer geword. Dit was nie sy debuutroman nie, maar dit was die roman wat lesers laat regop sit het en waarvan die verkope die hoogte ingeskiet het. Talle mense was geskok oor die reguit manier waarop oor seks – spesifiek masturbasie – daarin geskryf is. Vir my is The Human Stain (2000) egter Roth se meesterwerk. Hierdie roman maak deel uit van ’n drieluik wat ook I Married a Communist en American Pastoral insluit.

Die drieluik word deur baie kritici as Roth se beste werk beskou. The Human Stain is ’n fyn ondersoek van moraliteit en ideologie in die VSA van die laat 1990’s – die tyd toe Bill Clinton in ’n staat van beskuldiging geplaas is. Aan die een kant gaan die roman oor mense se beterweterigheid en gemaklike morele oordeel oor ander en die roman word ’n genadelose oopkrap van die twyfelagtige gronde van baie mense se morele waardes. Aan die ander kant gaan die roman ook oor identiteit: op grond van velkleur, op grond van gender en op grond van ouderdom.

Op satiriese manier word skynheiligheid blootgelê en die veranderings in ideologiese opvattings aan die einde van die 20ste eeu word fyn geregistreer. Soos alle Roth-romans is The Human Stain regtig snaaks en die plot is vol verrassende wendings en neem die leser met ’n vaart na nuwe onthullings en geheime. Die afloop is onvoorspelbaar. Ernstige vrae word oor die belangrikste aspekte van die menslike bestaan gevra – maar telkens op so ’n manier dat die leser om die beurt lag, in skok en ongeloof terugdeins, walg en weer van mening verander. Roth was ’n meesterverteller wie se styl moeilik nagedoen kan word.

Die idee dat ons regtig ander mense kan ken, hul motiverings kan verstaan of dat ons selfs ons eie beweegredes kan begryp of die gevolge van ons dade kan voorsien, word in The Human Stain, maar ook deur Roth se hele oeuvre, telkens ondergrawe, sodat sy werk ons ’n bietjie onsekerder laat, bietjie stadiger laat oordeel. Dit is miskien iets waaraan ons in ’n tyd van haastige “likes” en “dislikes” en die onnadenkende aanstuur van oorvereenvoudigde menings, meer behoefte het as ooit tevore.

Philip-roth-Plot-web

Send this to a friend