Kuns: Op-kuns

kuns op-kuns

Yaacov Agam se Galim, 1972, akriel op aluminium

Op-kuns se oogmerk is om die effek van kleur, lyn en vorm sonder enige verwysing na ’n natuurlike bron weer te gee

Deur JOHAN MYBURG

Die ontploffing wat Pop-kuns (Pop Art) in die 1950’s tot gevolg gehad het, het ook tot Op-kuns (Op Art) aanleiding gegee – met ’n verwantskap groter as net dié van die name van dié twee bewegings. Op-kuns, of optiese kuns, dikwels met ’n kinetiese kinkel, het veral op optiese effekte gefokus wat met behulp van kleur, lyn en beweging voortgebring is.

Só gestel klink dit nie na ’n “nuwe” ontwikkeling in die kunsgeskiedenis nie. Dink maar aan die pointillisme van Seurat in die era van die Impressionisme, of die kleurgebruik van die De Stijl, Bauhaus en die kleurteorie van Joseph Albers of aan die spoed en beweging wat die Futuriste probeer verbeeld het. Waarin Op-kuns uitgeblink het, was om die effek van kleur, lyn en vorm sonder enige verwysing na ’n natuurlike bron weer te gee. Wat dié beweging aangehelp het, was ontwikkelings in tegnologie en die sielkunde – veral die fisiologie en psigologie van waarneming.

Bowenal was dit die gedrag van die oog wat Opkunstenaars betower het. Die abstrakte komposisies waarmee hulle vorendag gekom het, was daarop gemik om met optiese verskynsels soos na-beelde (after images), die moiré-effek (visuele waarneming wat tot stand kom as ’n mens ’n klomp lyne of kolle bo-oor mekaar aanbring) en skrilskildering die oog te mislei of te fop. Op-kuns het nooit ’n koherente beweging geword nie en die benaming word losweg gebruik om die werk van kunstenaars soos Victor Vasarely, Jesus Rafael Soto, Yaacov Agam en Bridget Riley te beskryf. Die Hongaars-Franse kunstenaar Victor Vasarely (1906–1997) word as die baanbreker in Op-kuns gereken, en sy Zebra van 1937, ’n spel van swart en wit strepe op ’n swart agtergrond, kan as die begin van dié beweging gesien word.

LEES OOK: Kuns: Mona Lisa

In 1955 het die Franse Galerie Denise René die uitstalling Le Mouvement aangebied. Met dié galery in Parys het René Open kinetiese kuns ’n reusehupstoot gegee en daartoe bygedra dat dié kuns openbare blootstelling gekry het. Saam met Vasarely se werk is dié van Agam en Soto in die uitstalling vertoon. Jesus Rafael Soto (1923–2005), ’n Venezolaanse kunstenaar, se Penetrables (hy het 25 daarvan in sy loopbaan gemaak) is interaktiewe beelde wat uit dun pype bestaan wat in ’n vierkant van ’n plafon hang en waardeur besoekers kan loop. Sonder dié interaksie hang die dun silinders stil en kom die beeldhouwerk as ’t ware tot rus.

Die Britse kunstenaar Bridget Riley (1931–) het weliswaar in die 1950’s semiimpressionisties begin skilder en teen die einde van dié dekade pointillisties begin werk, maar in die 1960’s het sy die moontlikhede wat optiese verskynsels bied, voluit begin verken. Oor Fall, ’n werk wat sy in 1963 gemaak het, het Riley opgemerk: “Ek probeer ’n veld van visuele energie organiseer – energie wat bly toeneem totdat dit ’n uiterste spanning bereik.” In dié swart-wit werk word kurwende vertikale lyne herhaal om ’n veld van veranderende optiese frekwensies en gepaardgaande spanningskolle te verbeeld. In 1967, die jaar waarin Riley met kleur begin werk het, het sy haar eerste “streep”-skildery gemaak. Haar verkenning van kleur het toegeneem en sy het haar skilderdoeke met kleurryke mosaïekpatrone begin vul. Die Israelse kunstenaar Yaacov Agam (1928–) vereis dat die kunskyker van een kant na die ander voor sy reuse-skilderye moet beweeg om kleurryke veranderende beelde waar te neem. Iets van Hans Holbein se anamorfiese voorwerp in Die ambassadeurs kom ter sprake.

Send this to a friend