Kuns: Naaktheid in kuns

Agnolo Bronzino se Saint Sebastian, c.1533, (87 cm x 76,5cm), in die besit van die Museo Nacional Thyssen Bornemisza in Madrid, is deel van die RA se uitstallingvan Renaissancenaakfigure.

Die 15de en 16de eeu met sy herwaardering van klassieke skoonheid soos dié van die Grieke en die Romeine het die naakfiguur meteen in die kollig geplaas

Deur JOHAN MYBURG

Oor naaktheid in kuns het mense al om verskeie redes omgekrap geraak. Dink maar aan die Guerrilla Girls se proteswerk van 1989 wat nou in die Tate Britain hang: Do Women have to be naked to get into the Met Museum?Neffens die afbeelding van Ingres se La Grande Odalisque (1814), met die kop van ’n grynsende aap, pryk dié woorde: “Less than 5% of the artists in the Modern Art Sections are women, but 85% of the nudes are female.”

Dink eweso aan die Manchester-kunsmuseum in Engeland wat John William Waterhouse (1849–1917) se skildery Hylas and the Nymphs verwyder het as ’n manier – so het die museum aangevoer – om ’n gesprek aan die gang te kry oor die interpretasie van “só ’n werk” in die konteks van #MeToo en #TimesUp, veldtogte op sosiale media wat bewusmaking oor seksuele teistering en aanranding wil skep. Boonop was daar druk op die Metropolitan Museum of Art in die VSA om ’n skildery van die Frans-Poolse kunstenaar Balthus (1908–2001) te verwyder.

’n Petisie is einde November 2017 begin om die museum te dwing om die skildery Thérèse Dreaming, wat sedert 1998 in die museum hang, te verwyder. Die opsteller van die petisie het na dié skildery verwys as ’n “suggestiewe skildery van ’n meisie in haar puberteit”. Mia Merrill, die vrou wat die petisie op dreef gekry het, het onder meer aangevoer die museum is besig om “miskien onbedoeld, voyeurisme en die objektivering van kinders te bevorder”. Die Met se antwoord was eenvoudig: “Die Metropolitan se oogmerk is om belangrike kunswerke uit alle eras en kulture te versamel, te bestudeer, te beskerm en te vertoon om die publiek aan kreatiwiteit, inligting en gedagtes bloot te stel.”

Dit is in dié gees waarin die Royal Academy of Arts (RA) in Londen nie terugdeins van dié verantwoordelikhede nie, en volgende maand ’n uitstalling met die titel The Renaissance Nude aanbied. Die uitstalling, wat in samewerking met die Amerikaanse J Paul Getty-museum aangebied word, duur tot 2 Junie. Sowat 85 werke uit die Renaissance, van 1400 tot 1530, word in dié uitstalling byeengebring waarin die ontwikkeling van die naakfiguur in dié tydperk bekyk word, aan die hand van meesters soos Titiaan, Rafael, Michelangelo, Leonardo, Dürer en Cranach. Die werke sluit skilderye, miniature, beeldhouwerke en anatomiese studies in.

Die 15de en 16de eeu met sy herwaardering van klassieke skoonheid soos dié van die Grieke en die Romeine, het die naakfiguur meteen in die kollig geplaas. Tegelykertyd het die naakfiguur ’n nuwe vergestalting in Christelike kuns gebring – van die verhaal van Adam en Eva tot die kruisiging. Die kurators van die RA-uitstalling het egter as vertrekpunt besluit om eweveel naakfigure van vroue as van mans te gebruik – “’n ewewigtige verteenwoordiging van mans en vroue”, soos die RA dit gestel het.

Mens hoop dat die RA se verantwoordelikheid om kuns te bestudeer, te beskerm en te vertoon om die publiek aan kreatiwiteit en inligting bloot te stel en om horison te verbreed, sinvol kan bydra tot die heersende debatte oor verobjektivering, oor die “manlike staar” (male gaze) en oor die sentrale plek wat die man in die kunsgeskiedenis ingeneem het. En moontlik kan mens begin dink aan ’n herwaardering van die naakfiguur. Dalk is daar ’n renaissance vir die naakfiguur moontlik?

Send this to a friend