Kuns: Vincent van Gogh | Vrouekeur

Kuns: Vincent van Gogh

Wanneer ’n Van Gogh op ’n veiling aangebied word, haal dit miljoene. Sy L’Allée des Alyscamps is byvoorbeeld in 2015 vir iets soos 66 miljoen dollar verkoop

Deur JOHAN MYBURG

In sy leeftyd is Vincent van Gogh (1853–1890) nie as ’n belangrike kunstenaar gereken nie. Sy stormagtige persoonlike lewe het meer aandag getrek as sy kuns en hy het nouliks werk verkoop gekry. Op 37 het hy sy eie lewe geneem. Deesdae word Van Gogh as vername Nederlandse Post-Impressionis en een van die belangrikste invloede in die 20steeeuse kunsgeskiedenis erken. Die openbare mening oor Van Gogh en sy werk het kort voor die Eerste Wêreldoorlog ’n ander rigting ingeneem toe sy briewe in drie bande gepubliseer is. Dit was veral sy algehele vereenselwiging met sy werk as kunstenaar wat uit dié briewe geblyk het.

1934 het Irving Stone ’n biografiese roman oor Van Gogh, Lust for Life, geskryf en die verfilming van dié boek in 1956 het verder tot ’n nuwe taksering van dié kunstenaar bygedra. Die net meer as 2 000 kunswerke wat hy agtergelaat het, veral die 860 skilderye in olie, is versamelstukke waarvan talle in die versamelings van kunsmuseums opgeneem is. Van die grootste versamelings is dié van die Van Gogh-museum in Amsterdam, wat net meer as 200 van sy skilderye het, en die Kröller-Müller-museum in Otterlo in Nederland, wat bykans 100 het. Die res is wêreldwyd in museums en private versamelings versprei.

Wanneer ’n Van Gogh op ’n veiling aangebied word, haal dit miljoene. Sy L’Allée des Alyscamps is byvoorbeeld in 2015 vir iets soos 66 miljoen dollar verkoop. At Eternity’s Gate, Julian Schnabel se jongste rolprent oor sy laaste dae met Willem Dafoe in die rol van Van Gogh is verlede jaar uitgereik en vanjaar bied verskeie groot museums weer uitstallings van die werk van Vincent van Gogh aan. Die Houston-kunsmuseum in die VSA bied van Maart tot Junie ’n uitstalling aan met die titel Vincent van Gogh: His Life in Art en 35 skilderye en 15 tekeninge is vir dié uitstalling uit verskeie versamelings byeengebring.

LEES OOK: Kuns: Willem Pretorius

Tate Britain bied van Maart tot Augustus Van Gogh and Britain aan, ’n uitstalling met 45 werke wat in twee dele verdeel is. Die uitstalling fokus op die periode van 1873 tot 1876, toe Van Gogh in Engeland gewerk het, eers as kunshandelaar in Covent Garden en later as onderwyser in Ramsgate en Isleworth. Die uitstalling ondersoek die invloed van Britse kuns en letterkunde op sy loopbaan as kunstenaar, maar ook die invloed wat Van Gogh op Britse kunstenaars soos Matthew Smith, Christopher Wood, David Bomberg en Francis Bacon gehad het. At Eternity’s Gate, Van Gogh se skildery van 1890 waaraan die titel vir Schnabel se fliek ontleen is, is in dié uitstalling ingesluit.

In die Van Goghmuseum in Amsterdam is die uitstalling Van Gogh and the Sunflowers van Junie tot September te sien. Dié museum se weergawe van dié beroemde skildery (daar is nog vyf ander weergawes, in Londen, München, Philadelphia, Tokio en in ’n private versameling) is die fokuspunt, saam met 25 ander werke uit die museum se versameling met sonneblomme as motief. Van September tot Januarie 2020 bied die Noordbrabant-museum in ’s-Hertogenbosch in Nederland die uitstalling Van Gogh’s Inner Circle: Friends, Family, Models aan. Dié uitstalling sal mense in die kollig bring wat ’n belangrike rol in sy lewe en kuns gespeel het. Belangstelling in Vincent van Gogh, sy kuns én sy lewe, neem net toe. En so ook die belangrike plek wat dié kunstenaar in die wêreld van kuns inneem.

Send this to a friend