LEES & STEM (Mei 2015): Die blou baadjie

Magda Moller wikkel haar dik lyfie op maat van Loslappie terwyl sy lustig saamsing. Haar stewige regterarm probeer bybly, maar dis moeilik om ’n eetkamertafel blink te vryf teen ’n ander tempo as wat jou lyf voorskryf. Nie dat dit haar terughou nie. Die lewendige wysie is aansteeklik en die vreugdevolle ervaring om te kan leef, borrel bly in haar.

Tokkie Maré

Wat haar vriendinne en familie dronkslaan, is dat sy elke dag so is. Tuiswerk was nog nooit vir haar sleurwerk nie. Haar leuse is haar gesin kom eerste en dan haar huis en vir elke dag van haar twintig getroude jare was dit so. “Mens kan van haar vloer af eet,” het sy Amanda nou die dag hoor sê. En Gerda se stekie: “Gmf, ek sweer sy loop met ’n besem en stoflap agter haar gaste aan. Ek kan nie dink dat enigiemand daar tuis kan voel nie.”

Hieraan steur Magda haar weinig. Sy weet wat die waarheid is en dit gaan niemand anders aan nie. Hulle sal dit in elk geval nie verstaan nie. Weet nie hoe dit voel om van pleegsorg afhanklik te wees nie. Niks van jou eie te besit nie en dan nog so kort en koddig gebou te wees ook nie.

Sy was in graad tien toe die onmoontlike gebeur het. Die lang matriekseun met die swart kuif en skewe glimlag het pouse op die skooltrap by haar kom sit.

Henk van Tonder wou skaam weet of sy dalk saam met hom na sy matriekafskeid toe wil gaan.

“Ek wou jou al lankal vra, maar ek was bang jy sal nee sê,” en sy oë het bang na hare gesoek. Dit was drie-en-twintig jaar gelede.

Henk, haar tweelingdogters, Marie en Sarie, en haar huis is haar wêreld. Sy leef vir hulle en als wat sy doen is vir hulle en word met oorgawe en onbegrensde liefde gedoen.

Dit laat haar jubel en maak van die lewe ’n wonderlike fees.

“Ophou dagdroom en neem bestek,” betig sy haarself, “die meisies is netnou tuis. Laat ek sien. Die wasgoed hang, beddens is opgemaak, kamers aan die kant. Kos reg om opgesit te word. Meubels gepolitoer, nog net ’n wierts-warts hier en daar en dan kan ek my mooimaak vir Henk as hy tuiskom.” En met dié gryp sy sy blou sportbaadjie wat oor ’n sitkamerstoelleuning hang. Hy was seker maar moeg ná gisteraand se laat vergadering. Hy hang gewoonlik die baadjie in sy hangkas op totdat hy dit weer nodig het.

“’n Baadjie en das is mos nie my ding nie, pes goed wat my wurg en knel,” kla hy altyd.
Sy druk die baadjie teen haar wang, sluit haar oë en adem diep in om sy bekende reuk vas te vang.
Die sensuele geur van ’n subtiele, vreemde parfuum slaan haar asem weg. Sy voel deur sy sakke. Kry ’n pienk notatjie, toegevou. Binne ’n vrouehandskrif. Sy lees: “Dink vandag al om die uur aan my. Ek sal dieselfde doen. Jou enigste liefling.”

Lamheid neem besit van haar en sy sak verdwaas en geskok op die vloer neer.

Magda kan nie dink nie. Haar bors brand en asemhaal is ’n pynlike proses as jou hart besig is om te breek. Huil is vir haar vreemd, iets wat sy laas as kind gedoen het. Nou maak warm trane skewe riviertjies oor haar wange en dit voel of haar bors fisies uitmekaar skeur.

“Die dogters moet my nie so sien nie,’’ besef sy en sukkel orent. Sy slof badkamer toe, was haar gesig en rooigehuilde oë en voel ’n ysige kalmte oor haar kom. Dit voel of sy ’n buiteliggaamlike ondervinding het. So totaal van haarself verwyder dat haar liggaam soos dié van ’n vreemdeling voel.

Marie en Sarie kom op dié tydstip lawaaierig die huis in. Hulle stoot en stamp en giggel soos net tienermeisies kan.

Magda word gedruk en gesoen en dan is dit eensklaps doodstil.

“Ma, wat is verkeerd? “wil Marie weet. Of is dit Sarie. ’n Mens ken hulle ook nie aldag uitmekaar nie.

“Ag ek voel nie lekker nie,” skerm sy. “’n Bietjie van ’n hoofpyn, niks ernstigs nie.’’

Die meisies forseer haar kamer toe. Sy word pynpille ingejaag en met ’n kniekombersie toegemaak. Dit is ’n heeltemal onbekende ondervinding vir hulle.

Ma, siek? Voel nie lekker nie? Hulle het al hoeveel kere by Pa gehoor dat hulle ma in die drie-en-twintig jaar wat hy haar ken nog nie een siek dag geword het nie. Hulle is met reg bekommerd.

Magda lê en dink aan haar onsekere toekoms. Dis vir haar heeltemal onaanvaarbaar om vanaand of ooit weer ’n bed of kamer met Henk te deel. Maar wat gaan sy doen? Sy het presies een jaar se werksondervinding en dit was twee dekades terug. Sy het ’n mooi neseiertjie opgebou wat eintlik ’n verrassing vir Henk moes wees. Hulle wou nog altyd ’n woonwa hê en sy het byna genoeg daarvoor gespaar. Nou sal sy dit moet gebruik om van te leef tot sy werk gekry het. Vanaand sal sy ’n huurmotor kry om haar na ’n gastehuis te neem en môre sal sy skoonma Ems kontak, miskien sal sy daar kan bly totdat sy geholpe is . Hulle twee het nog altyd goed oor die weg gekom.

Magda staan op en pak ’n oornagtassie. Sy sal môre, wanneer niemand tuis is nie, die meeste van haar klere kom haal. Maar ai, wat gaan sy doen sonder haar twee lieflingkinders? En die trane dreig al weer.

Vanaand sal sy Henk moet konfronteer. Sy wil nie driftige woorde hê nie. Geen woedeuitbarstings nie, want dalk is sy die oorsaak van sy ontrouheid. Sy dink weer aan sy woorde oor die dra van ’n baadjie en das en sy weet klinkklaar dat sy die wurg en knel is waarna hy verwys het.

Een ding wat sy egter gaan doen, is om ouderling Henk van Tonder te verneder voordat sy vanaand vertrek.

Sy tel haar selfoon op en skakel. Met die derde lui antwoord dominee Gys. Hy is bly om van haar te hoor. Skort iets? Kan hy van hulp wees? Hoe gaan dit met almal? Asof hy hulle nie vier dae tevore gesien het nie. ’n Man wat sy medemens liefhet en glo in reg en geregtigheid. “Ja, Magdatjie kind, verwag my so sesuur se kant. Nee, nee, maar dankie. Ek eet al vroeg. ’n Koppie rooibos sal lekker wees.”

Die strik is gestel, dink sy bitter en begin haar gereed maak. Die oornagtassie staan gereed by die voordeur. Wanneer die huurmotor opdaag, wil sy nie draai nie, sy het gesien hoe vinnig die meter se rande kan aanrol.

Dominee is stiptelik op tyd. Magda nooi hom binne. Gee hom sy rooibostee en weier om enigiets te sê voor Henk tuis is nie. Sy hoor egter die dogters vertel dat “Ma nie lekker is nie”.

Sy hoor die motor buite en besef dat die oomblik van waarheid aangebreek het. Vanmiddag se vreessimptome knaag weer aan haar. Sal sy dit regkry om hom aan te vat? Sal sy nie week word die oomblik as hy met sy sagte oë na haar kyk nie?

Sy ruk haar reg en sê die dogters aan om hul skoolwerk te gaan klaarmaak. Sy sal hulle roep as dit tyd is vir ete.

Henk kom binne. Sy donker kuif, nou grys aan die slape, hang deurmekaar. Hy glimlag skeef vir haar en kyk vir ’n oomblik vraend as hy die predikant gewaar, dan groet hy vlugtig en vat die baadjie wat nog steeds oor die stoelleuning hang.

“Verskoon my net vir ’n oomblik, asseblief. Mike wag buite vir my. Hy het net sy baadjie kom haal. Ek het gisteraand per abuis syne gevat.”

Mike. Henk se kollega. Mike wat verlede maand getroud is met die jong vroutjie wat so lekker ruik.

Magda voel hoe die naarheid in haar opstoot. Haar bene word lam en dan word alles swart om haar.

Sy voel vaagweg hoe Henk haar sag optel soos die kosbaarste iets op aarde en versigtig kamer toe dra. Hy lê haar op die bed neer, vee haar gesig met ’n koel waslap af, soen hy haar teer op die mond.

“Asseblief, my poplap, jy moet tog nie iets oorkom nie, want sonder jou sal ek dit nooit maak nie.’’

Magda voel so tevrede soos ’n kat wat room gekry het. Dan onthou sy die predikant en die oornagtassie in die gang. Dalk sal die dogters dit verduidelik. Iets soos: “Oe, Mamma wat nooit siek word nie was rêrig nie lekker nie. Ons dink sy het slaapklere gepak vir hospitaal toe gaan.” En die dominee? Wel, dalk was sy bang sy sal doodgaan. Dalk werk sy te hard in die huis? Ons beter haar in die toekoms help.

Magda glimlag. ’n Mens mag mos droom.

Send this to a friend