LEES & STEM (Mei 2015): 911

Oulike karretjie,” kom maak ’n wildvreemde man hom sommer langs haar motorvenster tuis.

Hettie du Plessis

Lanie Malherbe klim uit. Die man gee ’n tree terug. “Meneer, ek wil nou nie ongeskik wees nie, maar ek is regtig baie haastig,” sê sy met ongeduld in haar stem terwyl sy die kar sluit en na haar goue armhorlosie kyk.

“Dan het jy beslis die regte kar, sonneblomnooi. Nul tot ’n honderd in 3,4 sekondes …” Die man rammel nog ’n klomp spesifikasies van haar geel Porsche 911 Turbo af, maar Lanie stap reeds doelgerig oor die sypaadjie na die kafee.

Die reuk van slap tjips laat Lanie gril. Sy hou niks van sulke olierige kos nie. “Net een pakkie Beechies, asseblief,” vra Lanie vir die winkelassistent.

“Het Mevrou geweet kougom laat mens beter konsentreer?” maak die winkelassistent geselsies terwyl hy die Beechies oplui.

“Mejuffrou! En nee, ek het nie geweet nie, maar dit is baie goed, want vandag het ek al die konsentrasie … aag liewe hemel, wat maak die verdomde man nog daar?” val Lanie haarself in die rede toe sy opkyk en die man nog om haar kar sien hang. “Dankie, jong, lekker dag,” groet sy die winkelassistent en stap haastig by die kafee uit.

“Wat is jou probleem?” vra sy, teen dié tyd gewoond aan die ongevraagde aandag wat haar sportmotor uitlok.

Die man trek sy skouers op en rol sy onderlip om. “Wanneer vat jy my bietjie vir ’n spin?” vra hy ongeërg.

“Wat van jy pasop voordat ek ’n spin bo-oor jou vat?” dreig sy vies en klim in haar kar. Lanie rev die kar ekstra hard om hom af te skrik.

“My naam is Francois, by the way!” skree hy nog agterna toe sy in volle vaart wegtrek.

Op die reguit pad sit sy voet in die hoek. Die dorp in haar truspieëltjie en gelukkig ook die simpel mansmens, raak vinnig klein en word dan deur die horison ingesluk. Selfs die lekkerkryvlinders in Lanie se maag sukkel om by haar spoed te hou! Die gear lever is haar septer en op hierdie pad regeer sý!

Die pad raak stil en Lanie begin haarself hardop, en oudergewoonte in die derdepersoon, motiveer vir haar vergadering.

“Lanie Malherbe, hierdie deal kan baie deure vir jou oopmaak. Jy is gereed vir die uitdaging en jy wéét waarvan jy praat.” Sy knik vir haarself in die truspieëltjie. “Daardie omies in hul potloodstreeppakke en sigaarreuke skrik jou nie af nie.”

Lanie skakel die radio aan. Sakenuus. Sy léwe vir die aandelemark. Jy moet net wéét wanneer om te koop en wanneer om te verkoop, dink Lanie by haarself. Dis nie van veilig speel dat sy hét wat sy vandag het nie. Dis van waag en wen. Ingeligde besluite, maar …

“Waaghalsig!” skree Lanie laggend toe sy sien hoe ’n rooi Lamborghini Reventon probeer om haar verby te steek. Dis nie enige man wat haar en haar Porsche op die oop pad aanvat nie, maar dis ook nie elke dag dat jy ’n Lamborghini in hierdie geweste sien nie.

Sy hou hom gefassineerd in haar spieëltjies dop en giggel toe sy sien hoe hy sukkel om verby te kom. Die plesier slaan in knoppies op haar voorarms uit.

And that’s why they call me Queen of the road” sing sy selfvoldaan haar eie opgemaakte woorde op die wysie van die gewilde Roger Miller-treffer.

Die Lamborghini ry in die regterbaan, maar kom nie verby nie. Daar is ’n effense hoogte voor in die pad. Lanie raak onrustig en verminder spoed.

Sy word yskoud toe sy weer voor haar kyk en sien hoe ’n grysvaal Volkswagen Jetta van voor af oor die hoogte verskyn. Sy verminder heelwat spoed en trek van die pad af tot op die gruis.

Die Lamborghini se bande skree soos die man rem trap. Die Volkswagen swaai uit.

Dis asof sy in ’n fliek is. ’n 3D-fliek. Sy versteen.

Daar is ’n oorverdowende slag. Metaal kerm en kraak. Glasstukke spat. Gille van angs word gille van pyn. Lanie sit in die voorste ry van die fliek. Alles gebeur in slow motion om haar, maar sy is nie deel daarvan nie. Die twee voertuie swaai oor die pad, elkeen in sy eie koers.
Dan is dit stil.

’n Wit rookwolk hang dig oor die pad. Dit verbloem die skade. Lanie se hart klop in haar keel en in haar ore. Sy kan niks anders hoor nie. Sy maak haar gordel los en begin hardloop. Die wêreld staan stil. Sy sien hoe ’n kaalkop man uit die Lamborghini klim en met iemand op sy selfoon staan en praat.

“Lummel,” mompel sy vies. Sy sien geen beweging oorkant die pad in die Jetta nie. Sy hardloop daarheen en swik haar enkel toe die hak van haar een skoen breek. Lanie val op die teerpad neer.

Met die opstaanslag sien sy haar knieë en hande is nerf-af, maar sy stof haar hande af, skop die skoene vieserig uit en draf tot by die Jetta.

Die bestuurder van die voertuig staan by een van die agterste deure waar hy ’n histeriese dogtertjie uit haar stoeltjie haal en probeer paai.

Lanie maak die anderkantste deur oop en probeer die seuntjie losmaak. Hy skree egter nog harder.

“Los eerder, hy hou nie van vreemde mense nie. Ek sal nou … my vrou …” trane loop oor sy wange.

Die Lamborghini het die Jetta voor teen die passasierskant getref. ’n Vrou lê met haar kop teen die venster, duidelik bewusteloos. Daar is baie bloed aan haar gesig. Lanie sluk hard. Trane brand agter in haar oogbanke tot in haar keel.

Sy word oorweldig deur ’n onbekende emosie. Sy móét hierdie vrou help. Sy vergeet van haar afspraak. Sy vergeet van haar haar nerf-af knieë en stukkende hande. Sy vergeet van haar mooi klere en haar luukse kar. Sy móét net hierdie vrou help.

Asof die man haar gedagtes kan lees, smeek hy: “Vat haar hospitaal toe, asseblief? Jy sal haar baie vinniger by ? hospitaal kan kry as enige ambulans wat nou eers uitgestuur word.”

Hy help vir Lanie om sy vrou in die Porsche te laai. “My broer sal my en die kinders kom help. Ry dat jy by die hospitaal kom,” sê-vra hy met ’n pleitende stem.

Lanie knik. Vir eens kan sy die spoed vir ’n goeie doel aanwend. Die paar kilometer tot in die volgende dorp voel soos ’n ewigheid, selfs in ? sportmotor! Sy kyk na die bewustelose vrou langs haar.

“Asseblief, leef? Jou kinders het jou nodig,” fluister Lanie.

Lanie sit in die wagkamer. Sy het merkurochroom by die hospitaal se apteek gekoop en lyk vir haarself soos ? laerskooldogtertjie met die rooi knieë en hande. Dit het daai tyd gewerk, dit sal nou ook werk, troos sy haarself. Sanet is in die teater. Lanie bel een van die potloodstreep-omies om te laat weet dat sy waarskynlik nie by die vergadering sal uitkom nie. Dit voel vreemd, maar goed. Sy gee nie regtig meer om oor die deal nie.

’n Rukkie later storm die Jetta-man by die hospital in. “Waar is sy?” vra hy sonder om te groet en ná aan trane.

“Nog in die teater. Ek het nie vanoggend reguit gedink nie. Die suster sê mens skuif nooit iemand op ’n ongelukstoneel nie. Sy kon verlam … die X-strale … sy … haar rug is oukei. Dis net die hoofbesering,” verduidelik Lanie.

’n Vreemde man sluit by hulle aan. “Pieter, haai, is daar al nuus?” groet hy.

Lanie herken die man. Aag liewe hemel, nie alweer hý nie, dink Lanie toe sy besef dit is die man van die kafee, maar glimlag vriendelik om Pieter en die kinders se onthalwe.

“Dit is my broer, Francois,” stel Pieter die goedgeboude donkerkop by hom voor.

“Ons het al ontmoet, of hoe, sonneblomnooi?” sê Francois.

Daar is ’n ongemaklike oomblik en Lanie bly eerder stil. Hoe kan die man so ongevoelig wees, wonder Lanie. Om haar naampies te noem, terwyl sy skoonsuster …

Francois gaan sit langs Lanie met Johané op sy skoot. Haar gesiggie is vuil, met silwerskoon traanpaadjies oor haar wange. Gertjie sit langs sy oom. Pieter kom sit ook by hulle en begin vorms invul.

“Meneer Visagie, die dokter sal u en u kinders nou sien,” sê ’n verpleegster ’n rukkie later. Lanie en Francois bly alleen in die wagkamer agter.

Teen die aansteekbord is ’n noodnommer wat Lanie se oog vang. “Hoe ironies. Niemand het vandag nodig gehad om 082 911 te bel nie, want ek en my 911 was eerste op die toneel,” sê sy ongemaklik vir die man wie sy vroeër so uitgetrap het.

“Sonneblomnooi, ons het dalk vanoggend op die verkeerde voet weggespring. Kan ons oor begin?” vra Francois met ’n opregtheid wat Lanie se hart ruk.

“Sê my eers hoekom noem jy my sonneblomnooi?” vra Lanie nuuskierig.

“Net ’n sonneblomnooi sal só ’n goudgeel kar ry. Iemand wat altyd haar kop hoog hou, gedraai na die son,” verduidelik Francois en Lanie voel hoe haar hart smelt.

Send this to a friend