Ma van die Jaar: ’n Geskenk vir altyd

ma_van_die_jaar

Zerelda Esterhuizen

Ek onthou dit so goed. Elke Saterdagoggend het my ma my en my boetie (later boeties) na die Goodwood-biblioteek gevat. Met ’n vinnige “hallo” vir die vriendelike biblioteektannies, ons verweerde, papgedrukte blou biblioteekkaartjies in ons hande, is ons reguit na die kinderafdeling waar rye en rye boeke op ons gewag het.

Die rustigheid van daai vertrekke … Die reuk van derduisende blaaie in ons neuse. In die Kaapse winters het ons eers ons reënjassies opgehang, my rooi-en-wit sambreeltjie eenkant gesit en is dan reguit boeke toe waar ons tussen die blaaie verlore geraak het terwyl die sagte reën op die dak neergesif het. Niks kon ons van ons Saterdaguitstappie weghou nie. My ma is dan terstond na die grootmensafdeling terwyl ek en my boetie Richard Scarry se vrolike dierekarakters ontdek het en latere jare onder meer die Valke-, Trompie-, Saartjie- en Maasdorp-reekse verslind het. Dit was ’n groot besluit daar tussen die rakke, want wat ’n keuse om te maak? Ek sou die meeste nog dieselfde naweek klaar lees. Daarna my broer s’n en daarna my ma s’n voor dit weer tyd vir die volgende uitstappie was. Ek het saam met karakters gehuil, gelag en was saam met hulle na opwindende wêrelddele verplaas. Dit was ’n band wat my en my mense saamgesnoer het.

Ons het later Gauteng toe getrek en weer ’n nuwe verhouding met ’n biblioteek opgebou. Boeke was altyd deel van ons lewe en daai liefde vir woorde het gebly en vandag het ek die wonderlike voorreg om met woorde te werk.

Ek het nou die dag weer aan daai kosbare dae gedink en al die boeke wat ek al gelees het en besef, ek kan, nee ek moet, dieselfde vir my kinders doen. My kollega, Christa Swanepoel, het ’n maand of wat gelede ’n oulike blog geskryf oor hoe haar kleinkinders haar sal onthou. Hoe gaan jou kinders jou onthou? Hoe gaan my kinders my onthou? Hopelik nie as die ma wat altyd vergeet het om wedstrydklere in te pak, raas oor rooi koeldrank op die kombuisvloer en soms kos van ’n onherkenbare karakter maak nie. Ek kom agter hoe ouer ek raak hoe meer begin ek soos ’n selfhelpboek klink. En hoe hard ek ook al daarteen rebelleer om die “beste ek te wees, wat ek kan wees”, begin ek tog dink aan hoe ek ’n gehaltelewe kan lei en gehaltetyd met my mense kan deurbring.

My jongste vra my nou al ’n week of twee (of drie) wanneer ons weer met ons labrador gaan stap. My verskonings wissel van “ek moet kosmaak” tot “dis te koud” of “Batman het die parkie nodig vir ’n groot missie en daar mag geen kinders of honde naby wees nie”. Daar is altyd iets om aan aandag te gee. Maar wat soek kinders eintlik? Net ons. Gehaltetyd. Tyd om na hul stories te luister, te luister na die jongste dramas wat graadeendogtertjies deurgaan en na my kleinste wat ’n geweer soek wat “Bwa!Boom!Dwa!” maak.

Ek is so trots dat my oudste nou begin lees, woordjies herken en van boeke en stories hou. Ek wil vir haar ook so ’n wêreld oopmaak soos wat my ma vir my gedoen het. Ek weet biblioteke word nie meer so wyd ondersteun nie, maar een van die dae gaan my kinders biblioteekkaartjies met hul name op hê. En dan gaan ons ook daarheen gaan en hulle gaan tussen die rakke verdwyn met die reuk van jare se boeke wat daar skuil. Boeke vol geheimenisse wat hulle gaan blootstel aan plekke en mense waarvan hulle nog nooit gehoor het nie. En dit is ’n geskenk vir lewenslank.

Send this to a friend