Komponiste om van kennis te neem | Vrouekeur

Komponiste om van kennis te neem

L’Orfeo, Claudio Monteverdi (1567-1643) se musiekdrama geskoei op die Griekse legende van Orfeus wat na die doderyk gaan om Euridice terug te bring na die wêreld van die lewendes, was nie die eerste opera nie, maar is wel die oudste opera wat in geheel behoue gebly het.

Johan Myburg

Voorlopers van opera

Musici soos Jacopo Peri (1561-1633), Giulio Caccini (1551-1618) en Emilio de’ Cavalieri (1550-1602) het geëksprimenteer met ’n sangvorm wat iewers tussen resitasie en sang is. Caccini en Cavalieri het madrigale vir dié doel ingespan hoewel Peri met die sogenaamde resitatiewe styl (’n musikale verteltrant) vorendag gekom.

Met die toevoeging van ornamentasies het musiek vir die verhoog gaandeweg ’n al groter moontlikheid geword.

In 1600 het Peri Euridice, ’n werk van die digter Ottavio Rinuccini in Florence aangebied. Van dié klassieke mitologie was daar benewens Peri se L’Euridice (1600), ook Caccini se Euridice (1602), Domenico Belli se Orfeo dolente (1616), Stefano Landi se La morte d’Orfeo (1619) en Heinrich Schütz se Orpheus und Euridice (1638).

Monteverdi se onderwerpkeuse vir sy musiekdrama – die term “opera” het eers teen die middel van die 17de eeu in gebruik gekom – was dus nie vreemd nie.

Monteverdi en die madrigale

Tot en met 1607 was Monteverdi bekend as komponis vir kerkmusiek en madrigale waarin hy ruim bygedra het tot die ontwikkeling van 16de-eeuse polifoniese musiek.

Sy Vespers of te wel Vespro della Beata Vergine (1610) is aanduiding van Monteverdi se onwrikbare geloof dat musiek daarin kan slaag om uitdrukking te gee aan die spektrum van emosies. Dié dramatisering van kerkmusiek het ’n piek gehad in byvoorbeeld Beethoven se Missa solemnis.

Luister na Claudio Monteverdi se Vespers soos uitgevoer deur John Eliot Gardiner met die Monteverdi-koor, die Engelse Barok-soliste en soliste in die Versailles-paleis in Parys.

[iframe width=”350″ height=”197″ src=”https://www.youtube.com/embed/S99FCAFNgaA?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

Die madrigaal, ’n meerstemmige lied, gewoonlik ’n toonsetting van ’n kort gedig, was die belangrikste genre in sekulêre Italiaanse musiek van die 16de eeu. Sy eerste vyf boeke met madrigale, geskryf tussen 1587 en 1605, het ’n ereplek in die musiekgeskiedenis.

‘L’Orfeo’ en latere operas

In sy L’Orfeo het Monteverdi het gebruik gemaak van solo airs, duette, madrigaalagtige ensembles en danse as ’n kontras vir die resitatiewe om die verhaal te vertel van Orfeus wat sy geliefde uit die doderyk na die lewe terug bring.

Die première van L’Orfeo, favola in musica (musikale fabel) het plaasgevind tydens die karnaval in Mantua waar hy eers as sanger en vioolspeler en later as musiekmeester gewerk het aan die hof van Vincenzo I van Gongoza.

Nikolaus Harnoncourt is een van die voorste eksponente van die musiek van Claudio Monteverdi. Dié opname van L’Orfeo is in 1978 in Zürich gemaak.

[iframe width=”350″ height=”263″ src=”https://www.youtube.com/embed/uJ_mjTTDM5A?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

As jy net na ’n uittreksel uit L’Orfeo wil luister, is Rolando Villazon se “Tu se’ morta” (vry vertaal as “Jy, wat my lewe is, is dood terwyl ek nog asem haal”) uit die tweede bedryf dalk ’n goeie beginpunt.

[iframe width=”350″ height=”263″ src=”https://www.youtube.com/embed/btynSxzbbh8?rel=0″ frameborder=”0″ allowfullscreen=””]

In 1610 is Monteverdi Rome toe waar hy gehoop het om sy musiek voor te dra aan pous Paulus V. Dié geleentheid het hy nooit gekry nie. Van daar is hy in 1613 na San Marco in Venesië waar hy as dirigent aangestel is.

In 1632 het hy priester geword.

Sy laaste twee werke waarvoor hy onthou word, is Il ritorno d ‘Ulisse in patria (Die terugkeer van Odysseus), 1641, en die historiese opera L‘incoronazione di Poppea (Die kroning van Poppea), 1642, geskoei op die lewe van die Romeinse keiser Nero.

Laasgenoemde word gereken as die kroon op Monteverdi se werk. Benewens tragiese en romantiese oomblikke bevat dié opera ook komiese elemente, ’n verdere ontwikkeling in die opera-genre. In dié opera is die karakterisering ook natuurliker en die musiek warmer.

Teen die helfte van die 17de eeu was opera ’n gewilde musiekvorm in Venesië en die stad het met tientalle operahuise gespog.

Hoewel Monteverdi die eerste komponis was wat die volle dramatiese en musikale potensiaal van die genre nagestreef het, het sy musiek ná sy dood in 1643 in vergetelheid geraak.

In die vroeë 20ste eeu het belangstelling in sy werk herleef en Igor Strawinski het byvoorbeeld Monteverdi se madrigale hoog aangeskryf.

Monteverdi op CD

Monteverdi se L'Orfeo
CD-omslag by ‘Monteverdi op CD’

Monteverdi: Orfeo is twee CD’s met John Eliot Gardiner en die English Baroque Soloists. Onder die soliste is die mezzosopraan Anne Sofie von Otter en die tenoor Mark Tucker. Archiv Produktion ‎– 419 250-2.

Send this to a friend