ONS GESELS MET: CHRISTINE BARKHUIZEN-LE ROUX

Nege vrae aan Christine Barkhuizen-Le Roux wie se jongste roman, Drieklawerblaar, pas by Human & Rousseau verskyn het:

 

 christine_barkhuizen

Hoeveel ongepubliseerde manuskripte lê in jou lessenaarlaai?

Geen ongepubliseerde manuskripte in my laai nie, maar wel ’n paar in die lêers in my kop …

Is daar ’n tema wat jy graag wil ontgin, maar nog nie weet hoe om aan te pak nie?

Ja, daar is so ’n tema – maar hy moet nog in die baarmoeder bly. (Ek doen so af en toe ’n sonar om te kyk hoe dit vorder.)

Wat is die belangrikste les wat die skryfproses jou al geleer het?

Dat dit regtig baie harde werk is; dat jy die moed moet hê om aan te hou; en dat die enigste ding wat erger is as om te skryf, is om nié te skryf nie.

Wat lê op jou bedkassie?

Geagte Jahwe van Willie Esterhuyse; Het lot van de familie Meijer van Charles Lewinsky; altyd een of ander boek van Carmigggelt; Iris van John Bayley; The Kabbalah Book van Mark Elber; My name is Red van Orhan Pamuk; Candide van Voltaire en De hormoonfabriek van Saskia Goldsmith.

Na watter skrywers kyk jy op en wie se woorde vul jou met heimwee?

Ek kyk wel op na die meesters wat my “opgelei” en “begelei” het: Hans du Plessis, Braam de Vries, Etienne van Heerden, Wium van Zyl. En dan skrywers soos Charles Lewinsky, Jeroen Brouwers (wonderlik!) Elsa Joubert …

Toe ek destyds Hierdie lewe van Karel Schoeman gelees het, het dié reël my diep getref: “Die verlede is ’n ander land, waar is die pad wat soontoe loop?” En dan is daar ’n aanhaling van Oriah Mountain Dreamer wat my ontroer: “If we are strong enough to be weak enough, we are given a wound that never heals. It is the gift that keeps the heart open.”

Wat gee jou die grootste vreugde as skrywer?

Ek wil nooit daaraan dink dat “ek skryf vir ’n prys” nie. Die euforie van só iets verdamp baie gou. My innigste dankbaarheid kom wanneer iemand vir my sê: “Jou verhaal het vir my soveel beteken. Nou weet ek, ek is nie die enigste een op hierdie wêreld wat só voel nie.”

’n Aantal jare gelede, nadat Padmaker verskyn het, het ’n ouer vrou met ’n doktorsgraad in die letterkunde my gebel. Sy het begin om te vertel van die doktorsgraad en gesê sy moet dit bysê, want sy wil ook sê: “Dit het my nie gelukkig gemaak nie – my ma het my nooit op die skoot getel of vasgehou nie.” Ek het gehoor hoe sy sukkel om nie te huil nie; aan hierdie kant van die draad, het daar ook trane oor my wange geloop. Hoe goed het ek dit nie verstaan nie.

CS Lewis sê in Shadowlands deur die stem van ’n student: “We read to know we’re not alone” en ek, ek skryf om te weet: ek is nie alleen nie. Daar buite is daar baie meer soos ek.

En dan is daar die onverwagte “vreemde” dinge wat met my gebeur en ’n pad inwring in ’n verhaal, omdat dit absoluut daar pás! Só byvoorbeeld ontdek ek met die heel laaste deurwerk van die drukproewe dat die siekte wat Gabriël van Oudtshoorn se proteas tot niet gemaak het, presies dieselfde ding is as wat destyds in Ierland die Potato Famine veroorsaak het! Soms dink ek daar is baie raars met my, want daar gebeur wonderbaarlike goed op my pad, en ek ontmoet mense wat “toevallig” presies in die roman hoort.

Het jy ’n skryfroetine?

Ek skryf in ’n kamer waar die lig oor die rantjies oor my rug val – op ’n bed, met kussings agter my rug, en die “skoot”rekenaar op my skoot, en al my aantekeninge rondom my gestrooi. Ek het nog nie iemand anders gesien wat soveel chaos met boeke en papiere al om hom kan maak nie.

Ek het nie ’n vaste roetine nie – of vaste ure nie. Dit hang af van waar ek my in die verhaal bevind. Hoe nader na die einde toe, hoe meer ure per dag. Soms agt tot tien uur.

Die uitdrukkings van die plaaswerkers, Bettie en Maatjie, is so oorspronklik, waar kom jy daaraan?

Die “sieal” is ’n ou bestaande uitdrukking wat mense gebruik het wanneer hulle gepraat het van iemand wat in die toekoms kan sien, of die bonatuurlike kan ervaar. Die “mieliepapwit” het sommer by my opgekom, en die “smirrae langbeen sit” ook, maar dis soos wat ek die plaasvroue soms sien sit, en dit pas net so daarby. Daar is egter ander uitdrukkings wat eg aan hierdie wêreld se mense is, wat ek ook ingesluit het.

Send this to a friend